Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry en Meghan stuur skeidingsbrief aan poniepers

Prins Harry en Meghan het bande verbreek met van die grootste poniekoerante in Brittanje en gesê dat hulle sal nie weer met dié koerante saamwerk nie en het ’n nuwe mediabeleid uitgestippel.

Financial Times berig die hertog en hertogin van Sussex, wat einde verlede maand van hul werk as senior koninklikes afstand gedoen het, het Sondagaand die brief aan die redakteurs van The Sun, Daily Mail, Daily Express en Daily Mirror gestuur, waarin hulle hul nuwe beleid uiteengesit het.

In die sterk bewoorde brief sê die Sussexe dat hulle van nou af “nie op enige navrae van joernaliste wat by die betrokke koerante werk, sal reageer nie”. Hulle sal slegs deur hul regsverteenwoordigers reageer indien nodig.

Die Financial Times-joernalis, Mark di Stefano, het ook die brief op Twitter gedeel.

Die egpaar se nuwe beleid is onmiddellik van krag, berig ITV News.

Hulle sal steeds met Britse uitsaaiers, soos ITV News en die BBC werk, en belangrike koeranttitels soos The Telegraph, Times, The Guardian en Financial Times saamwerk.

The Guardian berig die egpaar het glo die stap gedoen om die publiek te probeer oortuig om nie enige berigte oor hulle wat deur die Britse poniepers gepubliseer word, te glo nie.

Prins Harry in Londen op 28 Februarie vanjaar. Foto: Reuters

Die brief kom ook te midde van ’n voortslepende hofsaak tussen Meghan en Associated Newspapers Limited, die uitgewer van Daily Mail en Mail on Sunday, oor die publikasie van ’n handgeskrewe brief wat Meghan aan haar pa gestuur het.

Soos vroeër berig, het The Mailon Sunday in aanloop tot die koninklike troue verskeie stories oor Meghan en haar pa, Thomas, gepubliseer.

Hulle beskuldig die betrokke koerante in die brief daarvan dat hulle berigte plaas wat hulle weet vals, verdraai en bo redelike twyfel inbreuk op hul lewens maak, en sê hulle sal nie meer toelaat dat hulle deur middel van klikaas en verdraaiings vir geldelike gewin misbruik word nie.

Hulle beklemtoon dat hulle glo dat die vryheid van die pers ’n hoeksteen van enige demokrasie – veral in oomblikke van krisis – is.

“Op sy beste skyn hierdie vrye pers lig op donker plekke en vertel stories wat andersins nooit vertel sou word nie, staan op vir wat reg is, daag mag uit en hou diegene wat die stelsel misbruik, aanspreeklik,” lui die brief.

Die egpaar sê hul beleid het nie ten doel om kritiek te voorkom nie.

“Dit gaan nie daaroor om die openbare gesprek te staak of oor die sensuur van akkurate verslaggewing nie. Die media het alle reg om verslag te doen, en het inderdaad ’n mening oor die hertog en hertogin van Sussex – goed of sleg. Maar dit kan nie op ’n leuen gegrond wees nie.”

Prins Harry en Meghan op ’n besoek aan Londen in Januarie vanjaar. Foto: Reuters

Hulle het ook beklemtoon dat hul beleid nie vir alle media geld nie.

“Die hertog en hertogin van Sussex sien uit daarna om met joernaliste en media-organisasies van oor die wêreld heen saam te werk en by voetsoolvlak-media, streek- en plaaslike media, asook jong, opkomende joernaliste betrokke te raak om kwessies in die kollig te plaas wat dringend aandag moet geniet.”

The Guardian berig verder die egpaar se verbod is ook van toepassing op die poniekoerante se Sondag-uitgawes en hul webwerwe.

Harry en Meghan het dit ook vroeër duidelik gestel dat hulle beswaar maak teen die wyse waarop die Daily Mail se susterpublikasie MailOnline – wat ’n enorme gehoor in Amerika het – en Piers Morgan, vir die publikasie, veral snedig oor hulle berig.

Dit is die jongste in ’n reeks verklarings wat die egpaar teen die Britse poniekoerante gemaak het, berig Financial Times.

Soos vroeër berig het Harry verlede jaar die mediadekking van Meghan vergelyk met hoe die poniekoerante oor sy ma verslag gedoen het.

“Ek het my ma verloor en nou sien ek hoe my vrou die slagoffer van dieselfde magtige kragte word.”

BBC het die volledige verklaring op sy webtuiste gedeel.


Meer oor:  Koninklike Familie  |  Meghan Markle  |  Media  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.