Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Harry sê toksiese media het hom uit Brittanje gedryf

“Ek het nooit weggestap nie, dit was eerder ’n besluit om terug te staan en nie weg te stap nie.” Só sê prins Harry oor sy besluit om as senior koninklike terug te staan en ’n nuwe lewe vir hom en sy gesin in Amerika te bou.

James Corden het die kans gekry om op prins Harry se foon met Meghan te gesels. Foto: Skermgreep/The Late Show with James Corden

’n Ontspanne Harry, wat selfs ’n kragwoord los tydens die bustoer deur Los Angeles saam met James Corden, vertel ook hoe die toksiese mediadekking sy geestesgesondheid benadeel het.

“Ons weet almal hoe die Britse media kan wees,” sê hy in die seldsame een-tot-een-onderhoud met Corden.

Corden, ’n Britse akteur wat jare gelede sy geboorteland vir Amerika verruil het en die gewilde The Late Show with James Corden aanbied, was ook die seremoniemeester op Harry en Meghan se huweliksonthaal.

Op die vraag hoekom hy die groot besluit geneem het om weg te stap van die koninklike familie, sê ’n kopskuddende Harry dit was nooit sy besluit om weg te stap nie. Dit was eerder ’n besluit om “terug te staan”.

“Dit was toksies. So ek het gedoen wat enige eggenoot en enige pa sou doen.”

Corben het Harry in ’n oopdekbus op ’n toer deur Los Angeles geneem, en wanneer hy Harry oplaai, gesels die twee grappenderwys oor Harry wat nog nooit op so ’n bustoer was nie. Harry maak ’n grappie dat hy nie die busgeld kan betaal nie, omdat “koninklikes nooit kontant by hulle het nie”.

Harry sê ook hul eersteling, Archie, wat in Mei twee word, is “histeries snaaks” en dat sy eerste woord krokodil was, hoewel hy dit in drie klankgrepe uitgespreek het.

Koningin Elizabeth het ook gevra wat sy vir Archie vir Kersfees kan stuur, en nou het Archie ’n wafelpan waarin Meghan soggens vir hulle organiese wafels maak.

Harry benadruk dat ongeag wat in Brittanje besluit word (deur sy ouma en Buckinghampaleis), hy nooit van sy lewe van diens aan ander sal wegstap nie.

“Ek sal altyd bydra. Maar my lewe is om te dien, so waar ook al ek in die wêreld is, gaan ek altyd dieselfde doen.”

Meghan maak ook ’n vlugtige verskyning in die program, wanneer Harry haar op Facetime bel en Corben kans gee om met haar te gesels. Mens kan ook duidelik sien Meghan is swanger.

Corben maak dan ’n grap en sê hy dink die huis waarin The Fresh Prince of Bel-Air verfilm is, is die perfekte huis vir hulle.

Meghan het vlugtig in die uitsending verskyn en noem haar man ‘Haz’. Foto: Skermgreep/The Late Show with James Corden

Op Corben se vraag hoe Harry geweet het Meghan is “dié een” vir hom, antwoord Harry dat hy met hul tweede afspraak geweet het dinge kan ernstig raak.

Hy verduidelik dan dat ’n mens dinge agterstevoor om doen as jy met ’n lid van die koninklike familie uitgaan. Daar is eers ’n paar ontmoetings (soos met ’n ete) voordat jy as ’n paartjie by vriende gaan kuier of in die openbaar jou gesig as ’n paartjie kan wys.

Harry sê hy en Meghan gaan nadat die inperkings weens die koronaviruspandemie verby is, die werk voortsit wat hulle in Brittanje gedoen het, al “gaan dit effens verskil”.

Hy sê deur met hom te trou het Meghan haar ook daartoe verbind om die wêreld ’n beter plek te maak, al is dit net “deur klein dingetjies op ’n keer”.

Op die vraag of die lewe agter paleismure regtig is soos dit in die Netflix-trefferreeks The Crown weergegee word, vertel Harry laggend dat dit fiksie is wat losweg op ware gebeure gegrond is, vergeleke met stories oor hom en sy gesin wat in koerante as “feite” weergegee word, maar nie is nie.

Wanneer Corden hom na ’n hindernisbaan in militêre styl neem, is dit Harry se kans om Corden ore aan te sit.

James Corden en prins Harry het tee en botterbroodjies tydens die bustoer deur Los Angeles geniet. Foto: Skermgreep/The Late Show with James Corden

Die prins, wat eens op ’n tyd die gewildste lid van die koninklike familie was, se voete is duidelik plat op die aarde, blyk uit die video-insetsel. Hy kruip sonder klagtes deur modder en sy humorsin is skerp genoeg om Corden s’n keer op keer te troef.

Die program is opgeneem voordat Harry en Meghan die koningin vroeg in Februarie laat weet het dat hulle nie ná ’n jaar van asem skep sal terugkeer as senior werkende lede van die Britse koninklike familie nie.

Met die sogenaamde Sandringham-beraad verlede jaar is besluit om die Sussexe ’n jaar te gee voordat hulle finaal ’n besluit neem om terug te staan.

Hoewel Harry gehoop het om sy eretitels in die Britse weermag te behou hoewel hy nie meer ’n werkende lid van die koninklike gesin is nie, het die koningin dit duidelik gemaak dat Harry dié eretitels moet prysgee. Alle beskermheer- en beskermvrourolle wat die koningin aan hulle toegeken het, is ook van hulle weggeneem.

James Corden en sy vrou, Julia Carey, het die troue van prins Harry en Meghan op 19 Mei 2018 in Windsor bygewoon. James was ook die seremoniemeester op die huweliksonthaal. Foto: Skermgreep

Harry se verskyning in Corden se program is ’n voorloper van die opspraakwekkende onderhoud wat Meghan aan die kletskoningin Oprah Winfrey toegestaan het. Harry sal in dié onderhoud ook sy verskyning maak.

Die onderhoud word op 7 Maart in Amerika gebeeldsend, met Britse uitsaaiers wat tou staan om uitsaairegte daarvoor te bekom.

Harry het al in vorige onderhoude gesê hy het op aanbeveling van sy ouer broer, prins William, sielkundige hulp gekry omdat hy met geestesgesondheidsprobleme gesukkel het ná die dood van sy ma, Diana, prinses van Wallis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.