Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Koninklike beraad: 10 feite oor Harry en Meghan

Wat is die tien goed wat Maandag ter sprake is wanneer die topvier-koninklikes op Sandringham koppe bymekaar sit oor prins Harry en sy vrou, Meghan, se toekoms in die Britse koningshuis? Arlene Prinsloo vertel.

Die vergadering tussen koningin Elizabeth en prinse Charles, William en Harry, sal die eerste geleentheid wees waar die vier mekaar in die oë kyk ná Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se skokaankondiging verlede Woensdag.

Die Sussexe het in ’n kort, maar kragtige verklaring aangekondig hulle staan terug as senior koninklikes, wil graag op twee vastelande - Noord-Amerika en Brittanje - woon, en finansieël onafhanklik wees.

Op hul nuut ontwerpte webwerf het hulle breedvoerig uiteengesit hoe hulle hul toekoms sien, behalwe om te meld hoe hulle voortaan hul geld sal verdien.

Verteenwoordigers van elk van die vier koninklikes se kantore het die afgelope paar dae in opdrag van die koningin hard gewerk om moontlike oplossings te vind om nie net Harry en Meghan gelukkig te hou nie, maar ook die aansien van die Britse monargie te beskerm.

Verskeie opsies sal aan Harry voorgelê word. Meghan sal na verwagting van Kanada inbel. Na verwagting sal die uitkoms van die gesprek eers later die week bekend gemaak word.

Indien wel sal die Sussexe dan ook veranderings aan hul webwerf moet aanbring.

1. Wie gaan hulle onderhou?

Harry en Meghan is miljoenêrs uit eie reg, maar nie in die klas van hul vriende, die akteur George Clooney en sy menseregte-prokureurvrou, Amal, nie.

Prins Charles onderhou grootliks die paartjie, met ’n vyfde van hul inkomste afkomstig van ’n toelaag wat hulle by die monarg kry.

Dit is dié toelaag wat die paartjie in hul “onafhankliksheidsverklaring” gesê het hulle nie meer benodig nie. Alle senior koninklikes wat in opdrag van die koningin verpligtinge behartig, ontvang só ’n toelaag.

• Charles betaal byvoorbeeld vir al Meghan se klere wanneer sy en Harry amptelike reise namens Brittanje of die koningin onderneem.

• Harry en Meghan sal steeds, soos tans die geval is, van hul persoonlike fortuin gebruik indien hulle nieamptelike reise onderneem. Die paartjie het verlede jaar erg deurgeloop omdat hulle tydens hul somervakansie ’n private vliegtuig gebruik het.

Die Sussexe is vriende met die akteur George Clooney en sy menseregte-prokureurvrou, Amal. Meghan het al met hul private straler van New York na Londen gevlieg. Foto: Getty Images

2. Hoe gaan hulle geld verdien?

Dit is die vraag op almal se lippe. Meghan het volgens berigte reeds ’n kontrak met die vermaaklikheidsreus Disney vir stemwerk gesluit.

In ruil vir dié stemwerk sal ’n skenking aan die organisasie Elephants Without Borders gegee word.

Ander werkgeleenthede soos gassprekers of ambassadeurs vir handelsname - is ook ’n moontlikheid.

Dieselfde maatskappy wat die ontwerp van Sussexroyal.com behartig het, was verantwoordelik vir Meghan se blog, The Tig.

Dié blog kan moontlik herleef of Meghan kan selfs ’n boek skryf.

Britse koninklikes word weens hul posisie nie toegelaat om handelskontrakte te sluit nie, om die monargie te beskerm teen aantygings dat lede hul posisie uitbuit vir eie gewin.

3. Wat word van Frogmore Cottage?

Die paartjie het op Sussexroyal.com gesê hulle wil Frogmore Cottage steeds as basis in Brittanje gebruik.

Dié besluit berus egter by die koningin.

Omdat Frogmore Cottage teen ’n aansienlike koste van miljoene rande van die Britse belastingbetalers opgeknap en beveilig is, sal die twee nie gratis daar kan aanbly indien hulle terugstaan as koninklikes nie. Hulle sal huur moet betaal.

Die opknappingswerk aan Frogmore Cottage in Windsor Groot Park in Windsor, is uit Britse belastingbetalers se sak betaal. Die Sussexe het egter self vir die binneversiering en meubels betaal. Foto: Getty Images

4. Wat van hul titels?

Net koningin Elizabeth kan die paartjie van hul koninklike titels Sy/Haar Koninklike Hoogheid stroop, sy is egter nie geneë om dit te doen nie, aangesien sy Harry se ma, Diana, se HKH-titel ná haar egskeiding van Charles weggeneem het en dit ’n uiters ongewilde besluit was.

