Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry was amper ‘nóg titels kwyt’

Koningin Elizabeth was van plan om prins Harry nie net van sy hertogdom te ontneem nie, maar ook van die koninklike titel Sy Koninklike Hoogheid.

Evening Standard se koninklike korrespondent, Robert Jobson, het Maandagaand eksklusief berig sy bronne sê die koningin en prins Charles wou egter nie “kleinlik” optree nie. Harry se titel sou dan “afgegradeer” word na een van sy minder bekende titels, die graaf van Dumbarton. Meghan sou dan ook as Meghan, gravin van Dumbarton, bekend gestaan het.

Die koningin se jongste seun, prins Edward, en sy vrou, Sophie, gebruik ook ’n “mindere” titel van graaf en gravin van Wessex. Edward sal egter die hertogdom van Edinburg by sy pa, prins Philip, oorneem wanneer hy sterf.

Hoewel Harry Sondagaand in ’n roerende toespraak in Londen gesê het die uiteinde van die onderhandelinge tussen die Sussexe en die koningshuis is nie wat hy wou gehad het nie, aanvaar hy dit.

Hy het gepraat op ’n geldinsamelingsgeleentheid in Londen vir sy liefdadigheidsorganisasie Sentebale.

“Ons het gehoop om voort te gaan om die koningin, die Statebond en my weermagaffiliasies sonder geld van die publiek te dien. Dit is ongelukkig nie moontlik nie.”

Harry en Meghan het met hul aankondiging dat hulle as senior lede van die koningshuis wil terugstaan, op hul webwerf Sussex Royal gesê hulle hoop om ’n “progressiewe” rol binne die koningshuis te ontwikkel.

Die koningin het egter met haar aankondiging Saterdagaand dit duidelik gestel dat die Sussexe nie met een voet binne paleismure kan staan en die ander voet buite nie.

Pres. Harry Maandag op die beleggingsberaad in Londen. Foto: Reuters

Omdat hulle nie meer werkende koninklikes gaan wees nie, sal hulle geen verpligtinge meer namens die monarg onderneem nie. Hul koninklike toer na Suid-Afrika in 2019 was hul eerste en enigste as ’n gesin.

Hulle gaan voortaan die meeste van hul tyd in Noord-Amerika deurbring.

Hul wens om finansieel onafhanklik te wees beteken ook dat hulle nie meer ’n toelae by die monarg sal kry nie. Charles sal Harry en sy gesin egter steeds finansieel bystaan.

’n Deel van die ooreenkoms is dat Harry ook van sy militêre eretitels afstand moet doen.

Die ooreenkoms geld van die Britse lente af en sal oor ’n jaar hersien word, is Sondagaand in die Britse media berig.

Tot dan sal Harry steeds verpligtinge nakom, soos Maandag se verskyning op die beleggingsberaad tussen Brittanje en Afrika-lande in Londen.

Die koningin sê in haar verklaring Harry, Meghan en Archie, hul eersteling, sal altyd deel van haar familie bly.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, het amper as die graaf en gravin van Dumbarton bekend gestaan, het die Evening Standard Maandagaand berig. Foto: Reuters

Ondanks gerugte dat die koningin, Charles en prins William onverhoeds betrap is deur Harry en Meghan se “onafhanklikheidsverklaring” 11 dae gelede, het Harry in Sondagaand se toespreek gesê “dit het maande se gesprekke geneem om te kom waar ons nou is”.

“Ek het dit aanvaar met die wete dat dit nie verander wie ek is of hoe toegewyd ek is nie. Maar ek hoop dit help julle om te verstaan waarop dit neerkom. Dat ek gaan terugtree van alles wat ek nog ooit geken het sodat ek ’n tree vorentoe kan gee na wat ek hoop ’n vreedsamer lewe gaan wees. Dit maak my baie hartseer dat dit die uiteinde is. Daar was regtig geen ander opsie nie.”

Harry het verduidelik hy en Meghan loop nie weg nie.

“Brittanje bly my tuiste en dit is ’n plek wat ek liefhet. Dit sal nooit verander nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.