Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Koninklikes hou beraad oor Harry, Meghan se toekoms

“Ek het my arms ons hele lewe om my broer gehou. Ek kan dit nie meer doen nie.”

Harry was glo bekommerd dat Meghan breekpunt bereik het en het daarom hul “onafhanklikheidsverklaring” Woendag bekend gemaak. Dié foto, wat Woensdag tydens ’n besoek aan Kanadahuis in Londen geneem is, kan moontlik een van die laastes wees waar die paartjie as senior koninklikes in die openbaar verskyn. Foto: Getty Images

Dié woorde van prins William aan 'n vriend dui op die yslike kloof tussen die twee broers na wie hul ma, Diana, as “my boys” verwys het en gehoop het hulle sal altyd op mekaar kan steun, veral wanneer William die troon bestyg.

’n Grensverskuiwende krisisberaad word Maandag op Sandringham gehou waar die topvier-koninklikes mekaar vir die eerste keer in die oë sal kyk ná die Sussexe se skokaankondiging Woensdag dat hulle as senior koninklikes wil terugstaan, op twee vastelande gaan woon en finansieel onafhanklik wil wees.

Koninklike korrespondente is dit eens dat die koningin die leisels ferm vashou met dié samesprekings en Harry nie van sy titel sal stroop soos sy destyds met sy ma, Diana, ná haar egskeiding van Charles gedoen het nie.

William se hartseer

Prins Harry en prins William op Harry se troue. Toe was die breuk tussen die twee broers nog nie so onoorkombaar soos tans die geval blyk te wees nie. Foto: Getty Images

Volgens ’n vriend van William is hy bitter hartseer oor die breuk tussen hom en Harry.

“Ons is afsonderlike entiteite. Ek is hartseer daaroor. Al wat ons kan doen, en al wat ek kan doen, is om hulle te ondersteun en te hoop dat daar ’n tyd sal kom waar ons weer almal op dieselfde bladsy sal wees,” berig The Sunday Times.

Die voorblad van Sondag se Sunday Times. Tom Bradby, ’n vriend en vertroueling van Harry, skryf oor die gevare wat ’n onderhoud met Harry en Meghan kan inhou as hulle reeds so eerlik met hom in sy dokumentêr, Harry and Meghan: An African Journey, gepraat het.

Maak ’n plan – en gou

Hoewel die koningin raadgewers en regeringsamptenare versoek het om binne 72 uur met ’n plan vorendag te kom, sal onderhandelinge ook nie afgejaag word nie juis weens die ingewikkeldheid verbonde aan die vergoeding wat Harry van die koningin as monarg sowel as Charles ontvang, sê Robert Jobson, koninklike korrespondent van die Evening Standard.

’n Ooreenkoms sal volgens verskeie kenners eers later vandeesweek bekend gemaak word.

’n Voormalige perssekretaris van die koningin, Dickie Arbiter, sê dié grondverskuiwende beraad is ongekend in die moderne monargie. Arbiter was die perssekretaris tydens Diana se dood en die jare voor hul egskeiding wat as die “War of the Waleses” bekend gestaan het.

Die privaat sekretarisse van elke kantoor, asook regeringsamptenare, is tans deel van ’n groter gesprek in ’n poging om die Sussexe tegemoet te kom.

Op die krisisberaad se agenda

Van die voorstelle wat Maandag aan Harry voorgelê gaan word, is hoe hul “uittrede” as koninklikes hulle nie net taksgewys sal raak nie (in Brittanje én Kanada), maar ook hul veiligheid en verblyf. Tans dok Britse belastingbetalers vir hul lyfwagte op en is miljoene pond gebruik vir die opknapping van hul tuiste.

Die paartjie het in hul lywige “onafhanklikheidsverklaring” op hul webwerf sussexroyal.com gesê hulle sal graag hul tuiste in Windsor – Frogmore Cottage – wil behou. Hulle sal egter indien hulle as senior koninklikes terugstaan ook in dié geval huur moet betaal.

Verder onder bespreking sal die hoeveelheid amptelike verpligtinge wees wat die paartjie in Brittanje en in die buiteland namens die Britse regering en die koningin onderneem. Hulle wil bitter graag veral met die Statebond hul werksaamhede verrig.

Afhangend van hoe die samesprekings vorder sal hul koninklike titels – Sy Koninklike Hoogheid en Haar Koninklike Hoogheid – asook hul hertogdom ook ter sprake kom, berig The Sunday Times.

Die kommersiële bedrywighede wat Harry en Meghan beplan, sal verder bepaal moet word. Sy het reeds ’n ooreenkoms met die vermaaklikheidsreus Disney vir stemwerk aangegaan.

Senior koninklikes bly weg van enige kommersiële bedrywighede om die monargie verleentheid te spaar, soos toe prins Andrew se gewese vrou, Fergie, haar koninklike titel verloor het en allerlei produkte op Amerikaanse TV gesmous het.

Meghan, hertogin van Sussex, prins Harry, prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, in Julie 2018 op Buckinghampaleis se balkon. Die twee broers is glad nie meer so na aan mekaar soos wat altyd die geval was nie. Foto: Getty Images

Isolasie, jaloesie en rassisme

’n Bydraende faktor tot die beraad – Meghan sal van Kanada af inskakel – is Harry sowel as Meghan se geestestoestand.