Ook prins Andrew se gewese vrou, Fergie, se HKH is ná haar egskeiding van die prins weggeneem, wat Fergie in staat gestel het om in Amerika met haar “koninklike status” kommersiële verpligtinge aan te gaan en allerlei produkte te smous.

Koningin Elizabeth en prins Harry ná die troue verlede jaar van lady Gabriella Windsor in die St. George-kapel in Windsor-kasteel. Foto: Getty Images

5. Wat van hul veiligheid?

Die paartjie se beveiliging word deur ’n spesiale afdeling van die Britse metropolisie behartig.

’n Span van ses bewaak die paartjie en hul seun, Archie, te alle tye.

Indien die paartjie groot dele van die jaar in Kanada of Amerika gaan deurbring, sal hul veiligheidsbegroting die hoogte inskiet.

Die Britse belastingsbetalers sal nie geneë wees om vir dié rekening pa te staan nie. Nie alle senior koninklikes kry ook sodanige beveiliging nie. Indien hulle ná Maandag se beraad steeds wil terugstaan as senior koninklikes, sal hulle self vir hul lyfwagte moet betaal tensy daar op ’n ander ooreenkoms besluit word.

’n Man, vermoedelik ’n lyfwag, vra die man in die blou T-hemp, Hasan Hasanov, om nie ’n foto van Meghan en haar vriendinne op Wimbledon te neem nie. Hasanov was besig om ’n selfie te neem van hom en Serena Williams op die tennisbaan. Foto: Getty Images

6. Dubbele taks?

Die paartjie sal indien hulle langer as 183 dae per jaar in Kanada woon, belasting op hul wêreldwye inkomste moet betaal.

In Brittanje is dit 90 dae.

Kenners van die Britse en Kanadese inkomstediens is geken in voorstelle wat Maandag aan Harry gedoen sal word.

7. Bly Harry ’n troonopvolger?

Harry is sesde aanspraakmaker op die kroon ná Charles, William en sy drie kinders, prins George, prinses Charlotte en prins Louis.

Harry se posisie sal nie geraak word deur die samesprekings nie. Dít kan slegs deur parlementêre wetgewing verander word.

Koningin Elizabeth het die krisisberaad byeengeroep. Sy is Sondag vir die eerste keer met ’n gehoorapparaat gesien toe sy vanaf Sandringham na die kerkie op die koninklike landgoed vir ’n kerkdiens geneem is. Foto: Getty Images

8. Hoeveel werk sal hulle in die toekoms vir Brittanje en die koningin doen?

Oorsese toere word op uitnodiging van die Britse departement van buitelandse sake gedoen.

Die paartjie sê op hul webwerf dat hulle graag hul werk vir die koningin, veral met betrekking tot die Statebond, sal wil voortsit.

Dié werk sal egter volgens die koningin se diskresie voortduur, afhangende watter vordering met Maandag se vergadering gemaak word.

Prins Harry en Meghan het Suid-Afrika verlede jaar op uitnodiging van die Britse departement van buitelandse sake besoek. Op die foto is hulle saam met hul eersteling, Archie. Foto: Getty Images

9. Wat van al die liefdadigheidsorganisasies wat hulle steun?

Die prins en sy vrou hoef nie titels te hê om hul liefdadigsheidsorganisasies voort te sit nie.

Die verlies aan titels kan wel ’n invloed hê op dié organisasies se aantrekkingskrag vir voornemende skenkers of borge.

10. Wie gaan almal nog saampraat?

Dit is heel moontlik dat die topvier eers net mekaar gaan gesels voordat sir Edward Young (koningin Elizabeth se privaatsekretaris), Clive Alderton (Charles), Simon Case (William) en Fiona Mcilwham (Harry) hulle by die gesprek sal aansluit.

Gerugte wil dit hê dat Mcilwham, ’n diplomaat voor haar aanstelling by Harry, sou verlede week glo gesê het sy is ’n pos in die departement van buitelandse sake se Irak-afdeling aangebied “wat dalk makliker” as die huidige koninklike tameletjie sou wees.

Die ingang na Sandringham in Norfolk, waar die koninklike beraad Maandag plaasvind. Foto: Getty Images

- Bykomende bronne: The Sunday Times, SkyNews en Mailonline; verwerk.

Meer oor:  Londen  |  Britse Koninklikes  |  Meghan En Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.