Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Dit is Eugenie se troudag

Al die bestanddele is daar vir ’n troudag soos min. Die bruid is ’n prinses. Daar is ’n kasteel met ’n pragtige kapel, ’n familie-tiara én familie-drama. En ... moenie van die koetsrit vergeet nie. Arlene Prinsloo berig.

Prins Andrew en Fergie buite die Portland-hospitaal in Londen ná die geboorte van prinses Eugenie in 1990. Foto: Getty Images

Prinses Eugenie se troudag Vrydag met Jack Brooksbank beloof om ’n koninklike skouspel soos min te wees.

Windsorkasteel is, soos met prins Harry en Meghan Markle se troue in Mei vanjaar, die manjifieke agtergrond vir die troue.

Anders as ander junior lede van die koningsgesin beloof prinse Eugenie se troue om skouspelagtig te wees. Daar is ’n erewag wat ná die huweliksbevestiging weerskante van die trappe van die St. George-kapel stelling sal inneem, ’n internasionale ster, Andrea Boccelli, wat vir die paartjie in die kerk gaan sing, en natuurlik ... ’n bruidsgevolg wat ál koningin Elizabeth se agterkleinkinders en jongste twee kleinkinders sal insluit. Net twee babas sal nie daar wees nie.

Jack Brooksbank en prinses Eugenie se amptelike verlowingsfoto. Foto: Getty Images

Die verlowing en tiara:

Eugenie en Jack moes weens prins Harry en Meghan se verlowing en troue wag met die aankondiging van hul eie verlowing in Januarie vanjaar.

Hul herfstroue moes ook ingepas word in senior koninklikes se dagboeke wat ses maande vooruit beplan word.

Met die unieke verloofring, ’n rooskleurige Padparadscha-saffier omring deur tien volmaak geslypte diamante, met twee diamante weerskante, het Jack en Eugenie hulde gebring aan Eugenie se ma, Sarah, hertogin van York, wie se verloofring ’n robyn omring deur diamante was.

Eugenie sal heel moontlik ook soos haar ma die York-tiara dra. Sarah, ofte wel Fergie, het met ’n blommekroon haar aanstaande, prins Andrew, tegemoet gestap, maar ná die huweliksplegtigheid die blommekroon afgehaal om die pragtige York-tiara te ontbloot. Dié tiara is in opdrag van koningin Elizabeth gemaak as geskenk vir haar naasoudste seun se nuwe bruid.

Sarah, ofte wel Fergie, met die York-tiara. Foto: Getty Images
Prins Andrew saam met sy twee dogters, die enigste twee bloedprinsesse van hul generasie, in 2006 op die balkon by Buckinghampaleis. Foto: Getty Ima
Prins Andrew en Fergie deel steeds ’n huis en is sedert hul egskeiding op ’n baie goeie voet. Die paartjie het in Junie vanjaar die Ascot-perdewedrenne saam met prinses Eugenie en Jack Brooksbank bygewoon. Foto: Getty Images
Die York-suster, prinses Eugenie en prinses Beatrice, is vriende met hul nefies, prins William en prins Harry, en het gereeld saam vakansie gehou. Hier is die viertal in 1995 in Klosters, Switserland. Foto: Getty Images

Die familiedrama ... die tone suig, Philip en Camilla

Prinses Eugenie se troue gee uiteindelik aan Fergie die kans om haarself weer in die binnekring van die koninklike gesin te bevind.

Die rooikop Fergie is met haar verlowing en troue aan prins Andrew as ’n vars bries in die koningsgesin beskou. Ongelukkig het prins Andrew se loopbaan in die vloot sy tol op die huwelik geëis. Fergie en haar skoonsus, Diana, ontslape prinses van Wallis, het destyds saam beplan om die koningsgesin te verlaat, maar Diana het koue voete gekry.

Fergie se buite-egtelike verhouding en daardie skandaal toe haar destydse finansiële konsultant haar tone langs ’n swembad gesuig het, was vir prins Philip een te veel. Hy kon sy skoondogter en latere gewese skoondogter nie meer voor sy oë verduur nie.

