Prins William is Sondag sekerlik vrot bederf, nie net omdat dit Vadersdag is nie, maar ook sy 38ste verjaarsdag.
Twee pragfoto’s van hom en sy kinders is Saterdagaand laat deur Kensingtonpaleis uitgereik. Die foto’s is die afgelope Vrydag by Anmer Hall in Norfolk geneem deur Catherine, hertogin van Cambridge.

Groot pret saam met pappa! Catherine, hertogin van Cambridge, het die afgelope Vrydag dié pragfoto van haar man en kinders by hul plattelandse woning in Norfolk geneem. Foto: Catherine, hertogin van Cambridge/versprei deur Getty Images
Die gesin bring die staat van inperking in hul plattelandse woning op die Sandringham-landgoed deur. Hoewel prinses Charlotte al kon terugkeer skool toe, het die paartjie besluit om haar steeds tuis te onderrig totdat prins George ook kan terugkeer skool toe.
Maar asof dié twee foto’s nie genoeg was nie, is nóg ’n pragfoto van prins Charles en William op Clarence House se sosiale media uitgereik. Dié foto is ook deur Catherine geneem. Dit is ’n lieflike informele foto wat nie dikwels van die koninklikes gesien word nie.
Die meeste lede van die koninklike gesin, behalwe koningin Elizabeth, het verlede week hul koninklike pligte hervat. Die koningin sal nog geruime tyd in afsondering saam met prins Philip in Windsorkasteel wees.

Kensingtonpaleis het vroeg Sondagaand nóg 'n foto uitgereik. Hier pak al drie prins William se kinders hom toe. Foto: Catherine, hertogin van Cambridge/Twitter

Prins William saam met sy drie kinders, prins George, prinses Charlotte en prins Louis op sy skoot, op die swaai wat prins Charles as trougeskenk vir hom en Catherine gegee het. Foto: Catherine, hertogin van Cambridge/versprei deur Getty Images

Dié pragtige en informele foto van prins Charles en prins William is in Desember verlede jaar deur Catherine, hertogin van Cambridge, geneem. Foto: Clarence House/Instagram
William het verlede Vrydag by die plaaslike bakkery in King’s Lynn gaan inloer, waar hy eers sy hande by die deur ontsmet het voordat hy met die eienaars gesels het.

Catherine gesels met die eienaars van die tuinsentrum, Martin en Jennie Turner. Die tuinsentrum moes weens inperkingsmaatreëls weke lank hul deure sluit. Foto: Reuters

Prins William met die spesiale verjaarsdagkoek wat hy by Smiths the Bakers as geskenk gekry het. Foto: AP
Hy het boonop ’n versierde verjaarsdagkoek as geskenk gekry en onder meer croissants en konfyt gekoop. Hy het vertel hoe hulle as gesin bak en brou in die kombuis en dit ’n absolute ontploffing van meel en sjokolade is.
Catherine het Donderdag ’n kwekery so twintig minute van Anmer Hall af besoek. Dié tuinsentrum moes vir sewe weke hul deure sluit weens Covid-19.
Daar is nie vooraf kennis gegee van die twee se besoeke nie, om te verhoed dat skares saamdrom te midde van die Covid19-pandemie.