Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Hartseer Harry: ‘Dis nie wat ons wou gehad het’

Die uiteinde van die onderhandelinge tussen prins Harry, hertog van Sussex, sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, en die Britse koningshuis oor hoe die egpaar voortaan hul lewe gaan lei, is nie wat Harry wou gehad het nie.

Harry was duidelik ontsteld toe hy Sondagaand ’n toespraak by sy Sentebale-fondsinsameling gelewer het.

“Ons het gehoop om voort te gaan om die koningin, die Statebond en my weermag-affiliasies sonder geld van die publiek te dien. Dit is ongelukkig nie moontlik nie.”

LEES OOK: Meghan en Harry hul koninklike titels kwyt

Soos Sondag berig is, het hulle gehoop om ’n “progressiewe” rol binne die koningshuis te ontwikkel, maar dit is ná Saterdagaand se aankondigings deur Buckingham-paleis en koningin Elizabeth, Harry se ouma, nie meer moontlik nie.

Omdat die paartjie nie meer werkende koninklikes gaan wees nie kan hulle byvoorbeeld geen koninklike reise namens die koningin onderneem nie. Hul koninklike toer na Suid-Afrika in 2019 was hul eerste en enigste as ’n gesin.

Hulle gaan voortaan die meeste van hul tyd in Noord-Amerika deurbring.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex. Foto: Reuters

Volgens Buckingham-paleis kry hulle ook nie meer geld uit die staatskas nie.

Arlene Prinsloo het berig die verrassende element in Saterdagaand se aankondiging was dat Harry van ál sy militêre eretitels afstand sal moet doen.

Koninklike kommentators sê dat hoewel die koningin Saterdagaand sagte woorde in haar eie verklaring gebruik het, deur te sê die familie is baie lief vir Harry en Meghan, het sy ferm en beslissend opgetree deur aan te dring op ’n skoon breuk.

Harry het Sondagaand in sy toespraak gesê dit het maande se gesprekke geneem om te kom waar ons nou is.

“Ek het dit aanvaar met die wete dat dit nie verander wie ek is of hoe toegewyd ek is nie. Maar ek hoop dit help julle om te verstaan waarop dit neerkom. Dat ek gaan terugtree van alles wat ek nog ooit geken het sodat ek ’n tree vorentoe kan gee na wat ek hoop ’n meer vreedsame lewe gaan wees.

“Dit maak my baie hartseer dat dit die uiteinde was. Daar was regtig geen ander opsie nie.”

Harry het verduidelik hy en Meghan loop nie weg nie.

“Brittanje bly my tuiste en dit is ’n plek wat ek liefhet. Dit sal nooit verander nie,” sê Harry.

Hy het aan die mense by die fondsinsameling vir die Sentebale-projek, wat hy gestig het om kinders met MIV in Afrika, gesê hy wil die waarheid oor wat nou gebeur aan hulle verduidelik.

“Nie as ’n prins of ’n hertog nie, maar as Harry. Dieselfde mens wat die afgelope 35 jaar voor jul oë grootgeword het, maar met ’n duideliker perspektief.” – Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.