Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Hier is ‘Sarie’ se nuwe voorbladgesig

Schané Venter, ’n 27-jarige bedryfs- en logistieke bestuurder wat vir die Mej. SA-organisasie werk, is Vrydagaand op ’n glansgeleentheid in Kaapstad as die tydskrif Sarie se voorbladgesig vir 2019 aangewys.

Die Oktober-uitgawe van Sarie, met ’n stralende Venter van Alberton in Gauteng op die voorblad, sal van Maandag af landwyd op die winkelrakke wees.

Schané Venter (27). Foto: Adrian de Kock
Schané Venter (27). Foto: Adrian de Kock

Dit is die tweede keer dat Venter aan die kompetisie deelneem. Sy het ook in 2015 ingeskryf, maar dié keer kon die beoordelaars haar nie miskyk tussen die duisende inskrywings om die top-tien te haal nie.

“Wie kan daardie breë Julia Roberts-glimlag weerstaan!” sê Michelle van Breda, Sarie se redakteur.

Venter, wat matriek aan die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton geskryf en ’n graad in BCom-bemarkingsbestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus behaal het, sê haar jare van deelname aan gimnastiek het haar gevorm en ’n dissipline geleer wat sy gereeld in haar lewe toepas: Probeer altyd nog één keer. Sy hét, en wen toe Sarie se gesogte Oktober-voorblad.

“Ek ken Sarie vandat ek ’n klein dogtertjie is en het nog altyd die voorblaaie bewonder. Gesigte wat met my gepraat en my geïnspireer het. Ek wou een van daardie gesigte wees,” het Venter op haar inskrywingsvorm geantwoord oor waarom sy inskryf vir die kompetisie.

Byna 65 000 inskrywings is oor die afgelope nege jaar ontvang.

Die geleentheid waar Venter as wenner aangekondig is, is deur talle bekendes bygewoon, onder andere Tamaryn Green, voormalige Mej. SA (2018), Cindy Nell-Roberts (Mej. SA 2002), Amy Kleinhans-Curd (Mej. SA 1992), die sanger Bobby van Jaarsveld, heelparty akteurs van die gewilde sepie Suidooster, asook die akteurs Elsabé Daneel, Tim Theron, Amalia Uys en Gideon Lombard. Ook die internasionale top-model Katryn Kruger en die bekende Suid-Afrikaanse model Marciel Hopkins was daar, asook Hannes van Wyk, Bravo!-aanbieder.

Schané Venter (27). Foto: Adrian de Kock
Schané Venter (27). Foto: Adrian de Kock

Die aand het ook behoort aan die tien vorige Sarie Voorbladgesig-wenners, onder andere regs- en sake-gegradueerdes, onderwysers, ’n binneversierder, TV-sjef, transformasie-beampte en grafiese kunstenaar. Hulle is Alrie Velleman (2011), Tana van Rooyen (2012), Marike Nel (2013), Monique Brits (2014), Carlize Earle (2015), Elmaré Schutte en Nicola Smith (hulle deel die titel in 2016), Nadia de Wet en Yolani Abrahams (hulle deel die titel in 2017), en 2018 se wenner, Emari Gieselbach.

“Schané is ons 11de wenner en die feit dat sy in Sarie se 70ste bestaansjaar wen, maak dit nóg meer spesiaal. Sy is ons SARIE70-wenner!” het Van Breda met die aankondiging gesê.

“Alles omtrent Schané is modern – haar voorkoms, haar ingesteldheid. Sy verteenwoordig in vele opsigte vandag se Sarie-leser en die Suid-Afrikaanse vrou: onafhanklik, vooruitdenkend, positief, ingelig, ’n regte go-getter.

“Haar lyftaal sê dié inspirerende vrou gaan nie sommer gekeer word nie. Dít is ’n belangrike boodskap in ons land vandag waar vroue veg om sonder vrees, oordeel of intimidasie hul persoonlike en professionele ideale te bereik,” sê Van Breda.

“Dit was die eerste keer dat al ons wenners bymekaar was, wat die 2019-geleentheid so besonders gemaak het. As jy na die 11 wenners tot nou kyk, die diversiteit en kaliber van Sarie se lesers, en die wete dat daar nog duisende sulke lesers daar buite is, plaas dit vir seker die kollig op Sarie as ’n inspirerende en dinamiese Suid-Afrikaanse handelsmerk. Dit maak my trots!” sê Van Breda.

* Soos Netwerk24 is Sarie ook ’n publikasie van Media24.

Meer oor:  Schané Venter  |  Sarie  |  Voorbladgesig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.