Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Sussexe: Onderhoud erger as verwag

Dit was erger as wat ’n mens verwag het.

Benewens Meghan, hertogin van Sussex, se selfdoodgedagtes, en die koninklike familie se onvermoë om haar te help, het familielede ook die velkleur van haar en prins Harry se eersteling bespreek. Daar was meer as een gesprek oor dié onderwerp.

Dít is enkele van die onthullings wat Meghan en Harry in hul onderhoud met Oprah Winfrey gemaak het.

Die onderhoud maak reeds wêreldwyd opslae en kan die Britse monargie meer skade berokken as die onderhoud wat Harry se ma, Diana, die ontslape prinses van Wallis, in 1995 aan die BBC toegestaan het.

Harry en Meghan in gesprek met die kletskoningin Oprah Winfrey. Foto: Reuters

Archie se velkleur

Meghan het nadat Winfrey haar oor Archie se velkleur aangepor het, daarop gesinspeel dat sy velkleur die rede was hoekom hy nie met die titel van prins gebore is nie en derhalwe nie polisiebeskerming sou geniet nie.

Hoewel Meghan gesê het daar was sprake om die koninklike bevel van koning George V te verander, het daar niks van gekom nie. (Dié bevel is in 1917 uitgevaardig en bepaal dat net die manlike lyn van troonopvolgers die titel prins kry. Dus prins Charles, prins William en prins George.) Archie het dus met sy geboorte die titel hertog van Dumbarton gekry.

Dit is regtig moeilik om te verstaan, nè?

Op die vraag wie die onderwerp van hul eersteling se velkleur opgehaal het, het Meghan ontwykend geantwoord. “Ek dink dit sal baie skade berokken. Harry het my van die gesprek vertel. Dit was ’n gesprek wat die familie met hom gehad het, en ek dink dit is bitter moeilik om dit nie binne die konteks van ander dinge te sien nie.”

Winfrey (duidelik geskok) wou verdere reaksie van Meghan hê. “Was hulle bekommerd dat dit ’n probleem sou wees as hy te bruin is?”

“Indien dit die afleiding is wat jy maak, is ek redelik veilig om te dink dit is die regte afleiding,” het Meghan geantwoord. “Dit is regtig moeilik om te verstaan, nè?”

Toe Harry hom later by Winfrey en sy vrou aansluit, wou hy ook nie sê wie met hom dié gesprekke oor sy kind se velkleur gehad het nie.

Meghan het gesê haar belangrikste rol is dié van ’n ma, en dat sy oor haar kind se veiligheid bekommerd was. Sy het die feit dat Archie nie ’n prins is nie, in verband gebring met die paleis se besluit dat Archie nie 24/7-polisiebeskerming sou geniet nie.

Sy en Harry het verwys na doodsdreigemente teen hulle, maar wou nie daaroor uitwei nie. Meghan meen die dreigemente is deur sekere beriggewing in die poniepers aangevuur.

Geïsoleerd

Dit is duidelik in die onderhoud dat Harry en Meghan reeds voor hul troue gevoel het dat Buckinghampaleis hulle genoeg ondersteun nie.

Die hertogin sê sy het alleen gevoel. Die paleis het byvoorbeeld haar paspoort en motorsleutels geneem.

Sy sê sy het geen opleiding gekry nie en moes inderhaas leer om ’n kniebuiging te maak toe Harry haar aan sy ouma, koningin Elizabeth, gaan voorstel het.

Hulle was op pad na die woning van prins Andrew en Fergie, sy gewese vrou, toe Harry haar in die motor vra of sy weet hoe om die kniebuiging te doen.

By Royal Lodge, die Yorks se huis, het Fergie by die voordeur uitgehardloop gekom om te vra of Meghan die kniebuiging kan doen, en sy het vinnig buite die huis geoefen.

Harry het op haar stelling dat sy net sy ouma gaan ontmoet, geantwoord dat dit wel sy ouma is, maar dat sy ook die Britse monarg is.

Die koninklike familie het haar hartlik ontvang, het Meghan gesê, maar dié ontvangs is nie omgesit in daadwerklike ondersteuning toe sy dit die nodigste gehad het nie.

