Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Hy gaan sy pak vat, sê Hougaard oor ‘dronkbestuur’

“Ek gaan my pak soos ’n man vat,” het Derick Hougaard, oud-Springbok en eksman van Karlien van Jaarsveld, Maandag gesê toe hy uitgevra is oor ’n voorval waar hy weens beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem is.

Intussen het kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder in Gauteng, bevestig die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur, asook dronkbestuur.

Hougaard het dit by navraag erken.

Die ongeluk waarin Hougaard op 17 November betrokke was.

Die ongeluk het volgens hom sowat 100 m van sy huis gebeur in die landgoed waar hy in Pretoria bly.

Hougaard sê hy het op 17 November saam met ’n vriend by sy huis gekuier. Hy het gery om pizza te gaan kry en by ’n stopstraat het hy teen ’n ander motor vasgery.

“Dis in die landgoed waar ek bly. Hoe ongelukkig kan ’n mens raak?” het Hougaard gevra.

“Dit was nie ’n groot ongeluk nie. Ek is jammer oor wat gebeur het en ek is dankbaar dat niemand beseer is nie.

Ek het nog nie weer met die mense gepraat nie, maar ek wil hulle nooi dat ons op my stoep kan sit om oor die saak te praat,” het Hougaard gesê.

Volgens hom was van sy vriende by die ongelukstoneel vir die polisie kwaad, wat veroorsaak het dat die polisie dalk strenger opgetree het.

Dis in die landgoed waar ek bly. Hoe ongelukkig kan ’n mens raak?

“Dit was ook verkeerd. ’n Mens moet respek hê vir gesag,” sê hy.

Hy was onlangs in die nuus nadat ’n betraande Karlien van Jaarsveld verlede Dinsdag op sosiale media gesê het dat hul vierjarige tweeling “weg” is. Hougaard was saam met sy twee seuns by ’n konsert in Pretoria en mense het haar laat weet dat hy besope is, het Van Jaarsveld op Instagram gesê.

Hoewel hy nie veel daaroor wil uitbrei nie, sê Hougaard mense moet in gedagte hou dat ’n storie altyd twee kante het.

“Die restaurant waar ons was het net een hysbak. Die kinders was heeltyd onder toesig en was veilig.

“My naam is baie sleg gemaak die afgelope ruk, maar daar is min mense wat nie geraamtes het nie,” sê Hougaard.

My naam is baie sleg gemaak die afgelope ruk, maar daar is min mense wat nie geraamtes het nie.

Van Jaarsveld het intussen gesê dat sy regstappe teen Hougaard oor die voorval wil indien. Hougaard wou nie daaroor praat nie.

“Dis vakansie en ek dink mense is moeg om van ons strooi te hoor. Daar is baie mense wat deur dieselfde gaan en ook in die toekoms sal gaan,” het Hougaard gesê.

Hy het onlangs aansoek gedoen om ’n afrigterspos by die Blou Bulle en hy is bekommerd dat die afgelope weke se drama sy kanse om aangestel te word, kan beïnvloed.

“Die pos is my grootste droom. Ek wil graag rugby afrig en by manne soos Rassie Erasmus leer. Dit sal die hartseerste ding wees as die laaste bietjie van die jaar my kanse benadeel,” sê hy.

“Die slegste ding van die afgelope weke is die mense na aan my wat swaar gekry het oor die dinge wat hulle in die nuus gelees het. Ek is jammer daaroor,” sê Hougaard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.