Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Joost en Amor se kinders blink uit op sportveld

Van sokker tot perdry en fotografie, Joost van der Westhuizen en Amor Vittone se tienerkinders blink uit en presteer selfs oorsee.

Vittone het Sondag ’n reeks pragfoto’s van haar seun, Jordan (16), op Facebook gelaai waar hy as doelwagter duik, rek en strek om die sokkerbal te keer tydens ’n sokkeroefening.

Wat die foto’s vir haar nog meer spesiaal maak, is dat dit hul dogter, Kylie (14), is wat die oomblikke vasgevang het. Nie net is Kylie ’n uitstekende aksiefotograaf nie, maar het al internasionaal in perdesport presteer.

Jordan van der Westhuizen voor die sokkernet. Foto: Facebook/Amor Vittone/Kylie van der Westhuizen
Foto: Facebook/Amor Vittone/Kylie van der Westhuizen
Jordan vang die bal voordat dit die agterkant van die net kan tref. Foto: Facebook/Amor Vittone/Kylie van der Westhuizen

“Hulle het sulke groot aspirasies, is so doelgerig en geesdriftig,” sê Vittone by navraag. “Hulle inspireer my om beter te wees.”

Jordan wil graag ’n internasionaal bekende sportster word, soos sy pa en sy oupa, Dario Vittone, wat in 1956 doelwagter van die Italiaanse sokkerspan was.

“Hy sê vir my: ‘Ma, ek gaan die beste sokkerspeler ter wêreld wees, en dan gaan ek vir jou ’n huis bou en vir Kylie ’n perd koop’,” sê Vittone.

“Hy het vroeg al vir my gesê hy geniet eenvoudig nie rugby nie. Baie mense sê hy moet rugby speel, maar hulle besef nie hy het ’n kogleêre inplanting (vir ’n gehoorgestremdheid) nie,” sê sy.

“Met rugby is daar baie meer kontak en hy kan houe teen die kop kry. So, as doelwagter geniet hy hom verskriklik. Die Engelse sokkerklub Liverpool is sy gunsteling en hy ken elke speler se naam en allerhande ander besonderhede oor hulle.”

Vittone sê Jordan oefen daagliks minstens drie ure, en sy ry op en af tussen sy oefeninge en Kylie se perdrylesse.

“Maar dit is die moeite werd,” sê sy.

Jordan is vroeër vanjaar genooi na die Liverpool Akademie in Engeland, maar weens Covid-19 is sy uitstappie uitgestel. Hy sal na verwagting volgende jaar gaan. Benewens die uitnodiging het hy Suid-Afrika al verteenwoordig in ’n span van Gauteng wat in Portugal en Spanje gaan meeding het.

Vroeër vandeesmaand het Kylie op die rug van haar perd, Lundy’s Time, ’n eerste plek verower op ’n Suid-Afrikaanse ruiterkunskompetisie in Limpopo. Sy neem nie net in haar ouderdomsgroep deel nie, maar teen enigiemand ouer as 14.

Sy sou ook vanjaar oorsee gaan deelneem aan ’n kampioenskap, maar dit is ook uitgestel weens die virus. “Ek sê vir haar alles gebeur met ’n rede. Sy het wel Protea-kleure gekry en dit word einde vanjaar oorhandig.”

Amor en haar ouers, Delyse en Dario Vittone, by Jordan se sokkeroefening. Foto: Facebook/Amor Vittone/Kylie van der Westhuizen

Vittone sê Kylie is ook baie kreatief en sy skryf gereeld gedigte en liedjies. Die fotografie “het vanself gekom”.

“My suster het ’n paar maande gelede vir haar ’n kamera gegee wat sy nie gebruik nie. Kylie het vir haar iets daarvoor gegee en toe daarmee begin werk. Toe het sy haar ouboet by sy oefening afgeneem.

“Jordan was so beïndruk dat hy vir ’n slag foto’s het van homself as hy speel. Hy het vir my gesê: ‘Ma, ek lyk soos ’n professionele speler’.”

Vittone sê mense sê gereeld Jordan lyk net soos Joost en hulle is seker meisies is versot op hom. “Hy sal so nou en dan oor ’n mooi meisie praat, maar vir hom kom sokker eerste.”

Jordan en Kylie se pa, die voormalige Bokheld Joost van der Westhuizen (45), is in Februarie 2017 ná ’n jare lange stryd teen die aftakelende motorneuronsiekte dood.

Kylie van der Westhuizen by ’n perdry-kompetisie. Foto: Facebook/Amor Vittone
Ma en dogter op pad na ’n geleentheid in Polokwane. Foto: Facebook/Amor Vittone

“Ek dink hulle moes vinniger grootword en vroeër onafhanklik word. Ek moet hulle dikwels herinner dat hulle kan rus, net vir ’n dag. Maar nee, hulle moet elke dag oefen.”

Sy sê sy druk nie haar kinders in enige rigting wat sport of akademie betref nie. Jordan kry oor die afgelope paar jaar tuisonderrig, en volgens Vittone het Kylie ook gevra of sy dieselfde roete kan volg sodat sy elke dag langer kan oefen.

Hul oupa en ouma, Dario en Delyse Vittone, kom kyk gereeld wanneer hul kleinkinders meeding en Dario help gereeld om vir Jordan na en van oefeninge en wedstryde te karwei. “Ek dink Jordan bewonder my pa omdat hulle baie in gemeen het,” sê Vittone.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.