Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Skugter George ’n volle ses!

Die ietwat skaam prins George skitter op sy jongste verjaarsdagfoto’s met ’n glimlag wat van oor-tot-oor strek.

Geklee in ’n sokkerhemp ter ere van sy geboorteland en koninkryk, Engeland, is die glimlag wat hy vir sy ma, Catherine, gee, amper aansteeklik.

Al drie die foto’s wat ter ere van George se sesde verjaarsdag Maandag uitgereik is, is deur sy ma geneem.

Prins George glimlag van oor-tot-oor vir die fotograaf, sy ma, Catherine, die hertogin van Cambridge. Dit is die eerste keer dat Catherine die amptelike verjaarsdagfoto’s van haar oudste neem. Foto: Kensingtonpaleis/Catherine, hertogin van Cambridge
Catherine het ook dié wonderlike foto van haar laggende seun in hul tuin by Kensingtonpaleis in Londen geneem. Al die amptelike foto’s wat met vorige verjaarsdae van George uitgereik is, is deur professionele fotograwe geneem. Foto: Kensingtonpaleis/Catherine, hertogin van Cambridge

Die hertogin van Cambridge neem gereeld amptelike foto’s van haar kleingoed, maar met dié foto’s is dit duidelik dat George allermins die effens skaam seuntjie is wat gewoonlik tydens koninklike geleenthede in die openbaar te sien is.

Dit is nou bygesê, wanneer hy nie saam met sy niggie Savannah Philips te sien is nie.

Dié twee het al ’n reputasie dat hulle alte lekker kan giggel wanneer hulle in die kollig is.Die tweetjies se manewales tydens die Vaandelparade in 2018 was skreeusnaaks, met Savannah wat haar hand op haar giggelende nefie se mond gesit het toe dié nie kon ophou lag nie.

Die drie Cambridge-kleingoed kyk in Junie vanjaar by ’n venster in Buckinghampaleis uit na die gewoel voor die paleis tydens die Vaandelparade, die amptelike viering van hul oumagrootjie, koningin Elizabeth, se verjaarsdag. Foto: Getty Images

’n Bedeesde prins George en prinses Charlotte in Junie vanjaar op die balkon by Buckinghampaleis met die amptelike viering van koningin Elizabeth se verjaarsdag. Foto: Getty Images
Prins William se gesig spreek boekdele! Savannah Philips sit haar hand oor haar nefie se mond in ’n poging om sy gegiggel te stop. Foto: Getty Images

En met prinses Eugenie se troue in Oktober 2018 het Savannah se namakery van ’n trompetspeler die jong prins weer aan die lag gehad. Geen wonder hul ouers het vanjaar (wyslik!) besluit om nie langs mekaar op die balkon by Buckinghampaleis te staan met die amptelike viering van koningin Elizabeth se verjaarsdag nie.

Die jong prins lyk altyd effens skugter in die openbaar, behalwe wanneer hy en sy niggie, Savannah Philips, bymekaar is. Dié foto is in Oktober tydens prinses Eugenie se troue geneem. Foto: Getty Images

Prins George en Savannah Philips, die dogter van prins William se neef, Peter Philips, tydens prinses Eugenie se troue in Oktober. Foto: Getty Images

Die derde foto van ’n effens windverwaaide George is tydens ’n gesinsvakansie geneem, maar dit is nie bekend of dié foto met die Cambridges se huidige eilandvakansie in Mustique geneem is nie.

Dié foto van prins George is geneem tydens ’n gesinsvakansie. Dit is nie bekend of die foto met hul huidige vakansie in Mustique geneem is nie. Foto: Kensingtonpaleis/Catherine, hertogin van Cambridge

Dit voel soos ’n oogwink sedert dié seuntjie se geboorte ses jaar gelede wêreldwyd nuus gemaak het.

Die eerste sien van George was dié van ’n dagoue baba met ’n rooi gesiggie. George het vermoedelik aan die huil geraak weens die lawaai van die wagtende media buite die Lindovleuel van die St. Maryhospitaal in Paddington, Londen.

Die babaprins het die Lindo-vleuel ’n dag ná sy geboorte verlaat. Foto: Getty Images
Prins George in 2014 toe hy saam met sy ouers Nieu-Seeland en Australië besoek het. Foto: Getty Images
Die rondewang kleuter het nou plek gemaak vir ’n jong seun. Dié foto is met prinses Charlotte se doop in Julie 2015 geneem. Foto: Getty Images

Sedertien het sy ouers probeer om George en sy sibbe so ’n normaal moontlik opvoeding te gee met so min moontlik blootstelling aan die media.

Hy is net soos sy pa, prins William, dol op vliegtuie, en wanneer hy in die openbaar met ’n speelgoedpistool te sien is koes tot selfs sy ma!

Dié jong prins kan beslis nie op sy skugter glimlag getakseer word nie, daarvoor sê William nie altemit dat sy seun ’n handvol is nie.

Prins George kon in 2017 tydens ’n amptelike besoek aan Duitsland nie help om sy moegheid weg te steek nie. Foto: Getty Images
Koning van die kattebak. Prins George staan in die gesinsmotor se kattebak terwyl sy ma, Catherine, besorgd toekyk. Dié foto is onlangs geneem toe Catherine en George, Charlotte en Louis prins William langs die poloveld gaan ondersteun het. Foto: Getty Images

Meer oor:  Prins George  |  Cambridge  |  Britse Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.