Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry, Meghan trek neus op vir ‘dom’ titel vir Archie M

Die Sussexe het hul neus opgetrek vir die titel wat hul eersteling, Archie, beskore was.

Die titel, hertog van Dumbarton, was Archie by geboorte beskore. Prins Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, het gevrees as hul seun die titel kry, sou dit verkort word tot “Dumb” en hy sou daaroor gespot kon word. Dit sou volgens hulle ook tot ’n koddige bynaam kon lei.

Archie in September 2019, toe die wêreld vir die eerste keer werklik kon sien hoe die kleinding van Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry lyk. Die Sussexe het Suid-Afrika as deel van ’n toer na Suider-Afrika besoek en Archie geneem om aartsbiskop Desmond Tutu in Kaapstad te ontmoet. Foto: Getty Images

Camilla Tominey van die Britse The Telegraph het dié Woensdag eksklusief aan die groot klok gehang. 

Volgens haar bronne was dit nie net Meghan wat die potensiaal gesien het van ’n noemnaam of gespot nie, maar ook Harry.

Woordvoerders van die Sussexe wou nie op navrae van The Telegraph reageer nie.

Harry staan in Skotland as die hertog van Dumbarton bekend en derhalwe sou sy eersgebore seun ook op dié titel geregtig wees. Met Archie se geboorte het Harry gesê hy wil sy kinders sonder ’n titel grootmaak, soos wat sy tante prinses Anne met haar kinders, Peter Philips en Zara Tindall, gedoen het.

Die jongste herrie oor ’n titel vir Archie, wat bloot as jongeheer Archie Harrison Mountbatten-Windsor bekend staan, kring al hoe wyer uit nadat die Britse Mail on Sunday berig het prins Charles het dit duidelik gemaak dat Archie geen rol in die toekomstige koninklike familie sal hê nie. Volgens die Mail on Sunday sou Charles vir Harry en Meghan gesê het anders as wat koninklike protokol bepaal, sal geeneen van hul kinders die titel prins of prinses kry wanneer Charles die troon bestyg nie.

Archie sou outomaties prins Archie geword het wanneer Charles koning word.

Meghan het tydens haar en prins Harry se onderhoud in Maart vanjaar met Oprah Winfrey gesê benewens gesprekke oor hul kinders se velkleur, is daar vir hulle gesê hul eersteling sal nooit ’n prins of prinses wees nie – ’n titel waarop hulle geregtig sou wees sodra Harry se pa, prins Charles, koning word. Foto: Getty Images

Dit sal wees waarom Meghan in die onderhoud wat sy en Harry in Maart met Oprah Winfrey gevoer het, gesê het hulle is ingelig dat hul eersteling nie die titel prins of prinses sal kry nie en dus ook nie persoonlike beskerming sou geniet nie.

Charles het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hy in die lig van kritiek oor koninklike uitgawes die kerngroep van die koninklike familie wil verklein nie. Hy het met die viering van koningin Elizabeth se Diamantjubileum in 2012 sy sin gekry toe net hy, sy vrou, Camilla, hertogin van Cornwall, sy twee seuns en Catherine, hertogin van Cambridge, op die balkon van Buckinghampaleis saam met die koningin verskyn het, pleks van die uitgebreide koninklike familie.

Om Archie die titel prins te ontneem, sal Charles ’n koninklike verordening moet uitreik, iets wat koninklike kenners meen onwaarskynlik is omdat hy meer daarop sal fokus om sy vrou as koningin-gemaal (Queen Consort) gevestig te kry sodat sy as koningin Camilla bekend sal staan.

Camilla, wat daarop geregtig is om as prinses van Wallis bekend te staan, gebruik nie dié titel nie uit eerbied vir die ontslape Diana, prinses van Wallis, Harry en William se ma. Sy en Charles het hul jare lange verhouding hervat toe Charles en Diana se huwelik verbrokkel het.

• Dit het vandeesweek ook bekend geword dat dit die Sussexe was wat verskeie domeinname soos LilibetDiana.com en LiliDiana.com gekoop het voordat hul dogtertjie op 4 Junie gebore is. Hoewel die domeine nog nie aktief is nie, kon die paartjie dit moontlik gedoen het om te keer dat buitestanders die domeinname koop en gebruik.

Dit het egter die vraag laat ontstaan of Harry koningin Elizabeth se instemming gevra het om haar familie-noemnaam vir sy dogtertjie te gebruik, en of hy haar bloot daaroor ingelig het.

Meer oor:  Meghan  |  Archie  |  Prins Charles  |  Prins Harry  |  Britse Koninklikes  |  Royals
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.