Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Federer se Kolisi-wens word uiteindelik waar

Die tennisikoon Roger Federer se wens om Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, te ontmoet het toe gouer waar geword as wat hy gedink het.

Roger Federer kry Donderdag ’n stewige druk en verwelkoming van Siya Kolisi. Foto: Twitter, Siya Kolisi

Federer het Woensdag in Kaapstad gesê hy het Saterdag familieverpligtinge en sal nie die Stormers se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland kan bywoon, óf Kolisi vooraf kan ontmoet nie.

Die twee sportmanne het mekaar Donderdag by ’n bemarkingsgeleentheid van een van Federer se borge ontmoet en selfs minitennis gespeel.

Kolisi het agterna foto’s en ’n video op Instagram en Twitter gedeel.

Die Stormers-kaptein het gesê dit was ’n plesier om die Switser te ontmoet.

“ ’n Ware sportikoon. Jou woorde inspireer my steeds en was ’n belangrike deel van my lewensreis. Dit was ’n eer om jou in Kaapstad te verwelkom.”

Die Switserse maestro het sterk Suid-Afrikaanse bande omdat sy ma, Lynette, hier gebore en getoë is.

Hy was verlede jaar in die wolke nadat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het en het dadelik vir Kolisi ’n boodskap van gelukwensing gestuur.

Die Switser en sy jarelange Spaanse mededinger Rafael Nadal pak mekaar Vrydagaand in die Kaapstad-stadion ten bate van die Roger Federer-stigting.

Deur sy liefdadigheidswerk het hy al meer as $52 miljoen ingesamel vir die finansiering van onderwys- en sportprogramme vir kinders in Afrika.

Hy glo sterk aan ’n goeie opvoeding en onderwys in ’n kind se vormingsjare.

Siya Kolisi en Roger Federer maak geselsies. Foto: Twitter | Siya Kolisi
Gaan jy Vrydag kom tennis kyk, vra Roger Federer vir Siya Kolisi. Foto: Twitter | Siya Kolisi

Die stigting het ’n streekkantoor in Suid-Afrika en het programme in Suid-Afrika, Botswana, Malawi, Namibië, Zambië en Zimbabwe, asook Switserland.

Volgens die stigting het meer as 1,5 miljoen kinders die laaste 16 jaar baat gevind by beter gehalte onderwys.

Federer was Woensdag in Windhoek om hom te vergewis van die skoolgereedheid van kinders, onderwysers en ouers wat daar deel is van sy inisiatief.

Hy het ook pres. Hage Geingob ontmoet.

Vrydag se Match in Africa is die sesde in Federer se liefdadigheidsreeks. Die vorige wedstryde is in Zürich, Switserland, Seattle, en San José beslis.

Federer het Woensdag gesê hy hoop om met die Kaapstadse wedstryde meer as $1 miljoen in te samel.

Daar was Donderdag ’n paar geleenthede waar beleggers en sakelui hom vlugtig kon ontmoet en hul beursies uithaal.

  • Die organiseerders hoop om terselfdertyd ’n nuwe wêreldrekord op te stel vir die meeste toeskouers by ’n tenniswedstryd. Die huidige rekord van 42 517 is in November verlede jaar opgestel toe Federer en die Duitser Alexander Zverev ’n vertoonwedstryd in Mexikostad gespeel het.
  • Federer en Nadal pak mekaar om 20:30.
  • Federer en Bill Gates speel om 19:30 ’n dubbelswedstryd teen Nadal en Trevor Noah.
  • Albei wedstryde sal regstreeks op SS 1 uitgesaai word.
Meer oor:  Roger Federer  |  Siya Kolisi  |  Tennis  |  Federer Teen Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.