Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry, Meghan dalk 'Sussex Royal'-handelsmerk kwyt

Sussex Royal, die handelsmerk van prins Harry en sy vrou, Meghan, se dae is glo getel.

Dié handelsmerk, waarmee die paartjie gehoop het om hul kommersiële en liefdadigheidswerk buite die paleis voort te sit, sal hernoem moet word omdat koningin Elizabeth nie geneë is daarmee nie.

Harry en Meghan sal einde Maart vanjaar as senior lede van die koninklike familie terugstaan en ’n onafhanklike lewe in Kanada lei, het die paleis Woensdagaand bekend gemaak. 

Hulle wou volgens ’n berig Dinsdag in die Britse Daily Mail hul nuwe niewinsgewende organisasie, Sussex Royal, die stigting van die hertog en hertogin van Sussex, noem.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex. Die twee verloor nie hul koninklike eretitels sy en haar koninklike hoogheid nie, maar sal dit nie meer in die toekoms gebruik nie. Foto: Reuters

Die twee is egter ingelig dat dit nie sal kan gebeur nie en dat hulle sal moet herbesin oor die gebruik van Sussex Royal, berig Mailonline.

Britse koninklikes word nie toegelaat om hul “koninklikheid” vir kommersiële gewin te gebruik nie.

Harry en Meghan het in Januarie vanjaar in ’n aankondiging gesê hulle wil finansieel onafhanklik van die koningshuis wees, maar steeds die koningin verteenwoordig met oorsese toere en verpligtinge.

Dié aankondiging is op hul webwerf, sussexroyal.com, gedoen.

Buckinghampaleis het egter teruggekap ná die onafhanklikheidsverklaring van Harry en Meghan en ’n koninklike “spitsberaad” is op Sandringham tussen die koningin, prins Charles, prins William en Harry belê.

Ná die beraad het die paleis aangekondig dat Harry en Meghan ná die aanbreek van die Britse lente hul onafhanklikheid kan geniet, maar nie op die voorwaardes wat hulle gestel het nie, maar op die koningin se voorwaardes.

Die twee sal dus nie meer namens die koningshuis toere of ander afsprake onderneem nie, en sal ook nie meer van hul koninklike titels, sy en haar koninklike hoogheid, gebruik maak nie. Harry moes ook van al sy militêre ere-titels afstand doen. Hulle sal ook nie meer van 1 April af 'n kantoor in Buckinghampaleis hê nie. Hul vyftien personeellede is begin vanjaar reeds in kennis gestel dat hulle dienste nie meer benodig sal word nie. Van die personeel is na ander afdelings in die koninklike huishouding geskuif, terwyl 'n paar skeidingspakkette moes aanvaar. 

Onderhandelings tussen verteenwoordigers van Harry en Meghan en senior paleisamptenare duur egter steeds voort om ’n finale “skeidingsooreenkoms” te bewerkstellig. Dit is juis tydens dié onderhandelings wat die naam Sussex Royal ter sprake gekom het.

Mailonline het Dinsdag eksklusief berig dat die Sussexe afstand van hul handelsmerk sal moet doen weens die koningin en paleisamptenare se besware. Dit sal ook beteken dat die twee hul gewilde Instagram-profiel, SussexRoyal, se naam sal moet verander. Hulle het reeds meer as 11,2 miljoen volgelinge op Instagram.

Die egpaar keer in Maart op versoek van die koningin terug na Brittanje vir ’n paar verpligtinge voordat hulle permanent na Kanada sal verhuis. – Saamgestel deur Arlene Prinsloo. Bykomende bronne: Evening Standard, ITV en SkyNews.

Meer oor:  Prins Harry  |  Britse Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.