Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: George word 8, kosskool dalk sy voorland

Daar is vandag agt kersies om uit te blaas op prins George, oudste seun van prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, se verjaardagkoek.

Dit is amper ongelooflik om te dink hoe die tyd gevlieg het vandat ’n koorsagtige groep joernaliste, fotograwe en TV-kameramanne weke lank buite die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Londen stelling ingeneem het in afwagting op dié jong koninklike se geboorte.

Baba Cambridge is nou ’n jong seun wat lankal nie meer ’n kortbroek dra soos seuns van die aristokrasie nie, maar langbroeke. En binnekort kan hy dalk net soos pa, William, kosskool toe gaan.

Die pragfoto is laat Woensdagaand deur die Kensington-paleis uitgereik ter ere van prins George se agtste verjaardag Donderdag. Die foto is vroeër vandeesmaand deur sy ma, Catherine, hertogin van Cambridge, in Norfolk geneem. Foto: Catherine, hertogin van Cambridge, versprei deur Getty Images

George se verskynings die afgelope paar weke langs die sokkerveld waar Engeland in die Euro2020-reeks deelgeneem het, was ook die eerste van nog vele verskynings in sy amptelike hoedanigheid.

Sy en sy pa se uitgelatenheid langs die sokkerveld het koninklike bewonderaars se harte vermurwe, maar dit was veral sy ma se vertroostende hand op sy kop toe Engeland in die eindronde nie as oorwinnaars uit die stryd tree nie, wat aanskoulik was.

Sleutelbordkrygers was vinnig om kritiek te lewer omdat die jong prins die twee wedstryde in ’n pak en das bygewoon het, maar vir Catherine en William, wat hul seun voorberei op sy uiteindelike lot as Britse monarg, was dit belangrik dat George nie die wedstryde in ’n Engelse sokkerhemp bywoon nie.

Koninklike kenners was dit ook eens dat hoewel George nog so jonk is, hy reeds geskool word in sy rol as senior koninklike en toekomstige monarg.

Prins George het die Euro2020-sokkerreeks se eindstryd saam met sy pa, prins William, en ma, Catherine, hertogin van Cambridge, bygewoon. Foto: Reuters

Hoewel die Cambridges die Euro2020-sokkereindstryd in hul amptelike hoedanigheid bygewoon het, was dit ongewoon om William en George so uitgelate te sien, met Catherine wat met haar hand deur haar blondekopseun se hare gevryf het ná Engeland se skoknederlaag.

Sommige bewonderaars het George se interaksie met sy ouers as die beste oomblikke van die sokkertoernooi bestempel!

Hoewel William en Catherine hul kinders, ondanks die prag en praal wat hulle omring, soveel moontlik ’n gewone opvoeding wil gee, weet George reeds dat hy ’n spesiale rol het.

Of hy soos sy pa op agtjarige ouderdom kosskool toe gestuur gaan word, is ’n ope vraag. Sowel William as Catherine was in kosskole.

Hier het William ’n klein sirkel getroue vriende gemaak wat tot vandag toe nog nooit – tensy hy hulle toestemming gee – oor hul vriendskap uitgepraat het nie.

Prins William kort voor sy agtste verjaardag in Junie 1990. Foto: Getty Images

William en Catherine mag dalk besluit om anders as wat die koninklike tradisie is, nie hul oudste nou reeds kosskool toe te stuur nie, maar eers heelwat later.

Tot dan sal George saam met sy jonger suster, prinses Charlotte, die St. Thomas’s Battersea-skool in Londen bywoon, terwyl hul kleinboet, prins Louis, nog op kleuterskool is.

Hoewel daar in die Britse media berig is die Cambridges is op soek na ’n woning in Berkshire om nader aan die Ludgrove-kosskool te wees, waar William op kosskool was, is daar koninklike kenners wat meen dat William nie te geneë is om sy oudste na ’n kosskool toe te stuur nie.

Die Cambridges het reeds twee wonings, hul hoofwoning in die Kensington-paleis, en hul geliefde plattelandse woning, Anmer Hall, op die koninklike landgoed Sandringham. Hulle het die grootste deel van die streng inperkingstyd in Anmer Hall deurgebring, waar Catherine en William beurte gemaak het om die kinders tuis te onderrig en die Cambridge-kinders die vars buitelug en nabygeleë strand terdeë kon geniet.

’n Glimlaggende Catherine, hertogin van Cambridge, en prins William verlaat die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal ’n dag ná prins George se geboorte op 22 Julie 2013. Foto: Getty Images
Prins George het in 2014 sy eerste koninklike toer saam met sy ouers na Nieu-Seeland en Australië onderneem. Foto: Getty Images
Klein George kry ’n soentjie by sy pa nadat prins William hom gaan haal het om hom aan sy nuwe sussie, Charlotte, voor te stel kort ná haar geboorte op 2 Mei 2015. Foto: Getty Images
Prins George het verlede jaar ten tyde van die koronaviruspandemie saam met sy ouers hande geklap vir die nasionale gesondheidsdiens se werkers. Foto: Getty Images
Prins George is net soos sy pa, prins William, versot op vliegtuie. Hy is al kleintyd na vliegtentoonstellings geneem, waar hy dit gate uit geniet het. Foto: Getty Images
Prinses Charlotte en prins George is gesogte keuses vir ’n bruidsgevolg. Hier is hulle op die trappe van die St. George-kapel in Windsor, waar hulle diens gedoen het in prinses Eugenie, hul pa se niggie, se bruidsgevolg. Foto: Getty Images
Dié foto, uit die private familie-album van die koninklike gesin, is vroeër vanjaar uitgereik met die heengaan van prins Philip. Hier dra prins George (heel links) nog ’n kortbroek, soos ou etiketreëls bepaal. Hy is op die foto saam met sy niggies en nefies. Foto: Catherine, hertogin van Cambridge, versprei deur Getty Images
Ook dié foto van prins George saam met sy oupagrootjie wyle prins Philip is ná Philip se dood in April vanjaar deur die Cambridges op sosiale media gedeel. Foto: Catherine, hertogin van Cambridge, versprei deur Getty Images


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.