Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Kommer neem toe oor Ysterhertog

Kommer oor die toestand van prins Philip neem toe nadat ’n duidelik emosionele prins Charles sy 99-jarige pa Saterdagaand in die hospitaal besoek het.

Weens die koronavirus-pandemie word hospitaalbesoeke tans net in heel uitsonderlike gevalle toegelaat.

’n Duidelik emosionele prins Charles sit in die motor nadat hy Saterdagaand sy pa in die King Edward VII-hospitaal in Londen besoek het. Hospitaalbesoeke word tydens die koronaviruspandemie slegs in uitsonderlike gevalle toegelaat. Foto: Getty Images

Philip, eggenoot van koningin Elizabeth, is verlede week Dinsdag na die King Edward VII-hospitaal in Londen geneem nadat hy dae lank ongesteld was.

Volgens ’n verklaring van Buckingham-paleis het die prins, met die gepaste naam die Ysterhertog, self die hospitaal ingestap en is hy nie vir enige Covid-19-verwante sake gehospitaliseer nie.

Die prins is onder observasie en om te rus. Later verlede week het ’n bron aan Town & Country gesê Philip sal heel moontlik tot vandeesweek in die hospitaal bly.

Charles het meer as 320 km heen en weer gependel om vanaf sy plattelandse woning, Highgrove, na die hospitaal te reis.

Hy was die eerste lid van die gesin wat die hoof van die Mountbatten-Windsor-familie besoek het.

Twee polisie-offisiere bewaak die ingang na die King Edward VII-hospitaal in Londen waar prins Philip reeds sedert verlede week Dinsdag behandeling ontvang. Foto: Getty Imagesa

Hoewel Charles by ’n agterdeur van die hospitaal ingegaan het, is die media tans by alle in- en uitgange van die hospitaal gestasioneer ingeval die koningin of ander lede van die gesin die Ysterhertog besoek.

Met Philip se vorige hospitaalopnames, in 2011 weens ’n geblokkeerde koronêre aar, ’n blaasinfeksie in 2012 en maagchirurgie in 2013, het min lede van die familie hom besoek, juis weens al die media-aandag.

Die nuusagentskap Associated Press het berig volgens die hospitaal se webtuiste word besoeke van familie tans net in buitengewone omstandighede toegelaat weens die pandemie.

Volgens berigte het Charles sy ouers laas voor Kersfees gesien.

Met die uitbreek van die pandemie verlede jaar is Philip per helikopter van die koninklike landgoed Sandringham in Norfolk na Windsor geneem waar hy en die koningin van die langste aaneenlopende tydperke saam kon deurbring. ’n Sogenaamde koninklike borrel is om hulle gevestig, met ’n verminderde groep personeellede wat drie weke lank na hulle omsien voordat ’n volgende groep personeel vir drie weke diens doen.

Prins Philip in 2015. Foto: Getty Images

Philip, wat in Junie sy 100ste verjaarsdag vier, en die 94-jarige koningin het in Januarie die entstof teen Covid-19 ontvang.

Prins William, wat self die virussiekte gehad het, het kort daarna in gesprekke met gesondheidswerkers gesê hy is ongelooflik trots dat sy grootouers hulle laat inent het.

Philip, wat in sy jonger dae krieket en polo gespeel het, is ook ’n bedrewe perdekarryer en het sy liefde vir dié sport oorgedra aan sy kleindogter, lady Louise Wessex.

Philip het in 2017 sy uittrede uit die openbare lewe aangekondig. Ná duisende afsprake en koninklike toere op sy eie of aan die sy van die koningin het hy sy aftrede in Wood Farm, ’n gerieflike kothuis op die Sandringham-landgoed, deurgebring deur te skilder en te lees.

In Januarie 2019 was die prins, wat nog self sy motor bestuur het, in ’n motorongeluk betrokke. Hoewel die Land Rover Freelander op sy sy beland het, het Philip met skaars ’n skrapie self uit die motorwrak geklim. Weens kritiek dat hy steeds op so ’n hoë ouderdom bestuur, het die paleis aangekondig dat hy nie meer self motor sal bestuur nie.

- Aanvullende bronne: BBC.com, SkyNews, Town & Country.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.