Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Hier is Mej. SA top-10!

Meer as 5 000 mense het Woensdagoggend aanlyn gekyk hoe die toptien van die Mej. SA-finaliste vir 2020 een vir een aangekondig word.

Van hulle is vier van Gauteng, twee van die Oos-Kaap en een elk van die Wes-Kaap, Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal.

Die toptien vroue wat meeding om die titel van Mej. SA. Boonste ry (van links): Aphelele Mbiyo, Busisiwe Mmotla,Chantelle Pretorius, Jordan van der Vyver, Karishma Ramdev. Onder: Lebogang Mahlangu, Melissa Melissa Nayimuli, Natasha Joubert, Shudufhadzo Musida, Thato Mosehle. Foto: Garreth Barclay

Die toptien is: Shudufhadzo Musida (Limpopo), Jordan van der Vyver (Wes-Kaap), Aphelele Mbiyo (Oos-Kaap), Lebogang Mahlangu (Gauteng), Busisiwe Mmotla (Gauteng), Chantelle Pretorius (Gauteng), Natasha Joubert (Gauteng), Thato Mosehle (Noordwes), Melissa Nayimuli (Oos-Kaap) en Karishma Ramdev (KwaZulu-Natal).

Die aankondigings is gedoen deur Liezel Laurie, voormalige Mej. SA en ’n beoordelaar. Toe hul name aangekondig is, het elkeen van die deelnemers dieselfde bruin-en-geel-pakke met Afrika-motiewe aangehad, geborg deur die klerehandelsmerk Khozi Nkosi.

Omdat aanhangers vanjaar kon stem, is daar ook bekend gemaak wie van die vroue die meeste stemme gekry het. Dit was Musida, wat internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer. Sy was bly en geskok om uit te vind sy was Suid-Afrika se gunsteling.

Nadat elkeen se naam aangekondig is, is ’n video gewys van die oomblik toe die nuus aan die vroue oorgedra is.

Onder andere Van der Vyver, Nayimuli en Ramdev het in trane uitgebars en herhaaldelik gesê: “Baie dankie, baie dankie.” Laurie het ook ’n kort onderhoud met elkeen gevoer en onder meer gevra wat die titel van Mej. SA vir hulle beteken.

Van die duisende kykers het deurgaans kommentaar gelewer en hul gunstelingdeelnemers ondersteun. Veral Nayimuli en Ramdev was groot gunstelinge, asook Joubert en Pretorius.

Talle was egter ontsteld dat Olin-Shae de la Cruz van Gauteng nie in die toptien ingesluit is nie. “So jammer vir Olin-Shae. Sou wou hê sy moes verder vorder,” het ’n aanhanger opgemerk.

Die Mej. SA-kompetisie vind vanjaar op 24 Oktober om 17:00 plaas en sal op M-Net en Mzanzi Magic uitgesaai word. Dit is nie bekend waar dit gaan plaasvind nie.

Die vroue wat nie die toptien gehaal het nie, is: Anarzade Omar (Gauteng), Palesa Keswa (Vrystaat), Savannah Schutzler (Wes-Kaap), Matsepo Sithole (KwaZulu-Natal) en Olin-Shae de la Cruz (Gauteng).

Meer oor die finaliste:

