Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Mej. Heelal 'so, so jammer' oor dié FB-plasings

Zozibini Tunzi (26), Mej. Heelal en voormalige Mej. Suid-Afrika, het Dinsdagnag in ’n video op sosiale media verskoning gevra vir plasings wat sy gemaak het toe sy jonger was.

Zozibini Tunzi, Mej. Heelal. Foto: Instagram/Zozibini Tunzi

Dit kom te midde van die omstredenheid oor ou twiets deur Bianca Schoombee (21) wat haar vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het. Nog ’n deelnemer, Oneida Cooper (27), het ook die afgelope week onder hewige kritiek deurgeloop.

Tunzi sê sy is skaam oor die “onsensitiewe plasings wat sy nooit moes gedeel het nie”. Die plasings op haar persoonlike Facebook-blad is in 2012, 2013 en 2014 gemaak toe sy 18, 19 en 20 jaar oud was. Die plasings wat verlede Woensdag nog op haar profiel was, is intussen verwyder.

Sy sê in die video: “Ek is so teleurgesteld in myself en voel skaam dat ek kon dink dit is oukei om dit te deel.”

Die plasings op Facebook sluit die vraag in: “As ’n mens seks op ’n prostituut afdwing, is dit verkragting of diefstal?” Sy het die afkorting “LOL”, wat vir laughing out loud staan, daarby geplaas.

Foto: Facebook/Zozibini Tunzi

In ’n ander plasing het sy gesê vroue met baie donker velle wat blonde pruike dra, lyk soos Duracell-batterye.

Foto: Facebook/Zozibini Tunzi

In ’n plasing in Januarie 2013 sê sy “groot” vroue is altyd op die uitkyk vir “maer” vroue wat hulle vet noem, en sê “dit kom voor of hulle dink dit is oukei om ons ‘skraal’ te noem”.

Foto: Facebook/Zozibini Tunzi

“Ek dink dis hoog tyd dat julle gemaklik raak in jul eie velle, en as jy nie wil nie, bly stil en sit.”

In twee ander plasings praat sy oor gay mans. In die een sê sy dit wil vir haar voorkom asof al die heteroseksuele mans wat sy ken, skielik gay geword het. “Wel, solank my man heteroseksueel is, is dit reg met my.”

Foto: Facebook/Zozibini Tunzi

In ’n ander plasing gebruik sy die n-woord, wat Schoombee en Cooper ook gebruik het in hul plasings as tieners, en sê dié mans is verlief op die sokkerspeler Cristiano Ronaldo, en is daarom gay.

Die n-woord is in hierdie skermgreep gesensor. Foto: Facebook/Zozibini Tunzi
Foto: Facebook/Zozibini Tunzi
Foto: Facebook/Zozibini Tunzi

In haar video op Instagram en Twitter vra Tunzi enigiemand om verskoning wat deur haar opmerkings geraak is of geraak word. “Dié plasings is heeltemal strydig met wie ek is en waarvoor ek staan.”

Sy sê: “Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat ons sê en doen, selfs al dink ons dis net ’n onbelangrike grappie. Want sommige dinge is net nie snaaks nie en moenie gesê word nie.”

Sy erken in die video dat sy die plasings nagespoor het wat sy op haar sosialemedia-profiel gemaak het toe sy die rekening geskep het. Sy het dit gedoen na aanleiding van die drama wat om Schoombee se kop losgebars het.

“Ek het ’n klomp dinge gesien waarop ek trots is. Dinge wat ek oor myself en ander gesê het wat reflekteer wie ek is. Maar daar was ook ander plasings waarop ek nie so trots is nie.”

Tunzi, wat van Tsolo in die Oos-Kaap is, sê sy het gesien hoe sy op Twitter opgehemel word en dat gesê word dat sy geen geraamtes in haar kas het nie.

“Daar is gesê dat ek die voorbeeld moet wees waarna alle jong vroue strewe. Toe ek dit lees, het dit my getref: Ek is menslik, en ek moes al foute gemaak het. Ek kan nie so perfek wees soos mense sê nie.”

Sy sê dit is verstaanbaar dat mense as gevolg van haar “posisie in die samelewing” sekere dinge van haar verwag. Sy vra verskoning aan almal wat sy teleurgestel het.

“Ek is so jammer dat ek julle in die steek gelaat het.”

Schoombee, ’n model van Gauteng, het verlede week om vergifnis gepleit nadat sy van rassisme beskuldig is. 

LEES OOK: Model vra verskoning vir wat sy as tiener kwytgeraak het 

Sy is van rassisme beskuldig oor plasings op Twitter waarin sy as tiener uitlatings oor swart mense gemaak het. Die plasings van 2013 en 2014 het weer opgeduik kort nadat haar inskrywingsvideo vir die gesogte skoonheidskompetisie op sosiale media gedeel is.

Sy was 15 jaar oud toe sy die kru grappe gemaak het.

Schoombee het haar intussen aan die Mej. SA-kompetisie onttrek. Haar kontrak met SYNC Model Management is ook beëindig.

Cooper, van Johannesburg, is ook van rassisme beskuldig oor plasings op Twitter tussen 2010 en 2013, waarin sy die n-woord gebruik het. 

LEES OOK: Mej. SA-deelnemer laat haar nie boelie nie

Cooper het Dinsdag by navraag gesê dat die plasings nie rassisties bedoel was nie en dat die twiets tussen haar en haar swart vriendinne was.

Sy meen dat wie ook al ou twiets van ’n aantal deelnemers skielik uitgrawe, doen dit met “kwade bedoelings”.

Stephanie Weil, hoof van die Mej. SA-organisasie, het ná die omstredenheid rondom Schoombee in ’n verklaring gesê: “Daar is goeie bestuur in plek om te verseker dat Mej. SA-finaliste en -semifinaliste se waardes met dié van die organisasie ooreenstem.

“Ons reëls verklaar dat enige semi-finalis of finalis nie betrokke mag gewees het by enige onsmaaklike of onetiese voorvalle of optrede wat die organiseerders of die Mej. SA-kompetisie in oneer kan bring nie.”

Die Mej. Heelal-organisasie het Dinsdag Tunzi se video aan Netwerk24 gestuur en geen verdere kommentaar gelewer nie.

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Sosiale Media  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.