Naïef

Winfrey praat deurentyd hoofsaaklik met Meghan, wat eerlik erken dat sy naïef was toe sy haar verhouding met Harry begin het omdat sy sonder kennis van die koninklike familie grootgeword het.

Meghan ontken dat sy ooit haar man of sy familie nagevors het en sê sy het die grootste bewondering vir die koningin. Toe hulle die tyding kry dat prins Philip op 16 Februarie gehospitaliseer is, het sy die koningin gebel “soos enige mens in enige familie sou doen”. Hulle hoef nie toestemming te vra om dit te doen nie.

Sy sê ook sy was naïef om te dink dat die instelling haar sou beskerm. Sy het nie die beriggewing oor haarself gelees nie, maar kon deur haar ma, Doria Ragland, en vriende agterkom dat die paleis haar nie teen die poniepers se beriggewing beskerm nie.

Harry en Meghan het byna ’n jaar gelede, op 9 Maart, vir die laaste keer saam met die res van die senior koninklikes ’n verpligting nagekom. By hulle is prins William en sy vrou, Catherine, asook sy pa, prins Charles, en sy vrou, Camilla. Foto: Reuters

Die stilte

Op Winfrey se aandrang het Meghan gepraat oor die storie dat sy haar skoonsuster, Catherine, tot trane gedryf het, en volgens haar het presies die teenoorgestelde gebeur. “Catherine is ’n goeie mens en ek is lief vir haar,” het Meghan gesê, maar verseg om meer te sê buiten dat die tranevoorval oor die blommemeisierok vir hul troue was. Catherine en William se dogtertjie, prinses Charlotte, was in die Harry-hulle se gevolg.

Almal in Buckinghampaleis het geweet wat die ware feite is, maar weer niks gedoen om haar te beskerm nie en gejok deur ander mense in die familie te beskerm.

“Die ironie van die afgelope vier jaar is dat ek (voor haar troue met Harry) my so lank beywer het dat vroue hul stem moet laat hoor . . . en ek was stil.”

Meghan het gesê die koninklike familie het nie hul belofte aan haar gestand gedoen om haar te beskerm nie.

Hulle was reeds getroud

In ’n verrassende onthulling het Meghan gesê sy en Harry is drie dae voor hul sprokiestroue op 19 Mei 2017 in Windsor reeds deur die aartsbiskop van Kantelberg in hul agtertuin getroud. “Ons was albei bewus daarvan dat (die troue in Windsor) nie ons dag was nie. Dit was ’n dag wat vir die wêreld beplan is.”

Charles, koningin het geweet van hul planne

Die koninklike wat die slegste daarvan afkom in die onderhoud, is Charles, Harry se pa.

Op Winfrey se vraag of hulle die koningin in die duister gehou het oor hul planne om terug te staan, het Harry beslis geantwoord dat hy gedurende hul Kersvakansie in Kanada drie keer met sy ouma en twee keer met sy pa gepraat het oor hul planne om as senior koninklikes terug te staan. Sy pa wou ná Harry se tweede oproep nie meer sy telefoon antwoord nie.

Oor hoe hul verhouding nou daar uitsien, het Harry gesê: “Daar is nog baie werk om te doen. Hy is deur iets soortgelyks. Hy weet wat dit is om pyn te ervaar. En Archie is sy kleinseun. Ek sal altyd vir hom lief wees.”

Op die vraag hoe sy verhouding nou met William is, het Harry beklemtoon dat hy altyd lief sal wees vir sy broer, maar hy het die verhouding met een woord beskryf: “afstand”.

Prins Harry en Meghan nadat hulle in die St. George-kapel in Windsor in die huwelik bevestig is. Foto: Reuters

Om terug te staan

Aanvanklik wou Harry en Meghan net as senior koninklikes terugstaan en asem skep in die hoop dat die negatiewe poniepers-beriggewing oor haar tot ’n einde sou kom.

Hulle het gehoop om in ’n Statebondsland soos Australië, Suid-Afrika of Kanada te gaan nesskop, maar planne om hulle in Amerika te vestig en reusekontrakte met die stromingsdiens Netflix te sluit, was nie op hul radar nie.

“Ons het teruggestaan omdat ons nie enige ondersteuning van die instelling en familie kon kry nie.”

Winfrey het verder getorring: “Is dit hoekom julle weggestap het?” Harry beaam dit met ’n kopknik.

