Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Is dít die rede hoekom Harry, Meghan op eiland nesskop?

Mense mag nie foto’s van prins Harry en sy vrou, Meghan, in hul nuwe tuiste neem nie. Veral nie steelfotograwe wat in bosse skuil om die niksvermoedende hertogin en haar seuntjie, Archie, af te neem waar sy met hul twee honde stap nie.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex. Foto: Reuters

Die Sussexe se regspan het onmiddellik ná die publikasie Dinsdag van steelfoto’s van Meghan in ’n park in North Saanich op Vancouver-eiland ’n regswaarskuwing oor die gebruik van steelfoto’s aan die Britse media, TV- en foto-agentskappe uitgereik. Die poniekoerant The Sun en verskeie ander mediahuise het van die foto’s gepubliseer.

Die Sussexe geniet in Brits-Colombië, Kanada, die beskerming van die wet teen die neem van enige onregmatige foto’s – ook dié van steelfotograwe.

Privaatheidswetgewing is streng in Brits-Colombië. ’n Regter moet bloot bevind dat die aangeklaagde die verweerder se privaatheid bewustelik geskend het. Die verweerder hoef ook nie te bewys of hulle enige skade gely het nie.

Lede van die media staan onder Horth Hill in North Saanich op Vancouver-eiland waar die Sussexe tans tydelik woon. Foto: Reuters
Lede van ’n Australiese mediahuis staan naby die eiendom waarin prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, tans naby North Saanich in Brits-Colombië, Kanada, woon. Foto: Reuters

Die paartjie kla verder dat steelfotograwe met langlenskameras buite die hekke van hul tydelike woning in North Saanich saamdrom en met lang lense fokus op die miljoenêrswoning waarin die Sussexe tans hul nuwe vryheid weg van die koningshuis geniet.

Die hekke van die woning is met seil bedek om die paartjie meer privaatheid te gun en tydelike heinings is om die woning aangebring.

Harry en Meghan het in die TV-dokumentêr wat Tom Bradby van ITV van hul koninklike toer na Suider-Afrika gemaak het, gepraat oor die fel kollig en boeliegedrag van veral die Britse poniekoerante. Harry het selfs gesê hy sal nie betrokke raak in die dodelike mediaspeletjie waarin sy ma, Diana, vasgevang was nie.

Dit was ook duidelik in Harry and Meghan: An African Adventure dat Diana se dood in 1997 steeds by hom spook. Diana is aan noodlottige beserings dood ure nadat die motor waarin sy was teen ’n pilaar in ’n tonnel in Parys, Frankryk, gebots het. Daar is later bevind die bestuurder, wat van steelfotograwe probeer wegjaag het, was onder die invloed van drank.

‘Ou’ foto’s op Instagram

Meghan, hertogin van Sussex, het kort voordat sy na Vancouver-eiland vertrek het, besoek aan die Mayhew-hondeskuiling gebring.Foto: Instagram/SussexRoyal

Foto’s van Meghan by ’n hondeskuiling is Woensdag op haar en Harry se Instagram-profiel Sussex Royal geplaas.

Die plasing van die foto’s was op presies dieselfde tyd dat besonderhede oor prins Charles se toespraak in Davos by die Wêreld- Ekonomiese Forum bekend geword het.

Met die Sussexe wat nie meer werkende lede van die koningshuis is nie en dus onafhanklik van Charles en prins William se huishoudings funksioneer, sal sulke botsende plasings moontlik gereeld in die toekoms plaasvind.

Die foto’s is geneem op 8 Januarie, die dag waarop die Sussexe hul aankondiging gedoen het dat hulle as senior koninklikes terugstaan. Die volgende dag het Meghan uit Londen na Brits-Colombië gevlieg waar haar en Harry se eersteling, Archie, die heeltyd was. Harry het hom Dinsdag by sy vrou en kind aangesluit. Steelfoto’s waar Harry van die vliegtuig in Vancouver, Kanada, afklim, is ook in die Britse media gepubliseer.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.