Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Prins Harry: ‘My lewe was dié van ’n sirkusdier’

Prins Harry sê hy probeer die genetiese sirkel van pyn van sy eie opvoeding verbreek as pa van sy en Meghan se eersteling, Archie, wat ’n paar dae gelede twee jaar oud geword het. Meghan verwag hul tweede kind, ’n dogtertjie.

In die Armchair Expert-podsending van 90 minute wat Donderdag uitgereik is, praat Harry sonder omhaal oor sy eie geestesgesondheid en beskryf hy onder meer sy lewe as lid van die Britse koninklike familie as ’n kruising tussen die rolprent The Truman Show en die lewe van ’n sirkusdier.

In The Truman Show vertolk die akteur Jim Carrey die rol van ’n man wat onbewus daarvan is dat sy hele lewe eintlik ’n televisiereeks is.

Harry kritiseer ook nie net die ouerskapstyl van sy pa, prins Charles, nie, maar ook dié van sy grootouers koningin Elizabeth en prins Philip.

Harry sê omdat hy die binnewerkings van die koninklike stelsel geken het, het hy al in sy vroeë 20’s besef hy wil nie meer deel van dié stelsel wees nie.

“Kyk wat het dit aan my ma gedoen. Hoe gaan ek myself ooit kan vestig met ’n vrou en gesin wanneer ek weet dit (wat met my ma gebeur het) gaan weer gebeur?”

In sy kletssessie met die akteur Dax Shepard sê Harry sy wilde kuierdae in sy 20’s is te wyte aan die trauma wat hy as kind deurgemaak het en dat hy ’n terapeut begin sien het nadat hy Meghan ontmoet en sy onmiddellik sy “innerlike woede” raakgesien het.

Die podsending, waarin hy en Shepard openhartig gesels, dien as lusmaker vir Harry se nuwe reeks op AppleTV oor geestesgesondheid, The Me You Can’t See, saam met Oprah Winfrey. Dit word aanstaande Vrydag uitgereik.

Harry se uitlatings in die podsending kom twee maande nadat hy en Meghan in ’n opspraakwekkende onderhoud met Oprah pyle na die hart van die monargie as instelling gemik het. Institusionele rassisme, die instelling se onvermoë om Meghan teen die venynige Britse poniepers te beskerm en hul geestesgesondheid is as redes aangevoer vir hul besluit om as senior koninklikes terug te staan.

Shepard sinspeel op ’n kol in die gesprek dat Harry se lewe soos dié van iemand is wat sonder instemming ’n rol in ’n rolprent vertolk. Dit is dan dat Harry antwoord: “My lewe was ’n mengsel van The Truman Show en die lewe van ’n sirkusdier.”

Harry sê aan Shepard hy het drie keer in sy lewe hulpeloos gevoel: toe hy saam met sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, in haar motor was en hulle deur steelfotograwe agtervolg is, een keer gedurende sy weermagdae in Afghanistan agter die beheerpaneel van ’n Apache-helikopter en saam met Meghan.

In die gemoedelike gesprek – Shepard verwys na Harry as “rad” (radikaal) – sê Harry dat hy nie vingers wil wys of iemand blameer nie, “maar wanneer dit oor ouerskap gaan . . . indien ek enige vorm van pyn of lyding ervaar het weens die pyn of lyding van byvoorbeeld my pa of my ouers, wil ek doodseker maak dat ek dié siklus verbreek”.

“Dit is ’n klomp genetiese pyn en lyding wat basies oorgedra word.”

Prins Harry as kleuter saam met sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis. Foto: Getty Images

Harry verwys dan na sy pa se skoolopvoeding (Charles is na dieselfde kosskool in Skotland gestuur waar sy pa, prins Philip, op skool was en was anders as Philip sielsongelukkig op Gordonstoun) en hoe hy die stukkies bymekaar gesit het oor Charles se verhouding met sy ouers en dat Charles Harry op dieselfde manier gehanteer het as wat hy grootgemaak is.

Harry sê dat (vermoedelik Charles) nie geweet het hoe om Harry se geestesongesteldheid as kind te hanteer nie en daar vir hom gesê is om hulp te kry omdat hy “van sy wysie af” is.

Harry vertel hoe hy in sy wilde partytjiedae in sy 20’s nie die selfbewustheid gehad het om te besef wat hy doen nie. Hy besef ook dat hy in ’n ongelooflike posisie van bevoorregting gebore is, maar glo dat hy baie verander het vandat hy en Meghan in Januarie verlede jaar besluit het om die koninklike lewe vaarwel toe te roep.

Harry se uitlating oor Meghan se woorde “dat jy nie ’n prinses hoef te wees nie, maar vir jouself ’n lewe kan skep wat beter is as dié van enige prinses”, sal min doen om versoening tussen hom en sy familielede te bewerkstellig.

Op Shepard se vraag of Harry gevoel het hy is in ’n hok terwyl hy sy koninklike pligte uitgevoer het, het Harry boonop gesê: “Dit is die werk, nè? Kners op jou tande en verduur dit. Gaan net aan.”

Harry sê vandat hy en Meghan hulle sak en pak in Amerika gevestig het, voel dit of hy weer sy kop kan lig. “Ek kan meer vryelik rondloop.”

prins harry, meghan
Prins Harry en sy vrou, Meghan, groet aanhangers in Kaapstad in September 2019. Foto: Gallo Images

In ’n verwysing na die vroeë dae van sy en Meghan se verhouding, vertel hy hoe hy met ’n bofbalpet laag oor sy gesig getrek probeer het om saam met ander inkopiegangers inkopies te doen, maar dat mense hom soms steeds herken en kom groet het.

Hulle het eenkeer selfs afsonderlik winkel toe gegaan en vir mekaar teksboodskappe in die winkel gestuur.

Die meeste senior koninklikes was Donderdag op hul pos: Charles het ’n kankernavorsingsentrum in Londen besoek, terwyl Harry se broer, prins William, en sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge, verskeie projekte wat geestesgesondheid bevorder in Wolverhampton besoek het.

Harry het gedurende die Oprah-onderhoud gesê hy bejammer sy pa en William, wat “vasgevang” is in die monargie en nie soos hy uit dié instelling kan ontsnap nie.

Luister hier na die volledige podsending.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.