Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry & Meghan: Braaksakkie vir as jy naar is

Wat het ’n poniekoerant en ’n braaksakkie gemeen? Wel, as jy ’n leser van die Britse poniekoerant The Daily Star is, baie, want dié koerant het Sondag sy voorblad omskep in ’n braaksakkie ingeval naarheid mense oorval terwyl hulle Maandagaand na die Oprah-onderhoud met prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, kyk.

Die eksklusiewe en – ná net drie lusmaker-video’s – reeds omstrede onderhoud is Maandagoggend vroeg Suid-Afrikaanse tyd in Amerika uitgesaai, maar eers Maandagaand in Brittanje.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, sê hulle kan uiteindelik hul weergawe vertel oor hoekom hulle nie net die Britse koningshuis nie, maar ook Brittanje verlaat het vir ’n nuwe lewe in Amerika. Foto: Reuters

Die TV-kanaal ITV het ’n miljoen pond vir die onderhoud opgedok. Die onderhoud sal na verwagting meer kykers trek as Harry se ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, se BBC-Panorama-onderhoud in 1995. Toe het 20 miljoen mense wêreldwyd ingeskakel om te hoor hoe die geliefde Diana sê Camilla Parker-Bowles, nou prins Charles se vrou, was die derde persoon in hul huwelik. Sy het ook erken dat sy ’n verhouding met ’n Britse soldaat en haar perdryinstrukteur James Hewitt gehad het.

Die Amerikaanse TV-kanaal CBS het die regte vir die onderhoud reeds aan 68 lande verkoop.

In die onderhoud, waarin belowe word dat Harry en Meghan die waarheid oor hul breekspul met die Britse koningshuis vertel, vra Oprah of hulle in hul kort tydjie as koninklike paartjie “stilgemaak is of net stilgebly het".

Die Britse 'Daily Star', wat gereeld die draak steek met die egpaar se obsessie met privaatheid, het derhalwe hul oë met swart blokke bedek en sy voorblad omskep in ’n 'vomeersakkie' ingeval lesers wat na die Oprah-onderhoud kyk dit benodig. Foto: BBC.com

Die onderhoud is opgeneem voordat The Times of London verlede Dinsdag eksklusief berig het dat Meghan se personeel beweer dat sy hulle geboelie het. Twee persoonlike assistente het binne maande bedank en volgens die klagte het Meghan ’n derde personeellid in haar visier gehad. Personeellede was gereeld in trane en is steeds getraumatiseer oor wat destyds gebeur het, is Sondag in die Britse media berig.

Paleisbronne het Sondag aan The Times gesê nóg erger voorvalle is nie eens genoem in die klagte wat James Knauf, destydse hoof van kommunikasie vir Harry en Meghan, onder die aandag van die paleis se afdeling vir menslike hulpbronne gebring het nie.

Buckinghampaleis het Dinsdagaand onmiddellik ’n ondersoek begin na die voorvalle sodat “lesse daaruit geleer kan word”.

Woordvoerders van Meghan het dié bewerings ontken en gesê hulle vind dit vreemd dat dié ou aantygings skielik in die dae net voor die uitsending van die onderhoud geopper word. Hulle het die bewerings ook as ’n “smeerveldtog” teen die hertogin bestempel.

Volgens paleisbronne sal die koningin nie regstreeks na die onderhoud kyk nie, maar Maandagoggend vroeg deur paleisamptenare ingelig word oor wat gesê is.

Die onderhoud kan Maandag om 19:30 Suid-Afrikaanse tyd op M-Net (DStv-kanaal 101) gesien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.