Amper agt maande oud en alte pragtig!
Prins Harry het op Oujaarsdag hul gesin se Nuwejaarswense op Instagram gedeel met ’n kort video en ’n nuwe foto van Archie, Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se eersteling.
In die video kyk die egpaar terug op hoogtepunte van 2019: talle daarvan in Suid-Afrika toe die gesin Kaapstad en Johannesburg besoek het.
Die foto’s in die video flits verby op Coldplay se liedjie “Clocks”.
In die boodskap wens Harry en Meghan hul aanhangers ’n voorspoedige nuwe jaar toe en spreek die hoop uit dat hulle nog van hul aanhangers sal ontmoet.
Daar is gegis dat die Sussexe hul vakansie van ses weke gebruik om oor hul koninklike rol te besin. Die paartjie het ook besluit om Kersfees saam met Meghan se ma, Doria Ragland, deur te bring, eerder as die gebruiklike Kersvierings saam met koningin Elizabeth op Sandringham.
Die gesin geniet hul familietyd buite die koninklike kollig op die Vancouver-eiland in Kanada.
Inwoners van North Saanich het die paartjie in die woude sien stap en draf. Later is berig dat veiligheidswagte opgemerk en ’n herehuis op die eiland afgesper is omdat die paartjie daar tuisgaan.
Harry en Meghan het ook op Kersdag ’n foto van hulle op Instagram geplaas, met Archie wat in die kamera kyk.
Hulle het volgens die Britse Mirror op Kersdag middagete in ’n nabygeleë luukse oord geniet. ’n Suite in die oord is volgens die Mirror op kort kennisgewing vir die paartjie en hul veiligheidspersoneel gereed gemaak.