
Desmond Tutu soen klein Archie Mountbatten-Windsor op sy kop, terwyl Meghan, hertogin van Sussex, haar kleinding vashou. Foto: Pool/Samir Hussein/WireImage
’n Foto van die hertogin van Sussex wat die Suid-Afrikaanse diensteonderneming Concierge Cape Town op sy Instagram-blad gedeel het, het nou die aandag van die Britse media getrek.
Die foto wys ’n glimlaggende Meghan Markle waar sy langs ’n private sjef staan.
Die foto is tydens die Sussexe se tien dae lange koninklike toer na Afrika geneem. Sjef Lee was die Sussexe se private sjef toe hulle in Kaapstad was en hy het na Meghan, prins Harry en hul seun, Archie, omgesien.
Die foto is reeds op 10 Oktober verlede jaar op Instagram gedeel.
Die byskrif lui: “ ’n Terugblik na verlede week, ons span help die koninklike gesin met hul reis in Kaapstad. Private sjef en concierge-dienste. Sjef Lee kook lekker kos vir die gesin.”
Meghan kan gesien word met dieselfde swart jeans en wit hemp wat sy aangehad het toe sy en Harry later Monwabisi-strand besoek het.
Lees ook: Pragfoto's van Harry en Meghan se Kaapse besoek
Daar het die egpaar Waves for Change, ’n nieregeringsorganisasie, besoek wat plaaslike branderplankryer-mentors ondersteun om geestesgesondheidsdienste te lewer aan kwesbare jong mense.
Tydens die koninklike toer van 23 September en 2 Oktober verlede jaar het Harry, Meghan en Archie, toe vyf maande oud, Angola en Malawi besoek, en ’n kort werksbesoek aan Botswana gebring.
Dit was die eerste amptelike toer van die Sussex-gesin ná Archie se geboorte op 6 Mei 2019.
Die egpaar het Archie ook saamgeneem om emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en sy vrou, Leah, te ontmoet.