Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Is ‘koue oorlog’ op pad ná Sussexe se onderhoud?
Prins Harry het hom vir ’n deel van die onderhoud by sy vrou, Meghan, aangesluit. Oprah Winfrey se eksklusiewe onderhoud het Maandag wêreldwyd opslae gemaak. Foto: Reuters

Het ’n oorlog pas begin of gaan dit ’n koue oorlog wees?

Aantygings van rassisme en ’n ongevoeligheid teenoor Meghan, hertogin van Sussex, se versoeke om hulp omdat sy selfdoodgedagtes het, is iets wat die Buckinghampaleis nie sommer sal kan ignoreer nie.

Boonop het CBS, wat die regte vir Oprah Winfrey se onderhoud met Meghan en prins Harry bekom het, Maandagmiddag nóg ’n handgranaat oor die spreekwoordelike paleismuur gegooi.

In die kort video-uittreksel vertel Harry hoe ’n uitnodiging aan hom en Meghan om by die koningin op Sandringham te gaan kuier summier teruggetrek is nadat die inhoud van ’n brief aan sy pa, prins Charles, aan die instelling gestuur is. In die brief is die Sussexe se planne uitgestippel om as senior koninklikes terug te staan.

Meghan vertel in die onderhoud hoe sy en Harry mekaar se hande gedurende dié openbare verskyning so styf vasgehou het dat die wit van haar kneukels sigbaar was. Meghan se geestestoestand was hier – die foto is op 16 Januarie 2019 geneem – so beroerd dat sy bang was dat Harry haar alleen tuis sou los. Foto: Getty Images

Harry sê toe hulle op 6 Januarie uit Kanada in Brittanje aankom (hulle het die Kersvakansie daar deurgebring), was daar ’n boodskap van sy ouma om te sê hy kan onder geen omstandighede Sandringham toe kom nie. Haar private sekretaris het verder gesê sy is ook die res van die week onbeskikbaar.

Harry het steeds sy ouma gebel en gesê hy wil kom kuier, maar sy het vir hom gesê sy het vergeet van ander afsprake in haar dagboek.

Op Winfrey se vraag of die koningin nie kan doen wat sy wil nie, antwoord Harry wanneer jy die hoof is van “The Firm (prins Philip se benaming vir die Britse koninklike gesin), word jy omring deur raadgewers en dat van dié raadgewers slegte raad gee. Met dié uitlating het Harry die mes nog dieper in die “manne in grys” gesteek. Sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, het so verwys na die paleisamptenare, wat ook haar lewe hel gemaak het.

In die onderhoud was Meghan die meeste van die tyd aan die woord. Haar beskuldiging dat die instelling haar nie wou help toe sy selfdoodgedagtes gehad het nie omdat dit nie goed is vir hul beeld nie, en dat selfs Harry se pleidooie by sy familie oor sy vrou se geestestoestand op dowe ore geval het, is ’n dolk in die hart van die monargie.

“Niemand” in die koninklike familie het ook iets gedoen nadat 70 vroulike Britse LP’s in ’n brief hul steun aan Meghan toegesê het weens die “koloniale ondertone” van beriggewing oor die Sussexe nie, het Harry gesê.

Die koningin en Charles, Harry se pa, was ook op die hoogte van sy en Meghan se planne om te wil terugstaan as senior koninklikes. Harry het drie keer met sy ouma hieroor gepraat, maar sy pa het ná Harry se tweede oproep nie weer sy oproepe beantwoord nie.