Tom Bradby, ’n TV-joernalis wat ’n dokumentêr oor die paartjie se besoek einde verlede jaar aan Suid-Afrika gemaak het, skryf in ’n rubriek in The Sunday Timesdit was sy voorstel dat die hertog en hertogin iets persoonliks oor hulself in die dokumentêr sê. Albei van hulle se isolasie en kwesbare geestestoestand was reeds in die dokumentêr duidelik.

Die paartjie voel geïsoleerd in die koninklike familie, terwyl ander koninklikes voel die paartjie is moeilik en dat alles moontlik gedoen is om Meghan welkom te laat voel, sê Bradby.

Daar is ook gerugte van jaloesie oor die paartjie se rockstergewildheid, maar terselfdertyd ’n bewustheid dat Harry en Meghan juis ’n jonger en meer diverse groep mense kan bereik.

’n Onderhoud?

Gissinge dat die paartjie ’n sielsopenbarende onderhoud kan doen, doen reeds die afgelope paar dae die rondte, hoewel Gayle King van CBS reeds ontken het dat sy so ’n onderhoud sal doen, berig The Sun.

Ook Bradby, ’n vriend en vertroueling van Harry, skryf oor die gevare wat ’n moontlike onderhoud met Harry en Meghan kan inhou as hulle reeds so eerlik met hom in sy dokumentêr, Harry and Meghan: An African Journey, gepraat het.

Spoke van Diana se Panorama-onderhoud waarin sy onder meer gesê het Charles is nie geskik om koning te word nie en prins Andrew se onlangse rampspoedige onderhoud oor sy vriendskap met die seksoortreder Jeffrey Epstein sal dus Maandag in die gedagtes wees van diegene wat om ’n tafel in Sandringham die waardigheid van die Britse monargie sal bepaal.


Tot die honde is saam Kanada toe

Skerms is voor die hekke van die landgoed op Vancouvereiland aangebring waar prins Harry, Meghan, Archie en hul veiligheidswagte ses weke lank in ’n miljoenêrswoning deurgebring het. Foto: Reuters

In ’n teken van hoe ernstig Harry en Meghan oor hul toekomsplanne is, is albei hul honde ook reeds op Vancoucereiland. Die een, Guy, is Meghan se hond wat voor hul verlowing van Kanada na Brittanje geneem is.

Archie, hul eersteling, het ook in Kanada agterbly toe sy ouers ná hul ses week lange vakansie na Londen teruggekeer het om hul aankondiging te doen. Meghan is reeds Donderdag op ’n vlug van British Airways terug na Kanada en het toe met ’n kommersiële vliegtuig na Vancouvereiland gevlieg om só steelfotograwe te ontwyk.

Draadheinings is ook om die gronde van die miljoenêrswoning in North Saanich op Vancouvereiland aangebring. Foto: Reuters


Wantroue en lekkasies

Tom Bradby, ITV-joernalis en vriend van Harry en William, sê Woensdag se skokaankondiging was glad nie ’n verrassing vir die drie topkoninklikes nie. Hulle was bewus van Harry en Meghan se sielsongelukkigheid in die familie en het gevra dat die twee iets op skrif sit. Harry, wat gevrees het vir enige lekkasies, wou nie.

Die Britse poniekoerant The Sun het toe wel Woensdag berig oor Harry en Meghan se planne en Harry het besluit om ondanks sy ouma se versoek om vir eers hul planne stil te hou totdat daar ’n gesprek kon wees, tog sy en Meghan se planne bekend te maak.

Verhoudinge is so beroerd sleg dat Harry se kamp William en Charles se kamp verdink van lekkasies en William se kamp weer die Sussex-kamp.


Die twee skoonsusters

Die Cambridges en Sussexe op 25 Desember 2018. Harry en Meghan het by William en Catherine in hul huis, Anmer Hall, gebly. Hoewel die twee hertoginne met mekaar op die foto gesels, het William dit vermy om met Meghan te praat toe hulle op die trappies buite die kerk staan om koningin Elizabeth ná die kerkdiens af te sien. Foto: Getty Images

Onmin tussen die twee broers se vroue was die begin van die breuk wat nou dreig om Harry en Meghan as blote randfigure buite die familiesfeer te laat staan. Meghan en Catherine praat glo reeds ses maande lank nie met mekaar op die familie se WhatsApp-groep nie. William se vermaning oor of Harry Meghan lank genoeg geken het voordat hulle getroud is, het ook nie gehelp nie.

Bykomend was verskeie voorvalle wat voor die troue op 19 Mei 2018 in die St. George-katedraal in Windsor plaasgevind het. Een bakleiery was oor die rokkie wat prinses Charlotte as blommemeisie wou dra en waaroor Catherine in trane was. Die ander was oor Meghan se aandrang daarop om ’n spesifieke tiara in die koninklike versameling (glo een waaroor Diana dol was – die Lover’s Knot) te dra.

Die koningin het ingegryp omdat Harry bloot gesê het: “What Meghan wants, Meghan gets.” Meghan kon toe uiteindelik nie met die Lover’ Knot as hooftooisel spog nie en moes ’n ander tiara uit die koningin se versameling opsit.

Bykomende bronne: ITV, The Sunday Times, Reuters, The Sun, Mailonline, SkyNews, Mailonline, The Sunday Times; verwerk.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.