Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry en Meghan ‘wil bou aan nuwe model vir koningshuis’
Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry Dinsdag tydens hul besoek aan Kanadahuis in Londen. Dit was hul eerste verskyning in die openbaar ná hul lang vakansie in Kanada. Foto: Reuters

Koninklike innoveerders of koninklike rebelle?

Dié vraag bied tans geen klinkklare antwoord nie, hoewel daar legio verduidelikings is oor wat Woensdagaand tot prins Harry en sy vrou, Meghan, se skokaankondiging gelei het dat hulle as senior koninklikes terugstaan en voortaan op twee vastelande gaan bly.

Die paartjie se ongelukkigheid met die fel mediakollig en “onjuiste beriggewing” was reeds duidelik in die TV-dokumentêr van ITV se Tom Bradby, Harry and Meghan: An African Adventure.

In die dokkie sê ’n amper tranerige Meghan min mense vra haar hoe dit met haar gaan en dat sy sukkel met die aandag van veral die Britse poniepers.

Bradby het ook nie veel moeite gehad om Harry se ongelukkigheid met die pers en sy stram verhouding met William bloot te lê nie. Harry het op kamera gesê elke keer as ’n kamera se flitslig afgaan, hy die trauma ervaar van waardeur sy ma, Diana, is en dat hy nie dieselfde dodelike speletjie met die media as sy ma gaan speel nie.

Dié dokkie is verlede jaar verfilm toe die Sussexe Suider-Afrika besoek het.

Bradby, wat oor die jare heen ’n vriendskaplike verhouding met sowel Harry as William opgebou het, sê hy meen Harry en Meghan “het gespring” voordat hulle uit die koningshuis gestoot kon word. “Die paartjie wou terugkom (na Brittanje) en met die familie praat oor hul planne. Dit is egter tydens hul afwesigheid duidelik aan hulle gemaak dat die monargie verklein gaan word en dat hulle nie regtig deel daarvan sal wees nie.”

Bradby meen dinge kan verder versleg indien ’n “vredesooreenkoms” nie gesluit word nie. “Baie dinge is oor die troue gesê. Daar was hele paar uitvalle. Die familie ervaar Harry en Meghan as ‘moeilik’ terwyl hulle voel hulle word uitgedryf.”

Prins Charles het dit egter nog altyd duidelik gemaak dat sy planne albei sy seuns én hul gesinne insluit. (Charles se hoofrede vir minder werkende koninklikes is bloot om koste te bespaar.)

Koningin Elizabeth het tydens haar Kersfeestoespraak verlede jaar nie ’n foto van die Sussexe op haar lessenaar gehad soos die vorige jaar nie. Foto: Getty Images

Die koninklike korrespondent Chris Ship van ITV, sê die foto van koningin Elizabeth en haar drie troonopvolgers wat met die aanbreek van die nuwe dekade uitgereik is, was die spreekwoordelike laaste druppel wat die water in die kristalglas laat oorloop het. Daarby het koningin Elizabeth ook nie ’n foto van die Sussexe op haar lessenaar gehad toe haar gebruiklike Kersdagboodskap verlede jaar opgeneem is nie.

Of die Sussexe gevoel het twee foto’s is tekenend van hul rol in die koningshuis, is ’n ope vraag, maar wat wel duidelik is, is dat die topdrie koninklikes bewus was dat iets broei en dat koningin Elizabeth Harry versoek het om nie sy planne bekend te maak nie.

Die koningin se versoek is geïgnoreer. Toe die Britse poniekoerant The Sun Woensdag berig Harry en Meghan wil as senior koninklikes terugtree, is nie net die Sussexe se mediaverklaring uitgereik nie, maar is hul nuwe webwerf met hul “abdikasieverklaring” ook onthul.

Die sussexroyal.com-domein is reeds tien maande gelede geskep en die webwerf is ontwerp deur dieselfde maatskappy wat Meghan se gewilde leefstylblog The Tig ontwerp het. Dié konneksie kan vertolk word dat Meghan, wat haar op The Tig oor enigiets van joga tot vroueregte uitgespreek het, binnekort kan herleef.

Meghan se besluit om Donderdagaand met ’n vlug van British Airways na Kanada en hul seun, Archie, terug te keer, was Vrydagoggend voorbladnuus in Brittanje.
Die Londense ‘Evening Standard’ se voorblad Vrydagaand waarin geskryf word Harry en Meghan wil ’n nuwe model vir die koningshuis skep.
Koningin Elizabeth se opdrag aan prins Charles, prins William, prins Harry en hul onderskeie spanne om ’n oplossing te vind was Donderdagaand voorbladnuus in Brittanje.

Terwyl raadgewers in opdrag van die koningin so vinnig moontlik ’n plan probeer uitwerk wat Harry en Meghan ’n mate van vryheid sal gee, maar nog deel van die koningsgesin sal hou, meen nóg ’n koninklike kenner en korrespondent, Robert Jobson, dat Harry en Meghan hulself as koninklike “ontwrigters” beskou wat ’n nuwe model vir die koningshuis vir die 21ste eeu kan ontwikkel. In sake-teorie is ’n “ontwrigter” iets wat ’n nuwe mark en waardenetwerk skep en so die bestaande mark verplaas.

Volgens Evening Standard is die twee gretig om ’n nuwe model te skep.

Harry, wat tans alleen in Windsor is nadat Meghan Woensdagaand met ’n vlug van British Airways na Kanada en Archie teruggekeer het, moet die Buckinghampaleis volgende Donderdag vir ’n amptelike afspraak besoek. Hopelik sal sy en die koningshuis se planne oor die wêreld se gunsteling- rooikop prins dan duidelik wees.

Meghan was net drie dae in Brittanje ná haar en Harry se lang vakansie. Archie is glo saam met sy oppasser by Meghan se beste vriendin, Jessica Mulroney, in Toronto.

- Aanvullende bronne: ITV, Evening Standard, Mailonline, verwerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.