Meghan en Harry het drie dae voor hul troue op 19 Mei 2018 in Windsor stil-stil in die agtertuin van hul woning getrou. Die Windsor-troue, het hulle besef, is vir die ‘wêreld’. Foto: Getty Images

Van die ander onthullings is:

• Harry en Meghan is drie dae voor hul sprokiestroue in Windsor in die privaatheid van hul klein agtertuin deur die aartsbiskop van Kantelberg in die huwelik bevestig;

• Meghan het geen hulp by paleisamptenare gekry nie en moes self sien kom klaar. Sy moes tot op Google gaan soek om die woorde van “God Save the Queen” te leer;

• Die koninklike familie was bereid om leuens te vertel ten koste van Harry en Meghan om ander lede van die familie te beskerm;

• Dit was Catherine, Meghan se skoonsuster, wat Meghan laat huil het voor die troue, anders as die skinderstories wat aan die media gelek is dat Meghan vir Catherine in trane gehad het. Dié feit is nooit deur die instelling reggestel nie;

• Familielede het in verskeie gesprekke met Harry melding gemaak van Archie se velkleur, iets wat Harry met Meghan gedeel het. Meghan het verstaan dat Archie nie die titel van prins sou kry nie uit vrese dat sy velkleur te donker sal wees. Meghan was geskok oor die idee dat haar seun nie 24/7-polisiebeskerming sou kry nie, bloot omdat hy nie die titel “prins” het nie. Archie, wat sewende in die lyn as opvolger is, sal eers sy koninklike hoogheid (HRH) heet wanneer Charles koning word volgens reëls wat koning George V meer as 100 jaar gelede uitgevaardig het;

• Charles het in die eerste kwartaal van verlede jaar, toe die Sussexe hul skeiding van die koningshuis aangekondig het, alle finansiële steun aan sy seun en sy gesin gestaak. Dit is dus gedoen ná die sogenaamde Sandringham-beraad, wat gevolg het nadat die Sussexe op 9 Januarie aangekondig het dat hulle as senior koninklikes wil terugstaan. Die beraad was tussen die koningin, Charles, Harry en William;

• As dit nie vir die erflating van sy ma, Diana, was nie, sou die Sussexe nie met ’n nuwe lewe buite koninklike kringe kon begin nie. Harry sê al wat hy wil doen, is om genoeg geld te verdien om vir die beskerming van homself en sy gesin te betaal;

• Harry en William se verhouding het ná “Megxit” verskraal tot een van “baie ruimte”, hoewel Harry benadruk het dat hy en sy broer saam deur hel is en hy sy broer liefhet;

• Die koninklike familie is bang vir die Britse poniepers omdat hulle vrees die poniepers kan sy rug op die familie keer; en

• Harry se persoonlike lyfwagte, op wie hy as ’n seun van ’n troonopvolger geregtig is, is onttrek tydens hul tydelike verblyf in Kanada.

Die Britse media se voorblaaie Maandag nadat die onderhoud in die vroeë oggendure in Amerika uitgesaai is. Foto: Getty Images

Harry en Meghan se aantygings laat ernstige vrae ontstaan, veral oor rassisme in die koninklike familie en in die paleisgange.

Dit is ook bitter moeilik om te glo dat niemand in die familie Meghan wou help toe sy met geestesgesondheidsprobleme gesukkel het nie. Haar swaer en skoonsuster, William en Catherine, se liefdadigheidswerk het ’n groot fokus op geestesgesondheid.

En die vraag waaroor almal wonder, is wie die senior familielid is wat in ’n gesprek met Harry verwys het na die velkleur van Harry en Meghan se toekomstige kinders. (Die egpaar het op ’n ligter noot bekend gemaak dat hul tweede kind ’n dogtertjie is en in die Amerikaanse somer haar opwagting gaan maak.)

Harry het deur die onderhoud toe te staan nóg verder gegaan as sy ma in 1995 gedurende die BBC-Panorama-onderhoud.

Van die aantygings laat dit ook lyk of geen lesse geleer is uit Diana se moeilike en pynlike aanpassing in die koningshuis nie en ook nie uit die omstrede wyse waarop haar egskeiding van Charles hanteer is nie.

En dit is veral Charles, net soos in die Panorama-onderhoud, wat weer onder ’n plettervat deurloop.

• Winfrey het dit aan die begin van die onderhoud duidelik gemaak dat die egpaar nie vergoeding vir die onderhoud ontvang nie.

• Harry en William het elk sowat £6,5 miljoen geërf toe Diana in 1997 dood is. Die geld is toe belê. Hy het uiteindelik op sy 30ste verjaardag in 2014 sowat £10 miljoen gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.