Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Hoeveel van Fergie is in haar Mills & Boon-boek?
sarah ferguson
Sarah, of soos die pers haar jare terug begin noem het, Fergie, met ’n kompas in die hand. Die foto’s is Woensdag uitgereik saam met die bekendstelling van haar geskiedkundige liefdesverhaal, ‘Her Heart for A Compass’. Foto: Chris Ship/Twitter

’n Geskiedkundige liefdesverhaal met ’n stewige skoot van Fergie, prins Andrew se omstrede rooikop-eksvrou, se eie lewe, gaan deur Mills & Boon uitgegee word.

Her Heart for a Compass is Fergie, oftewel Sarah, die hertogin van York, se eerste skrywe vir die volwasse mark. Sy het jare gelede ’n kinderboekreeks, Budgie the Helicopter, geskryf wat sy met die inperkingstyd laat herleef het.

sarah ferguson, boek
Die voorblad van ‘Her Heart for a Compass’, Fergie se boek vir Mills & Boon. Foto: Amazon

In ’n kort video op haar sosialemediaplatforms stap Fergie – geklee in ’n periode-uitrusting wat haar steeds rooikop komplementeer – met ’n kompas in die hand. Die video is vermoedelik in die tuine van Royal Lodge in die Windsor Groot Park geneem, waar sy steeds saam met Andrew en hul jongste dogter, Eugenie, en dié se man, Jack Brooksbank, woon. Eugenie en Jack word binnekort ouers en het nie soos voorheen berig is in prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se woning Frogmore Cottage ingetrek nie.

Fergie sê in die video haar hoofkarakter, haar groot-groottante lady Margaret Montagu-Douglas Scott, is sterk, rebels en dapper.

Sy sê die idee van ’n boek het vlamgevat toe sy haar herkoms nagespoor het.

“Ek het terwyl ek naslaanwerk oor die Montagu-Douglas Scotts gedoen het, vir die eerste keer van lady Margaret gehoor. Sy het my geïnteresseer omdat ek een van haar doopname deel. Hoewel haar ouers, die hertog en hertogin van Buccleuch, nabye vriende van koningin Victoria en haar man, prins Albert, was, kon ek min oor haar vroeë lewe uitvind... en so is die idee gebore wat uiteindelik tot Her Heart for a Compass gelei het.

sarah ferguson
Sarah, hertogin van York, in die periode-drag waarin sy haar nuwe skrywe vir Mills & Boon aangekondig het. Foto: Chris Ship/Twitter

“Met geskiedkundige gebeure en feite het my verbeelding oorgeneem. Ek het ’n geskiedenis vir haar geskep wat ware mense en gebeure insluit, onder andere ook van my ander voorsate.”

Fergie sê sy het ’n vriendskap tussen Margaret en koningin Victoria se sesde kind, prinses Louise, geskep, en op baie parallelle uit haar eie lewe gesteun om Margaret se reis te skep.

sarah ferguson
’n Kaart van die reise wat Fergie se hoofkarakter, die onkonvensionele en rebelse lady Montagu-Douglas Scotts, in haar soeke na liefde onderneem. Foto: Marguerite Kaye se blog

Koningin Victoria se hof was al vantevore die agtergrond vir een van Fergie se skeppings. Sy het in 2009 met die idee vir die rolprent Young Victoria vorendag gekom en was een van die rolprent se vervaardigers. Sy het ook gehelp met ’n dokumentêr oor prinses Louise van Sakse-Coburg, prins Albert se ma.

Fergie en Andrew se oudste dogter, prinses Beatrice, het selfs ’n klein rol in Young Victoria vertolk.

prins andrew, sarah ferguson
Sarah was aan prins Andrew se sy met die troue van hul jongste dogter, prinses Eugenie, in 2018. Regs is prinses Beatrice, wat ’n klein rol in ‘Young Victoria’ gehad het. Foto: Getty Images

Met Fergie wat sê daar is vele parallelle tussen haar lewe en dié van die karakter Margaret, sal lesers tot Augustus moet wag om te sien of dramatiese gebeure in Fergie se lewe hul weg tot in die boek gevind het.

Fergie is as ’n vars bries beskou wat lewe in die dooierige koningshuis gaan blaas toe sy en Andrew in 1986 verloof geraak het. Die vurige rooikop se modeflaters was kos vir die gulsige poniepers en toe gerugte van hul huweliksprobleme begin opduik, was Fergie se liefdeslewe telkemale voorbladnuus. Foto’s van haar en haar destydse finansiële raadgewer saam met vakansie waar hy haar tone langs die swembad suig, was die doodskoot vir haar en Andrew se huwelik.

Sy het veral in Amerika haar naam aan talle produkte verleen in ’n poging om haar reuseskuldlas te verminder. Andrew het van haar skuld afbetaal en selfs sy omstrede vriend, Jeffrey Epstein, het gehelp.

Hoewel die Yorks ná hul egskeiding op goeie voet was en albei ander verhoudings aangeknoop het, bly Fergie reeds etlike jare weer onder Andrew se dak. Sy ontglip altyd vrae of hulle weer sal trou, maar sy het ná die Epstein-skandaal bankvas agter Andrew gestaan.

Sy en koningin Elizabeth het ook ná die egskeiding in 1996 vriende gebly en sy is elke jaar genooi om by die koningin op Balmoral tydens haar jaarlikse Augustus-vakansie te gaan kuier.

Heart for a Compass is met behulp van Marguerite Kaye geskryf, wat al meer as 50 liefdesverhale vir die uitgewer op haar kerfstok het. Die boek word op 3 Augustus uitgereik. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.