Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Wêreld gons ná Zozi se kroning as Mej. Heelal

Zozibini Tunzi (26) se kroning as Mej. Heelal 2019 het Maandag almal op Twitter aan die praat gehad - van voormalige skoonheidskoninginne tot die president - wat tou staan om haar geluk te wens.

Tunzi van Tsolo in die Oos-Kaap is Maandag net ná 05:00 Suid-Afrikaanse tyd as Mej. Heelal gekroon.

Sy het met deelnemers van 90 lande in die Tyler Perry-ateljee in Atlanta in die Amerikaanse deelstaat Georgia om die titel meegeding.

Die komediant Steve Harvey het haar as die wenner aangekondig, met Mej. Puerto Rico, Madison Anderson, as naaswenner.

Tunzi se ma, Philiswa Tunzi Nadopu, en pa, Lungisa Tunzi, en haar oudste suster, Yanga, het die geleentheid bygewoon.

Tunzi, geklee in ’n Biji Gibbs-ontwerp, is die derde Suid-Afrikaner wat dié kroon wen. Margaret Gardiner is in 1978 gekroon en Demi-Leigh Nel-Peters in 2017.

Tunzi dra die “Power of Unity”-kroon.

Mej. Heelal Zozibini Tunzi is Maandag net ná 05:00 Suid-Afrikaanse tyd gekroon. Foto: Verskaf

Tunzi het ná die tyd emosioneel in ’n onderhoud gesê dat sy baie ondersteuning van Suid-Afrika gekry. “Ek bring die kroon vir julle almal in Suid-Afrika terug,” het sy beloof.

Sy sê dat sy veral gelukkig is noudat haar #heforshe-veldtog, wat oortreders van geslagsgeweld aanspreeklik hou, nou ’n wêreldwye platform kry. “Ons moet die woord aan mans daarbuite uitkry: Wees beter. Doen beter.”

Sy het in haar stemboodskap aan Suid-Afrika gesê dat dié realiteit vir baie nog nie ingesink het nie.

“Ek dink nie ek het al ooit so baie ondersteuning gehad soos toe ek die Mej. Suid-Afrika-kroon gekry het. Ek wil net sê dat ek julle almal so lief het,” sê sy.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika Organisasie, sê in ’n verklaring dat hulle verheug is, maar nie verras dat Tunzi met die louere weggestap het nie.

“Sy het op alle maniere geskitter in die voorproses in die aanloop tot Mej. Heelal. Zozi het ’n unieke voorkoms. Sy was die voorloper vanaf die begin. Ons is baie trots op haar. Sy is mooi van binne en buite.”

Nthabiseng Phoshoko, kommersiële direkteur van die LFP Group en borg van die Mej. Suid-Afrika Organisasie, sê deur met Tunzi en die organisasie te werk, was ’n eer vir hulle.

“Zozi se wen, is ’n wen vir die hele land. Sy verteenwoordig alles wat ’n rolmodel moet wees op ’n globale skaal!”

Tunzi het ook op sosiale media geskryf: “Vanaand is ’n deur oopgemaak en ek kan nie meer dankbaar wees dat ek die een is wat daardeur loop nie. Mag elke klein meisie wat dié oomblik gesien het, vir ewig in die krag van haar drome glo en hul gesig in myne sien reflekteer.”

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy twiet hierop gereageer.

“Ek hoop ook dat kinders regoor die wêreld hul gesig in joune sal sien reflekteer en geïnspireer word om in die krag van hul drome te glo. Mag jong vroue voortgaan om die ruimte op te neem en hul onuitwisbare merk op die samelewing te maak, soos jy het.”

Oprah Winfrey het getwiet dat sy saamstem met Tunzi se antwoord toe sy deur Harvey gevra is wat die belangrikste ding is wat jong meisies geleer moet word. Tunzi se antwoord was “leierskap”.

“Dit is iets wat reeds vir ’n lang tyd in jong meisies en vroue tekort skiet, nie omdat ons nie wil nie, maar oor die etikettering van vroue deur die samelewing.”

Ander voormalige skoonhede het ook ingespring en dadelik vir Tunzi gelukgewens.

Margaret Gardiner het geskryf: “Geluk Zozibini Tunzi. Zozibini Tunzi vir Mej. Heelal. Jy is Suid-Afrika se nuwe Mej. Heelal! So trots op jou! Ek het geweet dat jy dit kan doen. Jy maak ons almal baie trots.”

Demi-Leigh Nel Peters skryf op Twitter: “Suid-Afrika, sy het dit gedoen! Geluk Zozibini Tunzi. Wat ’n vrou is jy!”

Peters sê dat sy ’n doenlys vir Tunzi het, vir wanneer sy aanstaande jaar na New York trek om haar pligte as Mej. Heelal na te kom.

Rolene Strauss, Mej. SA en Mej. Wêreld 2014, het getwiet: “Mej. Heelal 2019 is ... Suid-Afrika!”

Ook Mej. Suid-Afrika 2018 Tamaryn Green, sê: “My hart swel van trots! Geluk Zozibini Tuni, ons Mej. Heelal 2019.”

Tunzi se stillis, Werner Wessels het op Instagram geskryf: “Glorie aan God! Zozibini Tuni is die nuwe Mej. Heelal!”

Die Mej. Heelal-kompetisie word Maandag om 21:00 op die DStv-kanaal 103 heruitgesaai.




Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Mej. Sa  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.