Nuwe videomateriaal waar koningin Elizabeth en haar drie troonopvolgers, prins Charles, prins William en prins George, die vrugtekoekmengsel roer vir Kerspoedings, is Dinsdag deur Buckingham-paleis uitgereik.

Prins George help om die beslag van ’n Kerspoeding te meng terwyl prins William, koningin Elizabeth en prins Charles laggend toekyk. Die foto is in die musiekkamer in Buckingham-paleis geneem. Foto: Getty Images/Chris Jackson
Die viertal het verlede week, vermoedelik net voor koningin Elizabeth se jaarlikse Kersete vir die koninklike gesin, in die musiekkamer in Buckingham-paleis gehelp om die beslag vir ’n Kerspoeding te meng.
Elkeen van die vier koninklikes het ’n pennie in die bak voor hulle geplaas en papawersaad ingemeng, ’n teken van die papawers wat in November gedra word wanneer Wapenstilstandsdag herdenk word en ’n groot geldinsamelingsveldtog vir die Britse Legioen gehou word.
Die Kerspoeding vir die Britse Legioen is ’n nuwe inisiatief van dié organisasie wat lede van die gewapende magte, veterane en hul gesinslede help. Die koningin is die beskermheer van die legioen, wat in 2021 sy honderdste verjaardag vier.