Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry, Meghan ‘het nie reg om só met koningin te praat’

“Hulle het geen reg om so met die koningin te praat nie.”

Só het Thomas Markle, die vervreemde pa van Meghan, hertogin van Sussex, gesê toe hy om kommentaar genader is oor die ont-“Royal” van sy dogter en haar man, prins Harry.

Meghan, wat kort van voor haar troue met Harry nie ’n woord met haar pa gepraat het nie, het ook onder skoot gekom omdat sy volgens haar pa nie net sy familie nie, maar ook dié van haar ma, Doria Ragland, afgeskryf het.

“Sy het elke familie afgeskryf en nou skryf sy die Britse familie (sic) ook af,” het Mailonline Woensdag in ’n eksklusiewe storie berig.

Verslaggewers het Thomas Maandag buite ’n winkelsentrum naby Rosarito in Mexiko voorgekeer nadat hy inkopies gedoen het.

“Ek dink nie hulle het die reg om op dié manier met die koningin te praat nie. Ek dink dit is ’n belediging vir die koningin en Britse burgers,” sê hy in die kort video wat Mailonline bekom het.

Harry en Meghan het Vrydagaand in ’n verklaring van meer as duisende woorde ’n klap na koningin Elizabeth ingekry oor die besluit dat hulle van 1 April nie meer hul gewilde handelsnaam, Sussex Royal, mag gebruik nie.

Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry, wie se loopbane as senior koninklikes einde Maart tot ’n einde kom. Foto: Getty Images

Die spreekwoordelike gordyn sak op 31 Maart op die twee se openbare lewe as senior koninklikes.

Harry en Meghan het in Januarie hul voorneme om as senior koninklikes terug te staan, bekend gemaak voordat die fynere detail met die koningin en paleisamptenare uitgeklaar is. ’n Dringende beraad is enkele dae ná hul skokaankondiging tussen die koningin, prins Charles, prins William en Harry gehou.

Die verklaring wat soveel skokgolwe veroorsaak het, is moontlik deur Meghan se span Amerikaanse raadgewers en beeldpoetsers saamgestel. Daarin word gemeld dat hoewel koningin Elizabeth geen jurisdiksie het oor die woord “royal” buite Brittanje se landsgrense nie, Harry en Meghan nie van die woord in hul handelsnaam gebruik sal maak nie.

Harry en Meghan se webwerf en sosialemediaprofiel heet al Sussex Royal vandat hulle van die koninklike stigting van William en Catherine, hertogin van Cambridge, weggebreek het.

Prins Harry Woensdag in Edinburg, Skotland, waar hy die afgevaardiges op ’n toerismeberaad toegespreek het. Foto: AP

Hulle het ’n aansoek ingedien om dié handelsnaam te laat registreer sodat niemand anders dit mag gebruik nie, maar die aansoek is teruggetrek nadat hulle deur die koningin en haar raadgewers in kennis gestel is dat Sussex Royal taboe is wanneer hulle hul nuwe lewe buite die paleismure aanpak

Die paartjie, wat elkeen miljoene pond sterk is, wil finansieel onafhanklik van die koningshuis funksioneer. Charles betaal tans sowat 95% van die paartjie se uitgawes.

Harry het Dinsdagaand in Brittanje aangekom. Hy het ’n reeks openbare afsprake – sy laaste as ’n senior koninklike. Dit is nie duidelik of Meghan en Archie, hul eersteling, saam met hom van Vancouver-eiland in Kanada na Brittanje gereis het nie. Meghan het vroeg in Maart ook ’n paar openbare afsprake in Brittanje.

- Saamgestel deur Arlene Prinsloo. Bykomende bronne: Mailonline, Hello!

Meer oor:  Koningin Elizabeth  |  Meghan Markle  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.