Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Harry, Meghan is 'vry', maar agterdeur is oop

Koningin Elizabeth hou ’n agterdeur oop vir prins Harry en sy vrou, Meghan, om oor ’n jaar weer ’n toetrede tot die koninklike familie te maak indien hulle sou wou.

Die Sussexe het tien dae gelede in ’n skokaankondiging gesê hulle wil terugstaan as senior koninklikes, finansieel onafhanklik wees en groot dele van die jaar in Noord-Amerika woon.

Die “toets-egskeiding” wat tussen onderhandelaars van die koningin, prins Charles, prins William en die Sussexe bereik is, gee Harry en Meghan hul sin, maar op die koningin se voorwaardes.

Hulle het ’n jaar om hul nuwe vryheid te geniet, en sal oor ’n jaar besluit of dié skeiding van die koninklike gesin permanent moet wees, het die Britse The Sunday Times Sondag berig.

Dit sal verklaar hoekom die paartjie nie van hul koninklike titel Sy en Haar Koninklike Hoogheid gestroop is nie, maar dit net nie meer gaan gebruik nie.

Paleisamptenare wil met dié titelonderskeiding ruimte skep tussen die toekomstige kommersiële aktiwiteite van die paartjie en die Britse monargie.

Die koningin en die Sussexe se “vredesooreenkoms” wat Saterdagaand uitgereik is. Foto: AP

Volgens Roya Nikkah van The Sunday Times het Meghan en Harry onderneem om nie handelsmerk-ambassadeurs te word nie en die koningin te respekteer in enige kommersiële ooreenkomste wat hulle aangaan.

Hoewel Harry en Meghan nog geen kontrakte aangegaan het nie, het Harry reeds met die kletskoningin Oprah Winfrey saamgewerk aan ’n program vir Apple TV oor geestesgesondheid, en is Meghan betrokke by stemwerk vir Disney in ruil vir ’n donasie aan die bewaringsorganisasie Elephants Without Borders.

Hoewel hulle gehoop het om ’n “progressiewe” rol binne die koningshuis te ontwikkel, is dit ná Saterdagaand se aankondiging nie meer moontlik nie. Omdat die paartjie nie meer werkende koninklikes gaan wees nie kan hulle byvoorbeeld geen koninklike toere namens die koningin onderneem nie. Hul koninklike toer na Suid-Afrika verlede jaar was hul eerste en enigste as gesin.

Frogmore Cottage in Windsor sal steeds die Sussexe se woning in Brittanje bly, maar teen ’n prys. Hulle sal die 2,4 miljoen pond wat dit Britse belastingbelaters gekos het om die huis vir hulle op te knap terugbetaal en markverwante huur betaal. Foto: AP

In ruil vir die gebruik van hul tuiste in Windsor, Frogmore Cottage, as ’n basis in Brittanje, gaan hulle die miljoene ponde wat uit belastingbetalers se sakke gekom om dié geskiedkundige woning te verbreek en te verbeter terugbetaal. Hulle sal ook, soos verwag is, markverwante huur betaal. Personeel wat vir hulle gewerk het, word na ander afdelings van die koninklike huishouding verplaas.

Prins Charles sal sy seun en sy gesin steeds “private finansiële ondersteuning” gee, het die koninklike korrespondent Robert Jobson op Twitter gesê. Charles onderhou sy seun uit die verdienste wat hy uit die hertogdom van Cornwall verdien.

Die koningin het nie uitgewei oor wie vir die paartjie se veiligheid gaan opdok nie.

Dit is nog onduidelik of die Sussexe hul voorgenome stigting SussexRoyal gaan noem en wel die gelyknamige geregistreerde handelsmerk gaan gebruik omdat hulle tegnies nie meer koninklik is nie.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, sal steeds saam met die koningin op amptelike geleenthede kan verskyn, maar Harry sal nie meer ’n militêre uniform mag dra nie. Dié foto is op 10 Julie 2018 geneem met die viering van die koninklike lugmag se verjaarsdag. Foto: AP

Harry bly egter steeds ’n prins en sesde in die opvolgingslyn.

Die koningin het ook die versekering gegee dat Harry, Meghan en Archie deel van haar gesin bly. In Brittanje is die afgelope paar weke bespiegel dat die Sussexe hulself al meer geïsoleerd van die res van die koninklike gesin gesien en “uitgestoot” gevoel het.

Die verrassende element in Saterdagaand se aankondiging was dat Harry van ál sy militêre eretitels afstand sal moet doen.

Die koningin het dit ook duidelik gemaak dat sy en die koninklike gesin bewus was van Harry se toekomsplanne en dat gesprekke hieroor voor voorverlede Woensdag se aankondiging reeds geruime tyd aan die gang was.

Aandenkings van prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, is reeds op uitverkoping in talle winkels in Brittanje. Foto: Reuters

Meghan se vervreemde pa, Thomas Markle, sê in ’n nuwe dokumentêr, Thomas Markle: My Story, wat binnekort uitgesaai gaan word, sy dogter en haar man verwoes en maak die koningshuis goedkoop met hul optrede.

Aandenkings van Harry en Meghan is reeds in talle Britse aandenkingswinkels op uitverkoping. Enigiets van koekblikke tot koffiebekers kan nou teen winskooppryse aangeskaf word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.