Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry en Meghan kry hul sin

Prins Harry en sy vrou, Meghan, sal voortaan hul tyd verdeel en in Brittanje én in Kanada woon.

Koningin Elizabeth het Maandagaand in ’n verklaring gesê haar familie het op ’n beraad op die koninklike landgoed Sandringham konstruktiewe gesprekke oor die toekoms van haar kleinseun en sy gesin gevoer.

“My familie ondersteun Harry se begeerte vir ’n nuwe toekoms vir sy jong gesin. 

“Hoewel ons sou verkies het dat hulle heeltyds vir die koninklike familie werk, re­spekteer en verstaan ons hul besluit om as ’n gesin ’n meer onafhanklike leefstyl te handhaaf terwyl hulle steeds ’n gere­spekteerde deel van my familie sal bly. Harry en Meghan het dit duidelik gemaak dat hulle nie afhanklik van openbare geld wil wees nie,” sê die koningin.

Die paartjie het Woensdag in hul verklaring gesê hulle wil finansieel onafhanklik van die monarg se toelaag wees. Die toelaag wat hulle by Harry se pa, prins Charles, uit sy hertogdom van Cornwall kry, is nie op die vergadering bespreek nie.

Meghan en Harry
Prins Harry en sy vrou Meghan, hertogin van Sussex, verlaat Canada House in Londen op 7 Januarie vanjaar. Foto: Reuters

Die koningin het beklemtoon die onderhandelinge oor die Sussexe se toekoms is ingewikkeld en baie moet nog gedoen word. 

Sy het egter gesê die onderhandelinge moet oor die volgende paar dae afgehandel word.

Die koningin wou nie die Megxit-krisis so lank soos die drama om prins Andrew se onderhoud op die BBC laat uitrek nie.

The Evening Standard berig Justin Trudeau, premier van Kanada, het ingestem dat Kanada vir die paartjie se veiligheidsdienste sal betaal wanneer hulle in dié land is.

Volgens die koninklike kenner Robert Job­son het Trudeau die koningin die versekering gegee dat Harry, Meghan en hul seun, Archie, se veiligheid nie in gedrang sal kom terwyl hulle in Kanada is nie.

Oor of die Kanadese belastingbetalers bereid sal wees om die jaarlikse rekening van sowat £1 miljoen vir die Sussexe se veiligheid op te dok, moet nog gesien word.

Die vergadering tussen die koningin, Charles, prins William en Harry het vroeër as verwag klaargemaak.

Dit is deur die koningin versoek ná Harry en Me­ghan se skokaankondiging Woensdagaand dat hulle wil terugstaan as senior koninklikes, finansieel onafhanklik wil word en deels in Noord-Amerika en Brittanje wil woon. 

Bespiegelinge dat Meghan nie haar voete in Brittanje kon vind nie en te veel na haar geboorteland verlang, doen al vir 'n geruime tyd die rondte.

Harry en Meghan het verlede jaar albei in ’n TV-dokumentêr gesê die fel mediakollig kry hulle onder. 

Die broers het Maandag berigte ontken dat Harry en Meghan glo meen dat William se “boeliegedrag” hulle uit die koninklike familie stoot.

Meer oor:  Meghan  |  Prins Harry  |  Meghan En Harry  |  Britse Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.