Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Koningin en haar prins vier 73 jaar saam

’n Foto van koningin Elizabeth en prins Philip is pas uitgereik ter herdenking van hul 73ste huweliksherdenking Vrydag.

Dié foto van koningin Elizabeth en prins Philip in die Windsor-kasteel is Donderdagaand uitgereik ter ere van hul 73ste huweliksherdenking. Hulle kyk na ’n tuisgemaakte kaartjie van prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, se kinders. Die koningin dra die krisant-borspeld-borsspeld wat sy ook op foto’s gedurende haar wittebrood gedra het. Foto: Getty Images

Chris Jackson, ’n gerekende koninklike fotograaf, het die intimiteit tussen die 99-jarige hertog en 94-jarige koningin perfek vasgevang. Hulle kyk na ’n tuisgemaakte kaartjie deur prins William se drie kinders, George, Charlotte en Louis, met die groen grasperk en ’n deel van die Windsor-kasteel sigbaar deur die vensters.

Die koningin se handsak, wat sy gewoonlik selfs op amptelike foto’s by haar het, is nie sigbaar nie – ’n teken van die intieme kykie wat sy Jackson vir ’n oomblik op haar en haar man van sewe dekades gegee het.

Die destydse prinses Elizabeth en haar aantreklike vlootoffisier-man, prins Philip, kort ná hul troue in die Westminster-abdy. Die amptelike foto’s is in Buckinghampaleis geneem. Foto: Getty Images

Die koningin en die hertog het reeds die grootste deel van vanjaar in ’n sogenaamde “koninklike borrel” in die kasteel deurgebring. Hulle was in Augustus soos gewoonlik na Balmoral in die Skotse hooglande vir hul somervakansie. Dit was die eerste keer dat hulle ook hul gesinslede kon sien.

Sowel prins Charles as prins William het reeds die virus opgedoen.

Die paartjie met hul diamanthuweliksherdenking op Broadlands deurgebring, die landgoed wat aan prins Philip se oom, lord Louis Mountbatten, behoort het. Hulle het hul wittebrood op Broadlands deurgebring. Foto: Getty Images

Elizabeth is die eerste Britse monarg wat ’n platinum-huweliksherdenking vier.

Sy en Philip, ’n Griekse prins en Britse vlootoffisier, is in 1947 in Westminster-abdy getroud. Philip het ’n tiara van sy ma laat opbreek om vir sy toekomstige bruid ’n verloofring te laat maak. Hy het ook ’n pragtige diamant-armband vir haar ontwerp as trougeskenk.

Dié foto is in 1972 met die viering van hul silwerhuweliksherdenking uitgereik. Die foto is op Balmoral geneem. Foto: Getty Images

Philip het hom in 2017 aan die openbare lewe onttrek en het die meeste van sy tyd in ’n kothuis op die koninklike landgoed Sandringham deurgebring. Met die aanbreek van die eerste vlaag van die pandemie in Brittanje het hy hom kort voor Paasfees by die koningin in die Windsor-kasteel aangesluit.

Die pandemie het aan die paartjie van die langste tye saam gegee ná Philip se uittrede. Hoewel prins Charles en William, asook ander lede van die familie, baie van die koningin se take oorgeneem het om haar werklas te verlig, handhaaf sy ’n gedissiplineerde werkskedule en kry steeds elke dag ’n rooi tas met staatsdokumente wat sy deurgaan en onderteken.

Vanjaar sal moontlik die eerste keer in dekades wees dat die koningin en Philip nie soos gebruiklik Kersdag op Sandringham saam met hul gesin deurbring nie.

Prins Philip en die destydse prinses Elizabeth in 1947 gedurende hul wittebrood op Broadlands. Die koningin dra op dié foto die krisant-borsspeld. Dit is ’n groot saffier omring deur diamante. Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.