Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Netwerk24 is daar: Windsor skud sy vere reg

Windsor het bruilofsklere aan . . . Die witkastaiings blom soos ’n blosende bruid. Die groen veld buite Windsor is oortrek van perdeblomme en kantblomme.

Die gewoonlik stil dorp bruis van besoekers. Die polisie staan in groepies op die straathoeke, gereed om enige verdwaalde toeris te help en antwoorde te gee oor hoe laat ’n mens Saterdag by die Long Walk moet opdaag om ’n ordentlike staanplek te kry.

Amerikaanse aksente is volop, met ’n Franse en Japanse toergroep wat plek-plek voor my indruk in die kasteel.

Reuse antiterreurversperrings is in die middedorp aangebring. Groot Union Jacks hang oral in die strate en die vlaggies ryg in sigsagpatrone tussen die winkels deur.

Hier en daar loop ek Windsor se nou bekende haweloses raak. Die een het selfs ’n speelgoedkrokodil tussen sy beddegoed op die sypaadjie gelos. Al die voete stap verby.

Die Windsorkasteel weerkaats in die Harry & Meghan-vertoonvenster van die Glorious Britain-geskenkwinkel. Foto: Arlene Prinsloo

Die grys torings van Windsorkasteel is gedrapeer in geskiedenis.

Die St. George-kapel is ongelukkig toe en die kant van die kapel waar Meghan Markle sal ingaan, is versper vir die publiek. Plek-plek skarrel tegnici om kabels aan te lê. Dit verhoed my egter nie om my aan die argitektuur en asemrowende glasvensters te vergaap nie. Alles is indrukwekkender as op enige foto.

Skuins by die kapel word die relings van tydelike toilette afgeskuur en geverf. Die grasperk waar lede van prins Harry se liefdadigheidsorganisasies kan staan, is reeds afgesper.

In die geskenkwinkels klink is daar ’n Babelse verwarring van tale. Die ponde rol.

In die geskenkwinkel in High Street met die mooiste trougedenkgoed sê een winkelassistent dit is alles eintlik ’n groot partytjie. Die teegoeddoeke en fudge is dadelik in my sak.

As jy gedink het elke geskenkwinkel het dieselfde memorabilia, maak jy ’n fout. Ver af in High Street kry ek ’n fopverloofring vir ’n billike R170. Daardie knewel wat aan Markle se linkerhand pryk, moet derduisende werd wees as ek na my fopring met die regte afmetings kyk.

Die winkels doen almal druk sake.

Met die uitstap by die koning Henry VIII-hek waar prins Harry en Meghan per koets die skare in die nou strate gaan trotseer, dink ek vir ’n oomblik watter gedruis op hulle wag.

Net drie dae voor die troue, en die atmosfeer is elektries.

By my aankoms was daar bykans meer kameramense op straat as polisiebeampte!

Dit is inderdaad ’n romantiese plek om te trou.

Almal doen ’n vinnige standup – net solank die majestueuse kasteel op die agtergrond is.

Dit is inderdaad ’n romantiese plek om te trou. Koninklik, dog intiem.

En met die witkastaiingbome oral in volle blom, lyk dit of die natuur sy mooiste voet voorsit vir ’n troue sonder ’n gelyke.

Brittanje se gewildste koninklike het sy prinses gekry. Ver oor die water gaan haal. Maar sy is nou hier om te bly.

Amper soos in die ou geskiedenis, toe konings en prinse hul wederhelftes uit ander lande gekry het om alliansies te vorm.

Met Windsor se strate onder my voete glip my sinisme oor Harry se huwelik sommer af Teems toe.

Ek kyk na die Britse vlae met hul gesigte op en dink: Dit bly tog maar lekker om in sprokies te glo.

Meer oor:  Koninklike Troue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.