Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Huiswerker met klerkskap geholpe ná akteur storie deel

’n Zimbabwiër met ’n regsgraad wat huise in Suid-Afrika skoongemaak het uit nood, gaan uiteindelik ’n prokureur kan word te danke aan haar werkgewer, die akteur Tim Theron.

Barbra Gurupira is in die wolke oor haar klerkskap. Foto: Edrea du Toit

Barbra Gurupira (30) het die afgelope week ’n klerkskapkontrak by Human Prokureurs op Vredendal gekry. Theron het vroeër op sosiale media vir hulp gevra deur Gurupira se storie te deel.

Sy het in Desember vir Theron en sy vrou, Juanli, op Stellenbosch huiswerk gedoen. Die egpaar het haar oor haar lewe uitgevra. Die Therons was verras en geskok toe Gurupira vertel sy het verlede jaar haar LLB-graad aan Unisa behaal, maar maak huise skoon. Omdat sy nie ’n klerkskap kon kry nie, het sy by ’n werwingsagentskap vir huiswerkers aangesluit om die pot aan die kook te hou.

“Ek het gedink Tim speel maar net toe hy sê hy gaan my op die internet sit,” het Gurupira die afgelope week aan Rapport gesê.

Haar man, Tafadzwa Musakatiza, wat voorheen tuinwerk gedoen en tans as ’n boekhouer in Dubai werk, het haar gekontak toe hy die storie oor sy vrou sien. “My storie het soos ’n veldbrand versprei. Tafadzwa het gesê hy het my storie gesien, dat dit so aandoenlik is, soos ’n wonderwerk!”

Gurupira vertel hoe sy in haar kinderjare op Mutoko, ’n dorpie noordoos van Harare, daarvan gedroom het om ’n landdros of ’n joernalis te word. “Mutoko was destyds ’n regte gehuggie, net die basiese geriewe, geen krag, geen lopende water en geen ontspanning nie. Ek kom uit ’n gebroke gesin. My ouers is uitmekaar nog voor ek gebore is. Die enigste ding wat ek geken het was werk, harde werk.”

Barbra Gurupira by Tim en Juanli Theron. Foto: Twitter

Gurupira wou altyd die gemeenskap dien en geregtigheid najaag. In 2009 het sy ’n regsdiploma verwerf. Daar was egter nie geld om verder te studeer nie. Sy het toe as huiswerker in Laudium, Pretoria en later Roodepoort gewerk.

In 2016 het sy teruggekeer na Zimbabwe. Sy het as ’n kontroleerder by ’n drankwinkel gewerk terwyl sy deeltyds aan haar regsgraad gewerk het. In Junie verlede jaar het sy haar LLB-graad behaal.

Gurupira wou ’n prokureur in Kaapstad word, maar kon nie hier ’n prokureursfirma vind om haar klerkskap te doen nie. Toe stop haar ma, Esther, ’n kontaknommer vir ’n werwingsagentskap vir huiswerkers in haar hand en dis hoe sy by die Therons op Stellenbosch beland het.

Barbra Gurupira. Foto: Erdea du Toit

Gurupira woon tans in Happy Valley naby Kuilsrivier.

Haar dogter woon nog in Zimbabwe by Gurupira se ouma en “grootmaakma”, Sarah.

Theron het aan Rapport gesê hy en sy vrou is verskriklik bly en opgewonde oor die klerkskap, dat iets positief gekom het uit die sosiale media.

“Dis ’n klein firma waar sy goeie ontwikkelingsgeleenthede en goeie mentorskap gaan kry.”

Meer oor:  Tim Theron  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.