Shudufhadzo Musida (23)van Limpopo. Foto: Garreth Barclay
  • Shudufhadzo Musida (23), die publiek se gunsteling, kom van Ha-Masia in Limpopo en het ’n graad in filosofie, politiek en ekonomie aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy is tans besig met ’n BA Honneurs in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy sê sy is vasberade om haar graad te kry en die kompetisie te wen. Sy is trots dat sy ’n Venda-vrou is.
Jordan van der Vyver (24) van die Wes-Kaap. Foto: Garreth Barclay
  • Jordan van der Vyver (24) kom van Groenpunt in Kaapstad in die Wes-Kaap en is ’n internasionale model wat gewoonlik die helfte van die jaar in Amerika werk. Sy kon nie die trane keer toe sy hoor sy is ’n finalis nie en kon skaars ’n woord uitkry. Sy sê weens haar werk moes sy baie gou leer om onafhanklik te wees omdat sy baie oorsee getoer het. Daar het sy baie ander kulture leer ken en sy glo sy verstaan baie verskillende mense.
Aphelele Mbiyo (24) van die Oos-Kaap. Foto: Garreth Barclay
  • Aphelele Mbiyo (24) is in Mthata gebore en het in Port Elizabeth in die Oos-Kaap grootgeword. Sy bly tans op haar eie in ’n woonstel in Johannesburg. Sy het ’n BA in geïntegreerde bemarkingskommunikasie. Sy sê sy is lief vir partytjies hou waar sy vir almal kos maak. Sy wil vir jong vroue wat onseker is oor hulself en hul plek in die wêreld wys hoe om hulself te vind en hul ware self uit te leef.
Lebogang Mahlangu (24) van Gauteng. Foto: Garreth Barclay
  • Lebogang Mahlangu (24) van Soshanguve in Gauteng is ’n voedselwetenskaplike en entrepreneur, en besit ’n bakkery in Soshanguve. Sy sê haar werk as voedselwetenskaplike behels dat sy nuwe kosprodukte help ontwikkel, maar ook dat sy deel is van die implementering van regulasies rondom voedsel. Sy stel belang in die regsaspek daarvan. Sy glo mense moet aanklank vind by die wenner van Mej. SA.
Busisiwe Mmotla (27) van Gauteng. Foto: Garreth Barclay
  • Busisiwe Mmotla (27) kom van Soweto in Gauteng en is ’n senior en VOO-fase-onderwyser wat in 2017 ’n BA-graad aan die Universiteit van Johannesburg behaal het. Sy studeer tans vir ’n diploma in persoonlike afrigting. Sy is in 2017 as Mej. Soweto gekroon. Sy het ook haar haarstyl verander sedert die top-16 aangekondig is. Sy het nou kort hare wat blond gekleur is. Sy is ook die kortste deelnemer. Sy glo omdat sy uitstaan weens haar lengte, kan sy mense help om hul verskille te vier.
Chantelle Pretorius (24) van Gauteng. Foto: Garreth Barclay
  • Chantelle Pretorius (24) van Pretoria in Gauteng is ’n voltydse model. Sy het ’n BCom-graad in sakebestuur deur Unisa behaal. Volgens haar sal die Mej. SA-organisasie ’n platform bied om jong vroue te bemoedig. “Deesdae sit sosiale media so baie druk op jong vroue om perfek te wees en te lyk, dat ek dink dit is uiters belangrik om hulle te wys dat hulle net hulself kan wees. Geen vrou moet haarself met ander vergelyk nie. Elkeen het verskillende eienskappe.”
Natasha Joubert (22) van Gauteng. Foto: Garreth Barclay
  • Natasha Joubert (22) van Centurion is ’n skakelbeampte by ’n prokureurspraktyk en stigter en eienaar van Natalia Jefferys (Edms.) Bpk. Sy het ’n B.Com-graad in bemarkingsbestuur van die Boston City Campus. As sy op die voorblad van enige tydskrif kan wees, sal dit die Afrikaanse tydskrifte Sarie of Huisgenoot wees. Sy het net voor haar verjaarsdag die nuus gekry dat sy in die toptien is, en sy sê dit was die beste geskenk. Sy sê sy het reeds persoonlik baie gegroei en gaan nou daarop konsentreer om aan haar sterk- en swakpunte te werk.
Thato Mosehle (25) van Noordwes. Foto: Garreth Barclay
  • Thato Mosehle (25) van Klerksdorp is ’n dokter wat tans haar internskap voltooi met die doel om ’n narkotiseur te word. Volgens haar is die gesondheidstelsel in die land onder baie druk. Sy het verlof geneem van haar werk en haar tekkies en mediese drag vir hoë hakke verruil, maar sy sal volgende week terugkeer. Met die titel van Mej. SA sal sy daaraan werk om vir elke kind in Suid-Afrika gelyke skoolopleiding te kan gee. Sy sê sy is baie bevoorreg dat sy dit self kon hê.
Melissa Nayimuli (24) van die Oos-Kaap. Foto: Garreth Barclay
  • Melissa Nayimuli (24) van Butterworth, Gauteng, woon nou in Sunninghill, Johannesburg, waar sy werk as ’n rekeningbestuurder vir ’n bemarkingsagentskap. Sy het ’n BA-graad in die skryf van televisie-inhoud. Sy het voorheen ingeskryf vir die kompetisie, maar nie baie ver gekom nie. Sy sê sy het gesukkel met haar identiteit toe sy jonger was omdat haar ma ’n Xhosa-vrou is en haar pa ’n Ugandees. Sy sê egter dat sy op 24-jarige ouderdom nou haarself gevind het as ’n Suid-Afrikaanse vrou.
Karishma Ramdev (25) van KwaZulu-Natal. Foto: Garreth Barclay
  • Karishma Ramdev (25) kom van Chatsworth, maar bly in Johannesburg. Sy is ’n dokter by die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal. Sy het in 2018 die top-12 van die kompetisie gehaal, maar het toe nie verder gevorder nie. Sy sê sy het leeg gevoel ná afloop daarvan en sy moes haarself van voor af vind. Sy het egter besef wie sy is, en dat dit haar missie is om gesondheid en gesondheidsleer in die uithoeke van die land te verbeter.
Meer oor:  Finaliste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.