Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry en Meghan skop (1ste) eie nes

Met al die aandag op Finding Freedom, die blitsverkoperboek oor prins Harry en Meghan se romanse en tyd as senior koninklikes, het die paartjie reeds weke gelede stil-stil in ’n nuwe huis in Amerika nesgeskop.

Die twee het in Julie ingetrek in die eerste huis wat hulle saam gekoop het. Die huis is in Santa Barbara, waar ander bekendes soos Ellen Degeneres en Oprah Winfrey ook pragwonings het.

Volgens ’n woordvoerder van die Sussexe hoop hulle die stille privaatheid in hul gemeenskap word vir hul onthalwe en dié van hul bure gerespekteer.

Nadat hulle tydelik op Vancouver-eiland aan die Kanadese weskus gewoon het, het hulle weens die koronaviruspandemie en die sluit van die grense tussen Amerika en Kanada 12 weke tydelik in ’n miljoenêrswoning van Tyler Perry in Beverly Hills, Los Angeles, gewoon. Hoewel skerms om die huis aangebring is teen die langlense van steelfotograwe, is daar met hommeltuie en selfs ’n helikopter oor die huis gevlieg. Steelfoto’s is van Harry bekom en ook van sy en Meghan se seuntjie, Archie, terwyl sy ouma Doria Ragland hom in ’n speelding rondstoot.

Ragland woon in Los Angeles.

Meghan en Harry het ná hul besluit in Januarie om as senior koninklikes terug te staan en hul heil in Amerika te soek besluit om hul Britse woning, Frogmore Cottage, as basis in Brittanje te behou. Hulle sal ook die verbouings van miljoene pond, wat bestee is om die huis geskik vir hul behoeftes te maak, terugbetaal.

Hoewel Meghan in ’n huurhuis in Toronto, Kanada, gewoon het terwyl sy aan die TV-reeks Suits verfilm het en saam met Harry in Nottingham Cottage binne die Kensington-paleis-kompleks én Frogmore Cottage gewoon het, is die huis in Santa Barbara hul eerste gesamentlike tuiste wat hulle met hul eie geld gekoop het.

Finding Freedom, die nie-amptelike biografie deur die koninklike skrywers Omid Scobie en Carolyn Durand, beklee tans die topposisie van topverkopers.

Die boek is Dinsdag amptelik uitgereik, hoewel verskeie hoofstukke in die Britse Times en Sunday Times gepubliseer is.

Hoewel die Sussexe ontken dat hulle onderhoude aan die skrywers toegestaan het, bevat die boek besonderhede wat nie algemeen bekend is nie en word vermoed dat die egpaar hul vriende toestemming gegee het om oor hulle met die skrywers te praat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.