Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Kuier saam met sterre en help Teaterbystandsfonds en
Frank Opperman

In Kersfees met die sterre/ Xmas with the Stars – ’n konsert ten bate van die Teaterbystandsfonds (TBF) – gaan talle akteurs, aanbieders, omroepers en sangers ’n ander sy van hul talente ten toon stel.

David Louw, bekend om sy rol in die sepie Getroud met rugby, wys hoe hy toor, die akteur Frank Opperman hou sy lyf rocker en die akteur Wynand van Vollenstee, Gielie in Ouboet en Wors, gaan ook sing.

Almal tree gratis op tydens die konsert by die Garden World-kwekery in Muldersdrift, Gauteng, op 29 November, wat ook vermaak vir kinders en allerlei stalletjies insluit.

Eloise Cupido

Die opbrengs van die kaartjieverkope gaan aan die TBF, ’n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat sedert 1964 bestaan. Dit sien om na diegene wat ernstig siek is en die behoeftiges en die bejaardes in alle beroepe in die vermaaklikheidsbedryf.

Barry Snow is tans die voorsitter.

“Dit dien elke enkele beroep binne die vermaaklikheidswêreld – in televisie, teater, radio, die sirkus, rolprentwese, lewende optredes, towernaars en goëlaars. Dit is al daardie mense, sowel as hul wettige afhanklikes,” sê die aktrise Lizz Meiring, ’n komiteelid wat ook in die konsert gaan optree.

“Die fonds sorg permanent vir ’n groot aantal behoeftige bejaarde mense uit die bedryf wat totaal daarvan afhanklik is. Die bejaardes na wie omgesien word, het tydens hul beroepslewe bloot te min verdien om geld te kon wegsit en het geen familie- of gemeenskapsteun nie.”

Ander bekendes wat gaan optree, sluit in Liane Heyl, Michelle Botha, Eloise Cupido, Willie Strauss, Kaz McFadden en Hugh Masebenza.

“Die terrein is gratis vir die konsert beskikbaar gestel. Die tegnici doen dit ook gratis vir ons, so elke sent gaan aan die TBF,” sê Meiring.

“Die organisasie bied finansiële bystand vir bejaardesorg, mediese hulp en sorg, begrafnisse, opvoedkundige of entrepreneursontwikkeling en gratis lesings en werkswinkels vir alle potensiële en huidige werknemers in die kunstebedryf, aangebied deur kenners in die onderskeie vakgebiede.”

Liane Heyl Foto: Theana Breugem
David Louw

Sodra die TBF van moontlike begunstigdes verwittig word, word ’n vorm aan die betrokke mens gestuur om inligting rakende sy of haar finansiële behoeftes te bekom.

“Die vorm, volgens die bepalings van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en wetlike vereistes vir ’n weldaadsorganisasie, vra gedetailleerde inligting oor die finansiële en sosiomaatskaplike omstandighede sowel as die mediese welstand en onkoste.”

Al hierdie inligting word vertroulik gehou. Die TBF se uitvoerende komitee besluit dan of hulp verleen kan word.

*Die konsert is op 29 November om 19:30 vir 20:00 en duur ongeveer 80 minute.

Skakel 011 957 2545 of stuur ’n e-pos met jou besonderhede en die aantal kaartjies na corne@gardenworld.co.za of magriet@gardenworld.co.za.

Kaartjies kos R60 vir volwassenes, R40 vir kinders onder 14 en R40 vir blokbesprekings van tien of meer.

*Stuur ’n e-pos aan tbf@live.co.za indien jy die TBF geldelik wil ondersteun of meer oor die organisasie wil uitvind.

Jy kan ook ’n SMS met die woord “TBF” na 49701 stuur. Met elke SMS skenk jy R30.

Meer oor:  Frank Opperman  |  Lizz Meiring  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.