Dan bring Harry sy ma, Diana, by die gesprek in.

Dit was dieselfde scenario as met sy ma (die ongelooflike aandag van die pers), “voeg daarby ras en sosiale media. Dit is net hoe dit is.”

Selfdood

Meghan het met eerlike opregtheid gepraat oor haar geestesgesondheidstryd terwyl sy swanger was met Archie en hoe sy aanhoudend aan selfdood gedink het.

“Ek wou nie meer lewe nie. Ek was skaam om dit (my gevoelens) te verwoord en skaam om dit aan Harry te erken. Maar ek het besef dat as ek dit nie sê nie – sou ek dit doen. Ek wou eenvoudig nie meer lewe nie. Dit was duidelik, werklik, vreesaanjaend en ’n alomteenwoordige gedagte.”

Sy het probeer om hulp te kry, maar ’n senior persoon in die paleis het vir haar gesê sy kan nie.

“Ek het na een van die mees senior persone vir hulp gegaan. Daar is vir my gesê ek kon dit nie doen omdat dit nie ’n goeie refleksie op die instelling sou wees nie.”

Oor Harry se reaksie toe sy hom uiteindelik van haar gevoelens vertel het, het Meghan gesê hy het haar in sy arms toegevou.

Ook Harry se pleidooi om hulp vir Meghan by sy familie het op dowe ore geval.

Die aand van trane en wit kneukels

’n Tranerige Meghan het vertel van die aand toe sy en Harry na die Royal Albert Hall is. Terwyl die ligte af was, het sy gehuil en wanneer die ligte weer aangeskakel en hulle in die koninklike losie sigbaar was, moes sy weer glimlag.

Sy vertel hoe sy aan Harry gesê het sy sal saam met hom na die geleentheid toe gaan. “Jy kan my nie alleen los nie.”

Meghan huil dan.

Sy verwys na foto’s van die geleentheid waarop gesien kan word dat hulle mekaar se hande só styf vashou dat die wit van hul kneukels wys. “’n Mens het geen benul wat agter geslote deure aangaan nie.”

Dié foto is op 5 Maart verlede jaar by een van hul laaste verpligtinge as senior werkende lede van die Britse koninklike familie geneem. Foto: Reuters

Jaloesie

Harry het vertel dat Meghan beter as wat hy verwag het in die familie verwelkom is. “Maar ná die Australië-toer het dinge verander. Dit het herinneringe teruggebring. Om te sien hoe soomloos Meghan by die familie ingestap het en met mense kan kliek.”

Winfrey het ook na Diana en Charles se toer na Australië verwys. Diana was oorweldig deur al die aandag van die skares, maar het geblom, tot afgryse van Charles, wat jaloers was omdat sy vrou die kollig gesteel het.

Die paleis se byt

Harry is duidelik seergemaak daaroor dat sy spesiale beskerming reeds onttrek is toe hulle nog in Kanada was.

Meghan het bygevoeg dat sy in briewe aan die paleis gepleit het: “Hou asseblief my man veilig.”

Alle finansiële hulp aan Harry is ook reeds in die eerste kwartaal van verlede jaar gestaak.

As dit nie vir die erflating van sy ma was nie, sou “ons nie gewees het waar ons nou is nie”, het Harry gesê en bygevoeg al wat hy wil doen, is om genoeg geld te verdien om hom en sy gesin te beveilig. Op die vraag oor wat Diana van die huidige situasie sou dink, antwoord Harry blitsig: “Sy sou kwaad gewees het oor hoe alles uitgewerk het. Al wat sy ook wou gehad het, was dat ons gelukkig moet wees.”

Gevangenes

Harry het gesê Meghan het hom daarvan bewus gemaak dat hy ’n “gevangene van die paleis is”, al het hy dit nie self besef nie. “My broer en pa is ook gevangenes. Ek het empatie met hulle omdat hulle dit nie kan los nie.”

Gelukkige einde

Winfrey, wat met dié onderhoud sekerlik dié grootste eksklusiewe nuusgebeurtenis van haar loopbaan beklink het, het die onderhoud afgesluit deur Meghan te vra of sy toe tóg haar sprokieseinde gekry het. “Ja,” het sy geantwoord terwyl Harry saggies haar hand druk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.