Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Jo Black het ge-Ghoema soos g’n ander
Jo Black met sy ongelooflike sewe Ghoema-toekennings. Foto: Simon Sonnekus

Die room van die Afrikaanse musiekbedryf is Sondagaand vereer op die Ghoema-musiektoekenningsgeleentheid in Johannesburg, maar dit is die bebaarde Jo Black wat die meeste pryse gewen het.

Black het die paadjie na die verhoog van die Theatre of Marcellus in Emperors Palace aan die Oos-Rand keer op keer gestap: vir album van die jaar, manlike kunstenaar van die jaar en nuweling van die jaar. Sy liedjie “Skepe” en die gelyknamige album is onderskeidelik ook die digitale liedjie en die digitale album van die jaar.

Boonop is “Skepe” die gewildste liedjie van die jaar en Black het ’n ereprys gekry as die beste verkoper.

Juanita du Plessis het nog ’n prys vir haar versameling: Sy is aangewys as vrouekunstenaar van die jaar.

Karlien van Jaarsveld het met Sing vir liefde vir Eva Morgan, Heidi, Irene-Louise van Wyk en Sharoney uitgestof en die prys vir die beste popalbum deur ’n vrouekunstenaar gewen.

Daar was twee wenners in die kategorie vir beste popalbum deur ’n manskunstenaar met Kurt Darren en Jay wat onderskeidelik gewen het met Laat die dansvloer brand en So lank sal ek jou lief.

Lees ook: Só het die Ghoema-prysaand verloop 

Steve Hofmeyr. Foto: Simon Sonnekus

Steve Hofmeyr het met sy album Skree die prys vir die beste kontemporêre album deur ’n manskunstenaar gewen, met Liezel Pieters as die vroulike eweknie vir Sing my hart uit.

Hofmeyr is ook as die publiek se gunstelingmanskunstenaar aangewys en Van Jaarsveld as die gunstelingvrouekunstenaar.

Die rocker Francois van Coke het met sy album Hierdie is die lewe die prys vir die beste alternatiewe album gewen, terwyl die vrouerockgroep Saarkie se Queen van die toorbos met die louere weggestap het vir die beste rockalbum.

Die Heuwels Fantasties is aangewys as die groep van die jaar en hul lede – Hunter Kennedy, Fred den Hartog en Pierre Greeff – is vereer in die kategorie beste liedjieskrywer: samewerkingsgroep.

Chris Chameleon het die kategorie vir beste solo-liedjieskrywer gewen.

Die Ghoema-raad van trustees het ’n ereprys vir lewensbydrae aan Lydia Winchester, befaamde musiekpromotor, oorhandig en die Klipwerf-boereorkes het die Ghoema-diamant-ereprys gekry vir hul bydrae van meer as 50 jaar tot die Afrikaanse musiekskat.

Meer oor:  Ghoemas  |  Jo Black  |  Johannesburg  |  Vermaak  |  Toekennings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.