Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry kry nuwe titel én ’n gewone werk

Prins Harry, hertog van Sussex, het ’n nuwe titel wat niks met die koningshuis te make het nie.

Sy nuwe werkstitel van impakhoof by BetterUp, ’n maatskappy in San Francisco, is as’t ware ’n ambassadeursrol.

Harry sal in sy nuwe werk BetterUp se wêreldwye voetspoor uitbou en ’n rol speel in die werknemersprogramme wat Better Up aanbied. Die maatskappy fokus op geestesgesondheid in die werksplek en bied programme aan om werknemers te help om angs te oorkom, selfvertroue te kry en suksesvol in hul loopbaan te wees.

Maatskappye soos Chevron en AT&T se WarnerMedia maak van BetterUp se dienste gebruik.

Anders as sy niggies prinses Eugenie en prinses Beatrice maak Harry in sy nuwe werk van sy volle titel as prins van die Verenigde Koninkryk gebruik. In die bloginskrywing waarin Harry se rol Dinsdag uitgestippel is, word daar na hom verwys as prins Harry, hertog van Sussex. Eugenie en Beatrice gebruik glad nie die titel “prinses” op hul onderskeie werkplekke se webwerf nie.

Prins Harry maak van sy volle titel gebruik in sy nuwe werk. Foto: Skermgreep/Better Up

Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, het in Januarie verlede jaar aangekondig dat hulle wil terugstaan as senior werkende lede van die Britse koningshuis. Dié besluit het skokgolwe deur die monargie gestuur, hoewel koningin Elizabeth die Sussexe ’n jaar kans gegee het vir ingeval hulle van besluit sou verander.

Die Sussexe het egter begin Maart in ’n verklaring gesê hulle bly by hul besluit. Hulle het kort daarna in ’n onthullende onderhoud met Oprah Winfrey aantygings van institusionele rassisme teen die koningshuis gemaak en aangevoer die koningshuis het hulle nie voldoende beskerming en ondersteuning gebied nie.

Meghan sê sy was in ’n “donker plek” en het selfdoodgedagtes gehad.

Prins Harry het ’n nuwe rol wat ver verwyderd is van sy rol as senior koninklike. Foto: AP

Harry, wat al telkens oor sy eie stryd met geesteswelstand gepraat het, sê op BetterUp se blog hy het reeds met ’n opleier van die maatskappy saamgewerk en vind die ervaring van onskatbare waarde.

“Ek is by ’n eerlikwaar fantastiese opleier geplaas wat my waardevolle raad en ’n vars perspektief gegee het,” sê hy in die bloginskrywing.“Ek glo deur op ons geesteswelstand te fokus en dit te prioritiseer, ontsluit ons potensiaal en geleenthede wat ons nooit geweet het ons in ons het nie.”

Benewens dié rol het Harry en Meghan met die stromingsdiens Netflix ooreenkomste ter waarde van miljoene dollar aangegaan. Hy en Meghan gaan ook podsendings vir Spotify aanbied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.