Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Harry, Meghan ‘op breekpunt’, wil na Afrika trek

Prins Harry wens hy en sy gesin kon in Afrika kom woon, selfs in ’n stad soos Kaapstad wat hy as “ongelooflik” beskryf.

Dít is een van die dinge wat die prins Sondagaand in ’n nuwe TV-dokumentêr, Harry & Meghan: An African Adventure, gaan verklap.

Boonop gaan hy en Meghan binne enkele weke, van middel November af, vir ses weke uit die kollig tree om ’n broodnodige blaaskans te neem en op kosbare gesinstyd te fokus, berig die Londense Sunday Times.

Prins Harry vrees dieselfde wat met sy ma gebeur het, kan met sy vrou gebeur. Daarom is hy geweldig beskermend teenoor Meghan en hul eersteling, Archie. Foto: Getty Images

In die twee uittreksels uit die dokkie wat ITV vandeesweek as lusmakers op sosiale media geplaas het, is dit duidelik dat Harry sowel as Meghan hul maskers vir die onderhoud met die joernalis Tom Bradby laat sak het.

Meghan het onder meer gesê sy is nie “oukei” nie en dat sy dankbaar is dat iemand haar dié vraag vra.

Meghan het ook aan Bradby gesê dat dinge agter die skerms anders lyk en dat sy sukkel om as ’n pasgetroude vrou en nuwe ma ook nog die intense kollig en mediabeheptheid met haar te hanteer.

LEES OOK: Prins Harry sleep koerante hof toe oor SMS’e

Diana, ontslape Prinses van Wallis, met ’n klein prins Harry in haar arms. Foto: Getty Images

Bradby sê sy indruk van die jong familie is dat hulle in gesinsverband gelukkig is, maar sukkel om die mas op te kom met wat Meghan noem ’n “bestaan is en nie ’n lewe nie”.

Harry sê aan Bradby ’n permanente verhuising na Afrika is egter problematies en kan selfs tot nog veroordeling lei. Hy sê egter hy en Meghan se werk sal in die toekoms baie op Afrika gefokus wees.

Roya Nikkhah, koninklike korrespondent van die Times, het reeds vroeër vanjaar berig Buckinghampaleis verken die moontlikheid vir die Sussexe om vir ’n lang tydperk in Afrika te kom woon.

In die dokkie spreek Harry sy begeerte uit om Brittanje te verlaat en iewers in Afrika te woon.

“Ek weet nie op die oomblik waar in Afrika dit sal wees nie. Ons was pas in Kaapstad. Dit sal ’n ongelooflik plek wees om as basis te gebruik.”

Bradby skryf ook dat hy Harry en Meghan ervaar het as “baie kwesbaar en gekneus” eerder as die verwende en arrogante karikature wat in die openbare oog veroordeel word. So ook is die berigte oor Harry en Meghan se probleme of versuurde verhoudings met lede van die koninklike gesin oordrewe of onwaar, skryf Bradby.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, tydens hul Suid-Afrikaanse besoek. Foto: Getty Images

’n Emosionele Harry sê aan Bradby hy ervaar elke keer die donker kant van wat sy ma, Diana, ervaar het sodra ’n kamera gelig en hy ’n kamerasluiter hoor. Hy sê ook sy ma se dood is steeds ’n wond wat sweer en dat alles wat hy doen hom aan haar herinner.

LEES OOK: Prins Harry neem regstappe, bekommerd oor Meghan

Die paartjie sal volgens die Times se berig in hul verposing van ses weke in Amerika by Meghan se ma, Doria Ragland, gaan kuier. Hulle sal egter wel Kersdag saam met koningin Elizabeth op Sandringham deurbring.

  • Harry is tans in ’n regsgeding met twee Britse koerante omdat hulle na bewering sy stemposse onderskep het.
  • Meghan dagvaar ook The Mail on Sunday en die mediagroep waaraan dié dagblad behoort omdat private korrespondensie tussen haar en haar vervreemde pa, Thomas Markle, gepubliseer is.

Ook Diana het halt geroep ...

Diana, ontslape prinses van Wallis, was in lewe een van die glansrykste vroue ter wêreld.

Daar is meedoënloos op haar jag gemaak deur die media, maar sy het ook die krag van die media besef. Sy het self die media gebruik in die sogenaamde War of the Waleses – haar en prins Charles se jare lange stryd om gunstige publisiteit te kry terwyl hul huwelik reeds lank op die ashoop was.

In 1993 het dinge te veel vir Diana geword en het sy in ’n toespraak aangekondig dat sy haar grootliks aan die openbare lewe onttrek.

Sy is in 1997 dood nadat die motor waarin sy was steelfotograwe probeer ontglip het.

Meer oor:  Meghan Markle  |  Prins Harry  |  Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.