Die Springbokheld Siya Kolisi en sy vrou, Rachel, is Sondag aangewys as SA se stylvolste paartjie.
Rachel was Maandag nog opgewonde oor dié toekenning.
In ’n reeks video’s op Instagram het sy die kort blou rokkie wat sy na die aankondigingsgeleentheid van die SA Style Awards gedra het, asook ’n foto van haar met ’n trofee gewys.
Siya was nie by die geleentheid nie, volgens Rachel, omdat hy die kinders in die bed moes sit en moes reg wees om Maandagoggend vroeg op te staan. Hy het egter op Twitter gesê Rachel moet eerder huis toe kom om te kom borsvoed, wat dit laat blyk dat hy verkies om haar eerder by die huis in gemaklike klere te hê.

Springbokkaptein Siya Kolisi en sy vrou, Rachel. Foto: Instagram/Rachel Kolisi

Rachel Kolisi poseer in haar blou nommertjie Foto: Instagram/Rachel Kolisi

Kolisi met haar trofee. Foto: Instagram/Rachel Kolisi

Voormalige Mej. SA, Claudia Henkel, in haar rok wat Gert-Johan Coetzee ontwerp het. Foto: Instagram/Claudia Henkel

Tamaryn Green, voormalige Mej. SA, by die toekennings. Foto: Instagram/Tamaryn Green
Ná afloop van die aand vol blink en uitspattige uitrustings het sy ’n video van haarself gedeel waarin sy rustig met haar hoëhakskoene uitgeskop op ’n rusbank lê.
Die gaste wat die aand in Sandton bygewoon het, is gevra om denim-ontwerpersklere aan te trek. Daar was dus verskeie verskillende interpretasies van denim en verskillende skakerings van blou op die rooi tapyt.
Master KG, die sanger van die bekende lied, “Jerusalema” wat al wat leef en beef aan die dans gehad het, is as Suid-Afrika se styl-ikoon aangewys.
“Musiek het vanjaar gedien as ’n manier om eenheid en opbeuring te verskaf, en dit het mense bymekaargebring terwyl hulle uit mekaar moes bly,” het die radio-en-TV-aanbieder Ayanda Thabethe gesê.
Die aand is bygewoon deur voormalige Mej. SA’s Tamarayn Green en Claudia Henkel. Henkel het in ’n pasgemaakte ligblou rok deur die ontwerper Gert-Johan Coetzee geskitter. Green het ’n roomkleurige pak aangehad met pof-skouers wat deur Scalo ontwerp is.
Die beoordelaars het wenners in 11 kategorieë aangewys.
Ander wenners sluit in Blue Mbombo as stylvolste model, Nadia Nakai as die stylvolste musiekkunstenaar en Phathu Makwarela as die stylvolste mediapersoonlikheid.