Die St. George-kapel in Windsor. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth het haar goeie verhouding met Fergie voortgesit, en haar gereeld vir kuiertjies in Balmoral genooi, mits Philip nie tuis was nie.

Die troue, met amptelike troufoto’s, sal vir sowel Fergie as prins Philip ewe ongemaklik wees, met die jongste gerugte dat prins Philip eers op die troudag self sal besluit of hy die troue gaan bywoon.

Prins Philip sal nie sommer sy kleindogter se troue misloop nie, maar kan sy voet neersit om saam met haar ma op amptelike foto’s te verskyn.

Tog, die koninklike familie, of The Firm soos hulle na hulself verwys, sal nie maklik op ’n groot dag soos ’n prinses se troue in die openbaar tande vir mekaar wys nie.

Ook Camilla, hertogin van Cornwall, se besluit om ’n klein skooltjie in Braemar by Balmoral te besoek eerder as om die troue by te woon, word in sommige kringe gesien as haar afkeer van prins Andrew.

Prins Andrew en prins Charles was al gereeld in mekaar se hare oor veral Andrew se dogter. Charles se toekomsvisie sluit ’n afgeskaalde koningshuis voor terwyl Andrew, as die seun van ’n monarg, meen sy dogters, albei “bloedprinsesse”, verdien hul regmatige plek in die koninklike sonlig.

Al is nie Eugenie of haar ouer suster, prinses Beatrice, heeltydse koninklikes nie, ondersteun hulle liefdadigheidsorganisasies en woon hulle gereeld geleenthede by saam met ouma.

Sarah Ferguson op haar troudag in 1986.Foto: Getty Images

My troue is groter as joune, regtig?

Vergelykings tussen prins Harry en prinses Eugenie se troue is legio.

Die gaste gaan soos amperse sardientjies ingeryg sit in die St. George-kapel, met ’n onthaal nadat die nuwe paartjie in ’n koets deur Windsor se hoofstraat gery het en ’n kort rit deur die Long Walk. Dan is daar ’n aandopskop in ’n markiestent langs haar ouerhuis, die Royal Lodge in Windsor Groot Park, en nóg ’n dag se feesvierings Saterdag.

Harry en Meghan het ná ’n koetsrit van amper ’n halfuur om die groot skare in Windsor en in die Long Walk tegemoet te kom, ’n onthaal in Windsor-kasteel gehad - waar Elton John sommer uit begin klavier speel het - en later die aand ’n kleiner opskop in ’n markiestent by Frogmore House, waar hul verlowingsfoto’s ook geneem is. Die paartjie het kort voor middernag die partytjie verlaat.

Wit blomme van versiersuiker wat die sjokolade-en-rooifluweeltroukoek gaan versier is op dié foto te sien. Valleilelies (die blomversierings links) sal waarskynlikheid deel van prinses Eugenie se trouruiker wees. Foto: Reuters
Herfsblaarversierings is ook deel van prinses Eugenie en Jack Brookbanks se troukoek. Foto: Reuters
Sophie Cabot, die bakker van die troukoek, was die afgelope week besig om die laaste afrondingswerk aan die paartjie se troukoek aan te bring.Foto: Reuters

Eugenie en Jack se aandopskop is nie die einde van hul huweliksviering nie. Die Saterdag word nog partytjie gehou met ’n pretpark-tema. Alles sonder plastiek.

Eugenie gaan beslis nie Vrydag haar ontwerperskoen op die St. George-kapel se trappe vergeet nie, maar eerder later die aand die spreekwoordelike vonkelwyn uit haar skoen drink.

Haar ontwerperstrourok sal beslis die tonge laat klap, maar dit is haar gevolg - ál koningin Elizabeth se agterkleinkinders benewens die jongste twee aankomelinge - wat dalk nét die kollig gaan steel.

Die straat voor die Windsor-kasteel gereed vir die koninklike troue van prinses Eugenie en Jack Brooksbank.Foto:

Volg die troue hier:

Volg die Britse koninklike familie op Facebook.

Meer oor:  Prinses Eugenie  |  Troue  |  Koninklike Familie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.