Prins Harry en Meghan Markle, hertogin van Sussex, het berigte ontken dat hulle aan ’n Netflix-realiteitsreeks gaan deelneem.
Die paartjie, wat onlangs ’n ooreenkoms met die stromingsplatform onderteken het, hou vol slegs twee programme word beplan en dit is ’n natuur-dokumentêre-reeks en animasiereeks wat hulde bring aan inspirerende vroue.
’n Woordvoerder het aan Sky News gesê daar steek geen waarheid in berigte in Britse poniekoerante dat die egpaar soos die bekende Kardashian-familie kameras in hul huis gaan toelaat nie.
Verdere inligting oor wat die twee programme behels word egter nog geheim gehou.
Dit was egter duidelik gemaak dat die egpaar agter die kameras sal bly, maar volgens onlangse berigte in The Sun waarvan die bronne nie bekend gemaak is nie, wil Markle hê die wêreld moet “die ware sy” sien.
Daarna het Daily Mail berig die Sussexse het baie video’s van hul lewe tuis in die tyd toe hulle Brittanje verlaat het, en dit was deel van die ooreenkoms met Netflix dat hulle ’n soort dokumentêr oor hul lewe agter die skerms maak. Sommige raam die ooreenkoms op $100 miljoen.
Die egpaar het nog nie hierop gereageer nie.

Chris Ship, ITV se redakteur wat oor die Britse koningshuis berig, se twiet oor die kwessie. Foto: Twitter/Chrisshipitv