Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Kanada sê hy dok nie op vir Sussexe se veiligheid

Wie gaan nou vir Harry, Meghan en Archie se veiligheid opdok?

Buckinghampaleis se woordvoerders se lippe is gesnoer, maar Kanada het Donderdagaand gesê hoewel dié land ’n deel van die reuse-veiligheidsrekening betaal het sedert die Sussexe in Kanada is, hulle dit nie meer sal doen sodra Harry en Meghan as senior koninklikes terugstaan nie.

Harry en Meghan . . . wie gaan vir hul veiligheid betaal? Foto: Getty Images

Die Kanadese Mounties (die Royal Canadian Mounted Police) het Donderdag in ’n verklaring gesê die paartjie en hul kleinding is in Kanada beskerm omdat Harry en Meghan as internasionaal beskermde persone geklassifiseer is, maar dat die twee se status binne weke gaan verander en dat Kanada derhalwe nie meer vir hul beskerming sal opdok nie.

Die minister van openbare werke se woordvoerder het aan Global News Canada gesê omdat die Sussexe tydelik in Kanada was en as internasionaal beskermde persone geklassifiseer word, het die Mounties lede van die Britse metropolisie gehelp om Harry, Meghan en Archie se veiligheid te verseker.

Scotland Yard het reeds vroeër vandeesweek in dokumente wat die Britse dagblad The Mirror onder oë gehad het, gesê hy het ’n tekort aan bekwame en opgeleide mense om na senior koninklikes se veiligheid om te sien.

Harry en Meghan se veiligheidsrekening kan boonop met soveel as £20 miljoen per jaar styg. The Mirror het berig dat daar tot 12 wagte sal moet wees om na die Sussexe om te sien.

Harry het vandeesweek in Edinburg, Skotland, aangekom vir ’n ekotoerismekonferensie, terwyl Meghan en Archie in Kanada agtergebly het – wat reeds beteken dat meer veiligheidspersoneel ’n ogie oor hulle moet hou.

Harry is vandeesweek in Edingburg, Skotland, weer beskerm deur veiligheidswagte verbonde aan die Britse metropolitaanse polisie se spesiale eenheid wat na die veiligheid van senior lede van die Britse koninklike familie omsien. Foto: Getty Images

Meghan kom aanstaande week in Brittanje aan vir haar laaste verpligtinge as senior koninklike. Dit is nog nie bekend of sy Archie in Kanada gaan agterlaat of saamneem nie. Indien sy en Archie nie saam na Londen reis nie, sal daar dus drie stelle veiligheidspersoneel na haar, Harry en Archie onderskeidelik moet omsien.

Harry en Meghan het aanvanklik in Januarie in hul “onafhanklikheidsverklaring” op hul webtuiste gesê omdat hulle internasionaal beskermde persone is, sal hul veiligheidsituasie onveranderd bly.

Kort ná hul aankondiging dat hulle beplan om vir eers in Kanada te woon, het die Kanadese dagblad The Globe and Mail in ’n kommentaarstuk geskryf die Sussexe is welkom in Kanada, maar nie as Kanadese belastingbetalers moet opdok vir hul veiligheid nie.

In ’n verklaring wat Harry en Meghan verlede Vrydag uitgereik het, is daar ook vermeld dat hulle steeds voldoende veiligheid benodig weens Harry se openbare profiel as lid van die Britse koningsgesin en sy militêre diensrekord, asook Meghan se “eie onafhanklike profiel”.

Of die paartjie self vir hul veiligheid gaan opdok of van koningin Elizabeth of prins Charles gaan verwag om ’n deel van die rekening te betaal, bly ’n ope vraag – veral aangesien die paleis nie op veiligheidskwessies kommentaar wil lewer nie.

Die een seker ding is dat die koninklike gesin ten alle koste ’n herhaling van die dood van Harry se ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, wil vermy.

Diana het ná haar egskeiding van Charles haar koninklike beskermingsdienste opgesê omdat sy weer haar vryheid wou smaak.

Steelfotograwe het haar egter oral gevolg. Daar is foto’s waar sy in Londen se strate probeer weghardloop het van die fotograwe of haar handsak voor haar gesig gehou het.

Sy is in 1997 dood nadat sy (sonder koninklike beskermingsmagte) ná ’n ete in die Ritz-hotel in Parys, Frankyk, saam met haar minnaar, Dodi al-Fayed, van steelfotograwe probeer wegjaag het.

Hoewel die bestuurder van die motor onder die invloed van drank was, het hy in die jaagtog teen ’n pilaar in die Alma-tonnel gebots. Hy en Al-Fayed is op slag dood. Diana se inwendige beserings het ure later haar lewe geëis.

Al-Fayed se lyfwag het die ongeluk oorleef, maar kan weens geheueverlies steeds nie onthou wat dié betrokke aand gebeur het nie. – Bykomende bronne: Global News Canada, The Mirror, SussexRoyal.com

Meer oor:  Kanada  |  Koninklike Familie  |  Veiligheid  |  Meghan En Harry  |  Sussexe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.