Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Twilight-ster lyk nes Diana

Amper ’n dubbelganger! Dit is al wat ’n mens kan sê nadat die eerste foto uitgereik is van Kristen Stewart as Diana, ontslape prinses van Wallis.

Stewart is die soveelste aktrise wat as’t ware in die vel en siel van die enigmatiese Diana moet inklim.

Diana, wat in 1997 dood is ná ’n noodlottige motorongeluk, sou in Julie 60 geword het.

’n Standbeeld van haar sal vanjaar in Kensingtonpaleis se tuine deur haar twee seuns, prins William en prins Harry, onthul word.

Die laaste jare van Diana se lewe en haar besluit om in 1995 ’n TV-onderhoud met Martin Bashir toe te staan waarin sy haar bedenkinge oor haar destydse man, prins Charles, se bekwaamhede as die volgende Britse koning uitgespreek het, asook haar liefdesverhouding met die Britse soldaat James Hewitt bespreek het, was einde verlede jaar groot nuus.

Graaf Charles Spencer, Diana se broer, het ’n ondersoek aangevra na die omstandighede wat gelei het tot die onderhoud nadat dit aan die lig gekom het dat Bashir Diana met vervalste dokumente en vals inligting omgepraat het om die onderhoud toe te staan.

Selfs die diskrete dr. Hasnat Khan, wat Diana as haar groot liefde beskryf het, sê Bashir het Diana met bogstories - dat daar meeluisterapparaat in haar woning en motor was - omgepraat om in die geheim in haar tuiste in die Kensingtonpaleis met Bashir te praat.

Diana se toetrede in die vierde seisoen van Netflix se trefferreeks The Crown het nóg verdere belangstelling in haar lewe aangewakker. Die vierde seisoen is in November uitgereik.

Spencer fokus op die Kersnaweek van 1993, die voorlaaste keer wat Diana die feestyd saam met die koninklikes op die Sandringham-landgoed in Norfolk sou deurbring.

Volgens die vervaardigers van Spencer besef Diana haar huwelik met Charles is verby, maar sy hou ’n front voor.

Wat agter die mure van die rooikleurige baksteenhuis gebeur, is waarop die draaiboek sal fokus. Daar word geskenke uitgedeel, speletjies gespeel en selfs fisante geskiet.

Hoewel Diana en Charles toe reeds van tafel en bed geskei was (die aankondiging hieroor is in Desember 1992 gedoen), het sy steeds Kerstyd saam met koningin Elizabeth en ander senior koninklikes deurgebring.

Kerstyd op Sandringham is formeel en elke dag verloop volgens ’n streng skedule.

Die enigste deel van die Kersvieringe wat in die openbare oog is, is wanneer die koninklikes van Sandringhamhuis tot by die St. Maria Magdalena-kerkie stap en met die publiek gesels.

Dit is met ’n soortgelyke uitrusting, ’n rooi jas en swart hoed met net oor haar gesig as wat Diana op Kersdag in 1993 gedra het, waarin Kristen in die eerste publisiteitsfoto te sien is.

Kristen Stewart lyk amper soos Diana, ontslape prinses van Wallis, se dubbelganger in die eerste foto wat uitgereik is van die nuwe rolprent ‘Spencer’ wat later vanjaar uitgereik word. Foto: Neon

“Diana weet hoe die speletjie werk. Daar is gissinge oor buite-egtelike verhoudings en ’n opkomende egskeiding, maar vir die feestyd word die vrede gehandhaaf,” lui ’n mediaverklaring oor Spencer.

Stewart (30), ster van die Twilight-reeks, het in 2020 op Jimmy Kimmel se geselsprogram gesê sy het haar eie herinnering van Diana. “Ek was baie jonk toe sy dood is, maar ek onthou al die blomme buite die Buckinghampaleis. “Spencer is ’n blik op ’n emosionele uitbeelding van wie Diana was tydens ’n grondverskuiwende tyd in haar lewe. Dit begin met haar familienaam, Spencer. Dit is ’n fisieke stryd wat alles in haar verg om weer haarself te vind en vas te hou aan wat die naam Spencer vir haar beteken.”

Steven Knight, die draaiboekskrywer, sê hy het juis nie na The Crown gekyk nie omdat hy nie wou gehad het dit moet sy perspektief beïnvloed nie.

Diana het in 1994 haar laaste Kersfees saam met die koninklikes deurgebring en in 1995 alleen dié dag in die Kensingtonpaleis deurgebring.

Die 25ste herdenking van haar dood word aanstaande jaar herdenk.

Spencer, wat in Brittanje en Duitsland verfilm word, sal later vanjaar uitgereik word.

- Bykomende bronne: CNN, The Mirror en Variety Fair.


Meer oor:  Kristen Stewart  |  Britse Koninklikes  |  Rolprent  |  Spencer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.