Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry, Meghan skuld nie meer ’n pennie (of pond) op kothuis

Afbetaal! Prins Harry en sy vrou, Meghan, skuld nie meer ’n pennie (of pond) op hul Britse tuiste, Frogmore Cottage, nie.

Harry het onlangs (en uit vrye wil) die volle bedrag van £2,4 miljoen wat dit gekos het om die kothuis by Windsor-kasteel op te knap, terugbetaal, het Omid Scobie, medeskrywer van ’n nie-amptelike biografie oor die Sussexe, Maandagmiddag op Twitter geskryf.

Die koste van die opknappingswerk aan die huis, wat deur koningin Elizabeth aan hulle gegee is as amptelike woning, het Britse belastingbetalers én poniekoerante omtrent gal laat braak.

Met Harry en Meghan se besluit om ook Brittanje vaarwel toe te roep vir ’n nuwe lewe in Amerika, is daar tussen paleisamptenare en Harry ooreengekom dat hy ’n deel van die opknappingswerk se koste sou terugbetaal aan die vorstin se toelae. Die Britse regering en taksbetalers dra by tot dié toelae waardeur koningin Elizabeth en die koninklike familie se onkoste gefinansier word.

Hoewel die paartjie opgedok het vir al die binnenshuise versiering, het hulle ook nou die geld afbetaal wat dit gekos het om die huis, wat in verskillende wooneenhede verdeel is om as blyplek vir kasteelwerkers te dien, weer een wooneenheid te maak.

Die Sussexe het veral onder kritiek deurgeloop toe dit bekend word hulle het ’n spoggerige herehuis in die rykmansbuurt Montecito in Santa Barbara aan die Amerikaanse Weskus gekoop.

Toe het ’n woordvoerder van die Sussexe gesê die paartjie is opgewonde om hul eerste huis saam te koop en dat hulle ’n huislening aangegaan het om die verband van $14,65 miljoen af te betaal.

Die paartjie wil nou geheel en al onafhanklik (van die koningshuis) wees
Frogmore Cottage nadat opknappingswerk daaraan voltooi is sodat dit as nuwe tuiste vir prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, kon dien. Die paartjie het kort voor die geboorte van hul eersteling, Archie Mountbatten-Windsor, in Mei verlede jaar hul intrek in die huis geneem. Teen November verlede jaar het hulle hul tasse gepak vir eers ’n lang vakansie in Kanada, en later die meer permanente besluit om uit Brittanje pad te gee. Foto: Getty Images

Harry en Meghan is albei miljoenêrs in eie reg: Meghan vanweë haar rol in die TV-dramareeks Suits en Harry vanweë erflatings by sy oumagrootjie, koningin Elizabeth, die koninginmoeder, en sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis. Harry se geraamde netto waarde is $25 miljoen en dié van Meghan $5 miljoen, het Business Insider berig.

Volgens Scobie wil Harry ook nie gebruik maak van sy pa, prins Charles, se aanbod van finansiële ondersteuning uit sy eie private inkomstestroom deur die hertogdom van Cornwall nie.

“Die paartjie wil nou geheel en al onafhanklik (van die koningshuis) wees,” het ’n bron aan Harpers Bazaar gesê.

Met sy en Meghan se besluit vroeër vanjaar om weg te breek van die Britse koningshuis en hul eie potjie te krap, kry hulle nie meer geld uit die vorstin se toelae nie. Charles ondersteun glo steeds sy seun finansieel uit sy eie private inkomste uit die hertogdom van Cornwall.

Die paartjie het verlede week aangekondig dat hulle ’n ooreenkoms met die stromingsdiens Netflix aangegaan het om as vervaardigers verskeie programme – van kinderprogramme tot dokumentêre programme – vir Netflix te vervaardig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.