Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Charlotte hou van spinnekoppe en Louis praat!

Dit is ’n koninklike eerste: Die kans om al drie Cambridge-spruite vir die eerste keer in die openbaar te hoor praat.

En al sê die tweejarige prins Louis net vyf woorde, is dié jongste kind van prins William en sy Catherine duidelik reeds ’n knaap wat sy man voor die kamera kan staan.

In die kort video wat die hertog van hertogin van Cambridge Saterdagmiddag op sosiale media uitgereik het, kon prins George (7), prinses Charlotte (5) en prins Louis (2) elk vir sir David Attenborough ’n vraag vra, en antwoord hy rustig en entoesiasties die kleingoed se vrae.

Prins George, prinses Charlotte, sir David Attenborough en prins Louis soos hulle in die kort video verskyn. Foto: Skermgreep/Die hertog en hertogin van Cambridge

Die gewoonlik selfversekerde prinses Charlotte kyk anders as haar twee boeties nie eens reguit in die kamera nie en kom amper skugter voor – nes sy gedoen het op die een foto wat voorverlede week uitgereik is toe die Cambridges sir David by die Kensington-paleis verwelkom het.

Weens die voortslepende ontwrigting van die koronavirus-pandemie is die première van sir David se jongste rolprent, “David Attenborough: A Life On Our Planet” in die Cambridges se private tuin by die Kensington-paleis gehou en het die opgewonde drie Cambridge-spruite kans gekry om hul held nie net in lewende lywe te ontmoet nie, maar hom ook met vrae te peper oor dinosourusse.

Groot was koninklike bewonderaars se verrassing toe William en Catherine Saterdagmiddag die kort video van hul kinders se vrae aan sir David uitreik.

In die vraesessie kom George voor as ’n selfversekerde seuntjie: “Hallo David Attenborough. Watter spesie gaan volgende uitsterf?”

Die kleingoed kon onlangs hul held sir David Attenborough ontmoet toe die omgewingslegende en prins William die première van sir David se jongste rolprent in die private tuin van die Cambridges gehou het. Prinses Charlotte kon skaars glo dat sy Attenborough in lewende lywe kon ontmoet. Foto: Getty Images

Sir David antwoord hy hoop daar sal nie enige wees nie “omdat daar baie is wat ons kan doen om diere wat die gevaar loop om uit te sterf, te beskerm”. Hy vertel verder hoe hy Afrika jare gelede besoek het en hoe min berggorillas daar destyds was, maar danksy mense se skenkings en betrokkenheid daar nou honderde meer berggorillas is.

“Hallo David Attenborough! Ek hou van spinnekoppe, hou jy ook van spinnekoppe?” vra Charlotte volgende. Sir David antwoord entoesiasties dat spinnekoppe “wonderlike goed is. Hoekom is dit dan dat mense so skrikkerig vir hulle is?”

Louis kom laaste aan die beurt, maar steel absoluut die kollig met sy vraag oor wat sir David se gunstelingdier is, om nie te praat van sy nuutskeppende uitspraak van ‘animal’ nie!

“Apies”, antwoord sir David, en verduidelik dan dat ’n mens nou nie juis apies in jou huis kan aanhou nie, maar as hy tussen ’n hond of ’n kat moes kies, hy beslis ’n hond sou kies.

Die drie Cambridges, die volgende generasie van die Britse koningshuis, is almal van kleins af ingestel op die natuur. Foto: Skermgreep/Die hertog en hertogin van Cambridge

Om die drie Cambridge-kinders voor die kamera te laat praat, was duidelik ’n weldeurdagte besluit van hul ouers. Nie een van die drie praat met die “aartappel in die mond” wat so kenmerkend van die Britse adelstand is nie. Benewens hul uitspraak skyn dit ook lig op die invloed wat prins Charles op sy seuns gehad het. Charles het hom van jongs vir die bewaring van die omgewing uitgespreek en was ’n voorloper as klimaataktivis. Hy het juis onlangs gesê ’n groter ramp as die koronavirus-pandemie wag indien die wêreld nie nou na die omgewing omsien nie.

Die Cambridge-kinders se video is natuurlik ook uitgereik om voorbrand te maak vir die uitsending van William se dokumentêre program, “Prince William: A Planet For Us All”.

Dit is Maandagaand op ITV in Brittanje te sien.

William sê onder meer in die program dat pa-wees sy uitkyk op die lewe verander het. Jy wil die omgewing en natuurlewe in ’n “baie beter toestand” aan die volgende geslag oorhandig, sê die pa van drie.

Die prins is al van kleins af (nes sy kinders) ’n bewonderaar van sir David. Hy het in die onderhoud wat hy verlede jaar met hom gevoer het op die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos gesê: “Toe ek ’n jong seun was, was ek dol daarop om die televisie aan te sit en na David se programme te kyk. Dit het regtig gevoel of ek terug was in Afrika of dat ek iets wonderlik oor die planeet kon leer.”

Hy het sir David ook krediet gegee as die “enkele mees belangrike” invloed op sy eie denke oor bewaring.

Dekade lange verbintenis

Prins George en prinses Anne ontmoet David Attenborough en sy kokketiel, Cocky, in 1958 gedurende ’n besoek aan die BBC se TV-ateljees in Londen. Foto: Getty Images

Die 94-jarige sir David is net so oud soos koningin Elizabeth. Sy bande met die koninklike familie strek al oor vier geslagte, berig The Telegraph.

In 1958 kon ’n jong Charles en prinses Anne gedurende ’n toer van die BBC se TV-ateljees in Londen vir Attenborough ontmoet.

Hy en die koningin het ’n hegte vriendskap opgebou toe hy van 1986 tot 1991 die vervaardiger was van haar jaarlikse Kersboodskap.

Hy is in 1985 tot ridder geslaan en in 2005 het die koningin haar orde van meriete aan hom toegeken.

Die twee is ook saam gesien in ’n dokumentêr, “The Queen’s Green Planet”, waar hulle al geselsend deur die op dié stappie bome uitgewys wat al sedert koningin Victoria se tyd in die tuine is.

• Daar is tans nie enige inligting of “Prince William: A Planet For Us All” in Suid-Afrika te sien sal wees nie.

Sir David se rolprent is van Sondagaand op Netflix te sien.

– Bykomende inligting: ITV en The Telegraph.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.