Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Diana se broerskind asemrowend toe sy, SA'ner trou

Lady Kitty Spencer is Saterdag in ’n asemrowende Victoriaans-geïnspireerde skepping deur die Italiaanse modehuis Dolce & Gabbana met die skatryk Suid-Afrikaanse sakeman Michael Lewis (62) getroud.

Lady Kitty Spencer (30) is Saterdagaand met die Suid-Afrikaner Michael Lewis getroud. Foto: Getty Images

Die 30-jarige Kitty, broerskind van Diana, ontslape prinses van Wallis, het nie soos haar beroemde tante die Spencer-tiara gebruik nie.

Nuus oor die troue in Frascata, Italië, het op sosiale media begin uitlek toe van Kitty se vriende plasings op Instagram begin doen het. Die trourepetisie is Vrydagaand gehou in die villa wat asemrowende uitsigte op Rome bied.

Saterdag was Kitty se blonde hare teruggekam in ’n sagte bolla laag in haar nek. Die skepping het voor en agter met honderde klein knopies gespog en ver na agter uitgeklok.

Kitty se broers, burggraaf Louis Spencer (27), en Samuel Aitken (18), die seun uit haar ma, Victoria Aitken, se tweede huwelik, het haar na die kansel begelei.

Kitty en Lewis het in Desember 2019 sonder fanfare verloof geraak, berig Tatler. Lewis se drie kinders uit sy eerste huwelik het ook die troue bygewoon.

Kitty het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Tatler gesê sy sal graag eendag kinders wil hê.

“Ek sien daarna uit om ’n regtig gelukkige gesinslewe te hê – ’n gelukkige huwelik en gelukkige kinders. En ek is baie tevrede daarmee dat dinge uitgewerk het soos dit het.”

kitty spencer
Lady Kitty Spencer en haar Suid-Afrikaanse bruidegom, Michael Lewis. Foto: Facebook/Royal Style: Fashion and Jewels
Lady Kitty Spencer se ongelooflike Victoriaans-geïnspireerde trourok herinner sterk aan dié van haar ma, Victoria Lockwood (later Spencer en nou Aitken). Foto: Instagram/@dolcegabbana
LADY KITTY SPENCER
Die asemrowende trourok soos van agter gesien. Foto: Dolce & Gabbana

Kitty het nog nooit oor Lewis in onderhoude gepraat nie, hoewel sy as handelsnaam-ambassadeur van Dolce & Gabbana gereeld in die kollig is. Haar Instagram-blad is ’n minifotosessie op sigself met foto’s en video’s van die glansgeleenthede wat sy bywoon en modesessies wat sy onderneem vir Dolce & Gabbana.

Lady Kitty se twee broers, burggraaf Louis Spencer (links) en Samuel Aitken (halfbroer), het haar na die kansel begelei. Foto: Instagram/@_althorp

Sy en haar broers en susters is ’n hegte eenheid wat gereeld ou foto’s van hulself op Instagram plaas.

Die 29-jarige Spencer-tweeling, lady Amelia en lady Eliza Spencer, het ook vanjaar hul Suid-Afrikaanse wortels opgetrek om permanent na Londen te verhuis. Amelia is verloof aan die Suid-Afrikaner Greg Mallett. Hulle beplan volgens die jongste Hello! om aanstaande jaar te trou, maar het nog nie besluit of sy en Mallett op die Spencer-landgoed, Althorp, of in Kaapstad gaan trou nie.

Graaf Charles Spencer (57), Diana se broer, en sy destydse vrou, Victoria, het hulle in Constantia, Kaapstad, gevestig met hul jong gesin. Hul egskeiding in Desember 1997 was voorbladnuus. Spencer het teruggekeer na die Spencer-landgoed en die oudste Spencers-kinders het almal in Kaapstad agtergebly vir hul skool- en universiteitsopleiding. Louis studeer wel tans in Skotland.

charles spencer
Burggraaf Charles Spencer, soos hy toe nog bekend was, en sy eerste vrou, Victoria Lockwood, tydens hul troue. Prins Harry (links) was een van die hofknapies. Victoria is in die Spencer-tiara getroud. Foto: Getty Images

Dit is nie bekend of Spencer die troue bygewoon het nie. Hy het verlede maand in ’n onderhoud met MSN verklap dat hy ’n pynlike skouerbesering opgedoen het wat sy vryheid van beweging inperk, het Hello! berig.

Dolce & Gabbana het ’n foto van die pragtige bruid op Instagram geplaas, saam met ’n kort video met nog asemrowende tabberds wat hulle vir Kitty se bruilofsfees ontwerp het.

Lewis besit huise in Suid-Afrika en het ook ’n tuiste in Londen. Dit is nie bekend waar die egpaar hul wittebrood gaan hou nie.


Meer oor:  Michael Lewis  |  Lady Kitty Spencer  |  Prinses Diana  |  Troue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.