Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Harry & Meghan: Agter die skerms, én dit wat nie uitgesaai is

Almal wonder nou wie die koninklike is wat die gesprek oor Archie se velkleur met prins Harry gehad het.

Hy wou egter seker maak almal weet dit was nie koningin Elizabeth of prins Philip nie.

Na afloop van die opname van Oprah Winfrey se onderhoud met Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, het hy vir haar gesê hy wil hê sy moet weet dat dit nie sy ouma óf sy oupa was nie.

Nadat die onderhoud Sondagaand in Amerika uitgesaai is, het Winfrey verder op CBS se oggendprogram nabetragting gehou en gesê Harry wou egter nie sê wie dit was wat oor die ongebore Archie se velkleur bekommerd was nie.

Rassisme en Meghan se gedagtes oor selfdood was twee van die opspraakwekkendste onthullings in die onderhoud, wat Maandagaand in Suid-Afrika uitgesaai is.

Die Sussexe lê die blaam vir hul besluit om Brittanje te verlaat voor die deur van rassisme, die poniepers, asook die koninklike familie en die instelling van die monargie se onvermoë om hulle te beskerm en te ondersteun.

Terwyl Winfrey haar indrukke van die onderhoud op CBS gegee het, het sy video-insetsels gedeel wat nie uitgesaai is nie.

Die gesprek tussen Winfrey en Meghan, en later ook Harry, is by ’n vriend van Winfrey se huis opgeneem en het drie en ’n half uur se materiaal opgelewer.

Dit moes daarna tot een uur en 25 minute geredigeer word.

Rassisme

In een van die video-insetsels wat nie as deel van die onderhoud uitgesaai is nie, sê Harry rassisme in Brittanje het ’n groot rol gespeel in sy besluit om die land te verlaat.

Een van die gaste by ’n Sentebale-liefdadigheidsete (een van sy laaste pligte as koninklike) het aan Harry gesê Brittanje is ’n verkrampte samelewing.

Die betrokke gas, wat vriende is met baie van die Britse koerantredakteurs, het vir hom gesê hy moenie oorlog verklaar teen die media nie omdat hulle hom sal verwoes.

Harry het geantwoord dat Brittanje nie ’n verkrampte samelewing is nie, maar dat veral die poniepers verkramp is.

Harry het vir die gas gesê hy verskil geheel en al van hom dat die Britse samelewing verkramp is en dat hy dink die Britse pers is eerder verkramp, maar as die bron van inligting rassisties, bekrompe of bevooroordeeld is, syfer dit deur tot die res van die samelewing.

William kan nie wegstap soos Harry nie

Op Winfrey se vraag of enige familielede na hom uitgereik het om verskoning te vra vir die redes dat hy gevoel het hy moet as senior koninklike terugstaan, het Harry gesê ná drie jaar waarin hy om hulp gevra en gevisualiseer het hoe dit alles kan eindig, “was dit ... is dit steeds moeilik”. Hy sê hy was deel van die stelsel en hy is baie bewus daarvan dat sy broer nie daardie stelsel kan verlaat nie.

Winfrey is blitsig om te vra of sy broer die stelsel wil verlaat. Harry antwoord dat hy nie namens sy broer kan praat nie.

Toksiese omgewing

Op die vraag of prins Charles dink die koninklike wêreld is toksies, sê Harry hy dink sy pa het vrede gemaak daarmee.

“Hoekom kon jy nie vrede maak nie?” vra Winfrey. Meghan antwoord eerste dat dit oor rassisme en die sosiale media was. “Dit was soos die Wilde Weste. Die feit dat ek ’n Amerikaner is, het oor die oseaan versprei. Die geraasvlakke was ongelooflik.”

“Jy het dus gevoel of jy internasionaal geboelie word?” vra Winfrey.

Meghan sê die reaksie op sosiale media, veral omdat sy ook nie Brits is nie, was oorweldigend.

Indien lede van Harry se familie dink haar ervaring was dieselfde as toe Catherine Waity Kaity gedoop is omdat sy so lank vir William moes wag om die ja-woord te vra ... Dis “nie dieselfde nie. Onbeskoftheid en rassisme is nie dieselfde nie.”

Meghan oor haar pa

Meghan sê sy het probeer om beide haar pa, Thomas Markle, en ma, Doria Ragland, teen die pers te beskerm.

“Het dit soos verraad gevoel toe jy uitvind dat jou pa saam met die media werk?” vra Winfrey.

Meghan draai haar kop skuins en sê sy weet nie of sy eens gemaklik is om daaroor te praat nie.

“Indien ons van die woord verraad gebruik gaan maak, is dit omdat ek hom gevra het.

“Dit val my by, die kommunikasiespan het vir ons gesê die poniepers het die storie oor my pa se samewerking met die steelfotograaf ’n maand lank teruggehou om dit eers die Sondag voor die troue te plaas – om die meeste drama te kry, wat ook ’n sleutelpunt in hierdie storie is: Hulle doen nie verslag oor die nuus nie; hulle maak die nuus.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.