Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Harry praat in nuwe reeks oor Diana se dood

’n Duidelik emosionele prins Harry praat in ’n nuwe reeks oor geestesgesondheid oor die dood van sy ma, Diana, en sy ervaring om as 12-jarige agter haar kis te stap.

Harry se hand bewe en sy oë is rooi gehuil terwyl hy in ’n dramaties treffende lokprent vir die reeks The Me You Can’t See in gesprek met Oprah Winfrey is.

Die lokprent van twee en ’n halwe minute is Maandag uitgereik.

Harry en die kletskoningin het reeds twee jaar gelede aan die projek begin werk.

Daar is ook ’n foto-insetsel van die 12-jarige Harry wat saam met sy pa, prins Charles, broer, prins William, oom graaf Charles Spencer, en oupa die ontslape prins Philip agter die kis van sy ma stap.

Terwyl daar op ’n foto van Harry gefokus word wat stip voor hom kyk terwyl sy pa oorleun om met hom te praat, kan ’n vrouestem gehoor word wat sê: “Om mense met waardigheid te behandel, is die eerste wet.”

Harry het verlede week in ’n podsending sy lewe in die koninklike kollig bestempel as ’n kruising tussen die lewe van ’n sirkusdier en The Truman Show (in dié fliek besef die hoofkarakter nie dat hy eintlik ’n akteur in ’n televisiereeks is nie).

Harry se samewerking met Oprah vir dié reeks van vyf episodes vir AppleTV is reeds jare gelede aangekondig – voordat daar enige sprake was dat hy sou besluit om as senior koninklike terug te staan.

Ander bekendes, soos die sangeres Lady Gaga, die aktrise Glenn Close en Zak Williams, die seun van die ontslape komediant Robin Williams, neem ook aan die reeks deel.

Harry het al vantevore in ’n onderhoud gesê dat geen 12-jarige gevra moet word om agter die kis van sy ma aan te stap nie.

In 2017 het hy in ’n onderhoud met die BBC gesê hy is “baie bly” dat hy deel was van die begrafnisstoet. In dié onderhoud, wat gevoer is met die 20ste herdenking van Diana se dood, het hy ook gesê hy het nie ’n “opinie oor of dit reg of verkeerd was” om agter haar kis te stap nie, maar in terugskouing is hy bly dat hy deel van die dag kon wees.

Prins Harry kyk stip na die pad terwyl hy tussen sy oom graaf Charles Spencer en pa, prins Charles, agter Diana, ontslape prinses van Wallis, se kis stap. Prins Philip en prins William was ook deel van die vyf koninklikes wat die voorpunt van die begrafnisstoet gevorm het. Foto: Getty Images
Graaf Charles Spencer, prins William, prins Harry en prins Charles kyk hoe Diana se kis in die lykswa gelaai word. Foto: Getty Images

In die voorprent van die reeks, waarvan hy en Oprah mede- uitvoerende vervaardigers is, sê hy: “Die meerderheid van ons dra die een of ander vorm van onverwerkte trauma, verlies of droefheid, wat voel of dit – en dit is – baie persoonlik is.

“Tog het die afgelope jaar ons gewys dat ons almal in hierdie ding is, en my hoop is dat die reeks sal wys daar is krag in kwesbaarheid, konneksie met empatie en krag in eerlikheid.”

Die 36-jarige Harry is nou dieselfde ouderdom as wat sy ma was toe sy in ’n motorongeluk in Parys, Frankryk, dood is. Die motorbestuurder, wat onder die invloed van drank was, het probeer wegjaag van steelfotograwe wat foto’s van Diana en haar kêrel, Dodi Al-Fayed, wou neem.

Prinses Anne het ná Philip se dood in Maart vanjaar aan ITV gesê die besluit dat William (toe 15) en Harry deel van die begrafnisstoet moes wees, is deels beïnvloed deur Philip wat gesê het: “As julle dit doen, sal ek dit doen.”

Daar was aanvanklik nie planne dat Harry, William of Philip agter die kis moes stap nie.

William het in dieselfde BBC-onderhoud as Harry gesê dit was een van die moeilikste dinge wat hy nog ooit moes doen en dat hy agter sy lang kuif geskuil het.

Prins William en prins Harry staan op 6 September 1997 ná die begrafnisdiens van hul ma buite die Westminster-katedraal in Londen. Foto: Getty Images

Albei seuns moes na die snikke en uitroepe van histerie van lede van die publiek luister terwyl hulle van die Kensingtonpaleis na die Westminster-abdy gestap het.

Gedurende die diens is daar versoek dat die kameras nie op die seuns gerig moes word nie.

Harry, wat in die podsending verlede week ook gesê het hy wil die genetiese sirkel van pyn van sy eie opvoeding verbreek, en sy pa en grootouers se ouerskapstyl gekritiseer het, het Charles destyds in dié BBC-onderhoud geloof vir die wyse waarop hy daar was vir hom en William.

“Een van die moeilikste dinge vir enige ouer moet wees om vir hul kinders te sê die ander ouer is dood. Ek weet nie hoe jy so iets hanteer nie, maar jy weet, hy was daar vir ons.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.